Die Verbondsengel Kom

18 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Verbondsengel Kom

Maleagi 2:17-3:5

VIDEO * OUDIO

Maleagi begin hierdie perikoop met ‘n swaar sug: “Julle vermoei die Here met julle woorde!” Ons kan dit amper vertaal met: “Ag bly tog stil, julle pla die Here!”

Wat 'n verskriklike ding om te sê! Maar waaroor het dit gegaan? Hulle was verbitterd en hulle het aantygings gemaak dat die Here eintlik die slegte mense voortrek en dat hulle, Sy volk, wat eintlik die goeie mense is, moet swaarkry! Dis bitter onregverdig van die Here! Dan vra hulle: “Waar is die God wat oordeel dan?”

O, ons hoor daagliks daardie selfde verwytende vraag! En dan is daar gewoonlik gladnie eenvoudige antwoorde nie. Ons is só vinnig om die Here te verwyt wanneer dinge nie reg loop nie. Ons kyk met baie kritiese oë na die Here, maar ons hou onsself blind vir die dinge in ons eie lewens.

Maleagi tik die volk oor die vingers oor hulle arrogante houding teenoor God.

Maar dan maak die Here 'n aankondiging: “Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur en Hy sal 'n pad voor My gereedmaak.” Wie is hierdie “boodskapper?” Daar is twee verklarings, waarskynlik Johannes die Doper, die “wegbereider”. Dit kan egter ook heenwys na Jesus.

Hierdie was 'n baie bekende beeld in daardie tyd en die Israeliete het presies geweet wat dit beteken. Wanneer 'n koning 'n spesifieke stad sou besoek, was daar 'n groot geskarrel om die pad daarheen vir hom gelyk te maak. Al die klippe moes uit die pad en daar is groot moeite gedoen, want die paaie is gesien as 'n simbool van die koning se mag. 'n Hele span diplomate is dan ook vooruit gestuur om toe te sien dat al sy verblyfreëlings, sy programskedule, protokolreëlings, onthale ens. tot in die fynste detail beplan en voorberei is.

So is hierdie boodskapper, oftewel die Verbondsengel dan die “afgevaardigde” wat die voorbereidingswerk moet gaan doen vir die koms van die Here, die Almagtige.

Dit is só interessant as ons gaan kyk na presies hoe hierdie voorbereidings fisies gebeur het, dalk op 'n totaal ander wyse as wat 'n mens sou verwag. Dink net byvoorbeeld aan die volgende:

Toe hierdie boek geskryf is, was Israel 'n totaal niksbeduidende klein volkie wat nie eers hulle eie regering gehad het nie. Hulle praat 'n taal wat nêrens elders in die wêreld verstaan word nie.

Maar dan gebeur 'n paar dinge: Alexander die Grote se opkoms veroorsaak dat die ganse bekende wêreld kennis neem van die Griekse taal en kultuur. Dit word ook afgeforseer op Palestina. Uiteindelik is selfs die Bybel (die Ou Testament) in Grieks vertaal. En dit is hierdie Bybel wat Paulus gebruik op sy sendingreise. Dus kan al die volke waarmee hy te doene kry verstaan wanneer hy uit die Bybel aanhaal en vir hulle preek. Grieks het regoor die wêreld die algemene taal geword waarin mense kon kommunikeer.

Na die Grieke het die Romeine gekom. Hulle het 'n uitgebreide netwerk van paaie gebou en onderhou sodat plekke wat voorheen ontoeganklik was toeganklik geword het. Dit het sake baie vergemaklik vir die verkondiging van die Evangelie regoor die wêreld.

Boonop was die ganse wêreld deel van die Romeinse ryk, wat beteken het dat landsgrense verdwyn het. Enigeen was welkom in enige land.

Die ballingskap het in 'n sekere sin ook 'n rol gespeel in die voorbereiding van die koms van die Here. Oorspronklik was die tempel in Jerusalem die enigste erkende aanbiddingsplek vir Joodse gelowiges. Tydens die ballingskap, waar mense nie daar kon aanbid nie omdat hulle in vreemde lande was, het die idee begin ontstaan om sinagoges op te rig vir aanbidding. Hierdie idee het uiteindelik wêreldwyd versprei, en as daar tien Joodse mans op 'n plek was, kon daar 'n sinagoge gebou word.

Tydens Paulus se sendingreise het hy elke keer na die sinagoge in 'n stad gegaan en daar 'n aanknopingspunt vir die evangelie gekry. Daarvandaan het dit verder versprei na die heidene.

Maar vir die volk Israel was hierdie voorbereidingswerk van die Verbondsengel nie maklik nie: “Maar wie kan die koms van die Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn?” vra Maleagi.

Hierdie Verbondsengel moes suiweringswerk doen, en slegs 'n klein handjievol dissipels het dit uiteindelik deurstaan. Op Pinksterdag was daar slegs 120 gelowiges oor, mense wat dit deur die suiweringsproses gemaak het. Uit hierdie klein kerngroepie het die ganse kerk van God gegroei. Reeds op die héél eerste dag het dit met 'n verdere 3000 gegroei.

Die Here doen soms ook suiweringswerk aan my en jou. Soos wat dit vir die eerste dissipels dikwels 'n pynlike proses was, is dit vir ons ook gewoonlik pynlik. Maar aanvaar die suiwering met groot blydskap, want daaruit kan net groot dinge groei. Werk saam wanneer Hy sondes in jou lewe uitwys, en maak werk daarvan.

Gebed:

Here, dankie dat U met my bemoeienis maak en my waardig ag dat U my kan suiwer. Help my om dit met blydskap te aanvaar.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026