Handelinge 4:23-31
Die vervolging van die Kerk van Christus het so pas begin toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag is. Die kerk was nog maar in sy babaskoentjies, en alreeds sien ons hoedat die owerhede begin planne maak om van die kerk ontslae te raak. Jou eerste reaksie is: “Dis alles die duiwel se werk!” Miskien wel, maar dit was alles deel van God se wonderlike raadsplan! Hy het dit met ‘n groot en wonderlike doel toegelaat. In die eerste plek het hierdie dinge die gemeente in Jerusalem saamgesnoer tot ‘n hegte eenheid, want elkeen van hierdie mense het een gemeenskaplike vyand gehad: nou nie meer die Romeine nie maar die Joodse Owerhede. Later sien ons nog baie groter, asemrowende gevolge.
Wat is die gelowiges se reaksie as die Joodse Raad hulle so verskriklik dreig? Sê hulle dat die kool die sous nie werd is nie, en gaan elkeen maar sy eie paadjie? Gaan sit hulle en bibber van vrees, en kerm: “Wat gaan van ons word?” Inderdaad nee! Dit bring hulle júís bymekaar om saam te bid oor die saak.
Skielik kry die bekende Psalm 2 vir hulle ‘n splinternuwe betekenis, want nou is dit nie meer Dawid wat tot God bid oor sy vyande wat hom dreig nie, maar die Gemeente wat gedreig word deur Pontius Pilatus en Herodus Antipas, en om alles te kroon: verál die Joodse Raad, wat natuurlik die hele volk Israel verteenwoordig. Die heerser oor Galilea het saamgespan met die Romeinse prokurator en die Joodse owerheid om van die Christene ontslae te raak.
‘n Gedugte vyand vir die kerk was hulle inderdaad, soos ons wél later in die verhaal sal sien. Maar dit het die jong gelowiges geensins van stryk gebring nie. In gebed soek hulle die hulp van God, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde. Maar kyk ‘n bietjie wat vra hierdie mense: hulle vra nie dat God hulle vyande moet vernietig nie. Hulle vra eerder dat God hulle die vrymoedigheid sal gee sodat hulle die Woord kan verkondig. Hulle vra ook dat die Here hulle instrumente sal maak om Sy almag te beklemtoon deur “tekens en wonders.” Tekens verwys hier, terloops, na buitengewone dade wat gelowiges verrig om God se groot mag te weerspieël, en wonders het te make met die reaksie van die mense wat hierdie dinge sien gebeur. Hierdie tekens en wonders waarvoor hulle bid het niks te doen met menslike krag of vernuf nie, maar dit geskied alleen in die Naam van Jesus Christus. Hy alleen is die Een wat ons God se groot krag kan laat raaksien en ervaar.
Maar dit is nie net “tekens en wonders” wat groot krag het nie. Ons moet nooit die geweldige krag van gebed onderskat nie. Gebed verander dinge! Daardie eerste Christene het dit baie duidelik beleef, toe die plek waar hulle bymekaar was geskud was met die magtige teenwoordigheid van God. Die gelowiges is gevul met die Gees van God. Dit was ook die teken vir hulle dat hulle gebed verhoor is, en dat hulle die nodige hemelse toerusting ontvang het om God se werk verder te gaan doen.
Ons lees in Lukas se verslag dat hierdie mense nie nou gaan wegkruip het vir Herodus & Kie nie, maar dat hulle presies die teenoorgestelde gaan doen het, naamlik om die Woord van God met vrymoedigheid te gaan verkondig.
Die bekende spreekwoord lui: “Nood leer bid.” Ongelukkig bid ons dikwels om die verkeerde redes en vir die verkeerde dinge wanneer die nood druk. “Red my, Here!” is ons eerste reaksie wanneer dinge swaar gaan. “Gebruik my, Here!” behoort ons reaksie eerder te wees, soos wat ons in die Jerusalem-gemeente sien. Dit is juis in tye van nood waar die gelowige uitstaan en van groot nut kan wees. Om maar ‘n voorbeeld te noem: toe die regering besluit het om Godsdiensonderrig in skole te verbied, was baie gelowiges in sak en as. “Die einde van ons geloof!” het ons gekerm, en vir God gevra om asseblieftog die regering tot ander insigte (of dalk tot ‘n val) te bring. Ander gelowiges het egter gebid vir wysheid en vrymoedigheid om die kinders op ander maniere te bereik. Die gevolg was dat kinders nie nou meer teen hulle sin die Woord moes aanhoor (sonder enige positiewe gevolge!) nie, maar dat hulle vrywillig buite klastyd begin bymekaarkom het. Hulle entoesiasme het gou versprei, met wonderlike gevolge.
Ons is so geneig om probleme negatief te benader. Ons staar ons blind teen die probleem, en bid dat die probleem soos mis voor die son sal verdwyn. Dit is soveel beter om positief jou probleem na 'n uitdaging te verander. “Goed, die probleem (uitdaging) is daar! Here, wys my asseblief hoe ek die uitdaging kan benader tot uitbreiding van U Koninkryk.” Armoede het byvoorbeeld al baie positiewe resultate tot gevolg gehad, met mense wat dalk ‘n sopkombuis in ‘n armoedige gemeenskap bedryf en terselfdertyd die Woord verkondig aan daardie mense wat nou baie ontvanklik is vir die Evangelie. God bring dinge oor jou en my lewe met ‘n doel. Sien dit raak, gryp dit aan en doen iets positief deur die krag wat die Heilige Gees jou gee.
Gebed:
Here, help my asseblief om vandag my probleme positief te benader in U wonderbare krag.