Genesis 25:12-27
Abraham het diep spore agtergelaat in die geskiedenis, spore wat nooit weer uitgewis kan word nie. Vierduisend jaar nadat Abraham se stokou liggaam tot stof vermurwe het, lê sy spore steeds helder en duidelik in die geskiedenis ingegraveer. Maar wat van sy nageslag? Sy eerste seun, Ismael, was so byna-byna dood as klein seuntjie, toe sy ma met hom die woestyn ingevlug het. Maar hy het dit oorleef danksy God wat betyds ingegryp het. Hy het twaalf seuns gehad, almal sterk leiers van stamme en almal deur die bank gewelddadig. Die Bybel vertel ons dat hulle gedurig oorlog gemaak het teen die ander afstammelinge van Abraham. Soos sy pa Abraham, het Ismael ook baie oud geword, ‘n volle 137 jaar voordat hy na sy graf gedra is. Vierduisend jaar het verbygegaan, en steeds maak die nageslag van Ismael oorlog teen die nageslag van Abraham se ander kinders.
Maar wat van Abraham se lieflingseun, Isak? Wat het van hom geword? Het hy ook so ‘n charismatiese leier geword soos Pa Abraham? Oordeel maar self!
Isak trou op veertigjarige ouderdom met Rebekka, die pragtige dogter van Abraham se broer, Beteul. En weereens wil dit lyk asof die geskiedenis hom wil herhaal, want maak nie saak hoe hard hulle probeer nie, Rebekka kan net eenvoudig nie swanger raak nie. Vir twintig jaar gaan dit so aan, sodat Isak naderhand moedeloos raak. Was Rebekka die regte keuse? Het Pa Abraham se slaaf nie dalk ’n fout gemaak nie? Vra ons nie dikwels ook maar hierdie soort vrae wanneer ons ‘n teleurstelling beleef nie? Wil ons dit nie soms toeskryf aan 'n fout iewers - dalk selfs ‘n fout van God nie? Kom ons sê dit maar duidelik vir mekaar: God maak nie foute nie!
Isak wend hom tot die enigste Een wat hom kan help. Hy bid en vra die Here om asseblieftog te voorsien. Sy pa, Abraham het immers die belofte gekry van God dat daar ‘n reuse nageslag sou wees. En hierdie nageslag sou alleen kom deur Isak.
Die Here het Isak se gebed verhoor, en Rebekka raak swanger. Maar iets was nie heeltemal reg nie. Binne-in Rebekka het dit gewoel en gestamp, en sy was bang. Maar Rebekka het ook geleer dat daardie God van Abraham wáárlik God is, baie anders as al die ander gode wat sy as jong meisie aanbid het. As sy terugdink, besef sy nou dat hulle dooie gode is. Die Almagtige God is die enigste lewende God. En daarom bid sy en vra: “Here, wat is aan die gang met my? Wat gebeur binne my? Ek is bang Here!” En die Here antwoord haar, dat sy ‘n tweeling in haar dra. Maar hierdie is géén gewone tweeling nie. Uit hulle sal daar twee volke ontstaan - volke wat teenoor mekaar te staan sou kom. En dan die onverstaanbare: die oudste sal die jongste dien!
Hieroor het Rebekka sékerlik baie gewonder terwyl haar swangerskap gevorder het. Uiteindelik breek die groot dag aan. Die vroedvrou trippel om Rebekka as die geboortepyne deur haar liggaam ruk. Die uur breek aan, en die geboorteproses begin. As die eerste seuntjie sy verskyning maak, gaap die vroedvrou die babatjie aan met ‘n oop mond. So ‘n baba het sy nog nooit gesien in al die jare wat sy vroedvrou was nie. Die baba se ganse lyfie is bedek met vlamrooi hare, so asof hy ‘n veljassie aan het.
Maar wat die vrou nog groter laat skrik, is die tweede baba wat kort op die hakke van die eerste volg: Sy klein handjie is stewig geklem om die hakskeen van sy ouer boetie, so asof hy hom wou terughou en hy sélf gryp na heerskappy. Hy sou bekend staan as Jakob, die hakskeengryper, ‘n naam wat hy later in sy lewe gestand sou doen.
Die twee babas het seuntjies geword. Pa Isak het natúúrlik vir klein Esau voorgetrek. Hy was immers die eersgeborene, die draer van die belofte van God aan Pa Abraham. Esau het alles gekry wat hy wou hê, maar hierdie klein rooikop het hom nie veel gesteur aan luukshede nie. Hy was ‘n seun van die veld. As jy hom maar kry, dan was hy iewers daar buite besig om sy ding te doen. Van kleins af het hy ‘n liefde ontwikkel vir jag, en hierdie kuns het hy vervolmaak. Sy lewe was die veld.
Aan die ander kant was sy tweelingboetie ‘n regte mamma-se-seuntjie, dalk selfs ietwat verfynd. Pa Isak het nie veel erg gehad in klein Jakob nie. Hy was heeldag om sy ma se bene. En as sy kos voorberei het, was hy daar met groot belangstelling. Ma Rebekka het geglimlag as sy hom sien, want diep binne in haar het sy geweet: Esau is dalk Pa se witbroodjie, maar klein Jakob is die een wat nog héél bo gaan uitstyg in die lewe, al moet sy hom dalk ‘n bietjie aanhelp.
As ouers moet ons baie versigtig wees om nie een van ons kinders voor te trek nie. Dit kan later katastrofiese gevolge hê. Net omdat een ouer, slimmer, meer musikaal of meer sportief is as die ander, mag dit ons nie lei om meer aandag aan een te gee as die ander nie. God kan ook Sy doel bereik met ‘n kind wat na ons mening onbekwaam is. So gebruik Hy vandag selfs erg gestremde kinders in Sy Koninkryk. Kom ons kyk met nuwe oë na hoe ons ons kinders hanteer.
Gebed:
Here, gee asseblief vir ons wysheid om ons kinders reg op te voed en ewe veel aandag aan elkeen te gee.