2 Samuel 5:9-6:11
Noudat Dawid uiteindelik koning is, gaan dit met hom baie goed. Hy neem sy intrek in sy nuwe stad, Jerusalem. ‘n Koning moet darem ‘n behoorlike paleis hê en Dawid begin beplan aan sy nuwe woonplek. Dawid betree nou die internasionale arena! Daar daag ‘n afvaardiging van die koning van Tirus op met ‘n vrag sederhout en ambagsmanne om die nodige bouwerk te kom doen. Wanneer hy sy intrek in die paleis neem, is daar natuurlik baie plek om sy gesin uit te brei, en Dawid vat vir hom nog ‘n paar vrouens en sommer ‘n paar byvrouens ook. Vir ‘n koning in daardie tyd was ‘n klomp vrouens ‘n statussimbool. Dit het egter om veel meer as status gegaan. Deur met die dogter van ‘n ander koning te trou, smee jy diplomatieke bande met daardie koning en sy koninkryk. As julle familie is, gaan die kanse dat julle sal oorlog maak teen mekaar soveel kleiner wees!
Maar dit gaan nie net goed met Dawid op huishoudelike vlak nie maar óók op die slagveld vaar hy goed. Wanneer die Filistyne verneem dat Dawid as koning van Israel gekroon is, besluit hulle om ‘n massiewe aanval op hom te loots. Van oral oor trek die troepe saam om Dawid te vermorsel. Dawid is egter héél rustig hieroor. Hy raadpleeg die Here en vra wat hom te doen staan. Dan doen hy slegs wat die Here vir hom sê om te doen. Die gevolg is dat die Filistyne baie swaar verliese ly en inderhaas op die vlug moet slaan. So haastig was hulle om weg te kom dat hulle selfs die afgode wat hulle saam met hulle gepiekel het om hulle te help om die slag te wen, nét so agterlaat!
Dis tóg ironies dat mense werklik kan dink dat dooie afgode hulle kan help! Maar dit was nie net in Dawid se tyd dat mense na afgode gegryp het nie - vandag gebeur dit steeds! En nou praat ek nie van die Hindoes wat afgode aanbid nie - ek praat van ons moderne afgode. Finansiële sekuriteit, status, dobbelhuise, mag en nog baie meer. Niks van hierdie dinge kan vir jou ware geluk bring nie.
Dawid het egter nog één gróót begeerte en dit is dat die Ark van God na die nuwe hoofstad, Jerusalem gebring word as simbool dat God die éintlike regeerder van Israel is. Dawid is baie opgewonde: dit sal gróót betekenis hê as die Verbondsark in sy stad, Jerusalem kan staan! Dit sal natuurlik beteken dat Jerusalem nie net die strategiese hoofstad word nie, maar terselfdertyd óók die Godsdienstige hoofstad!
Dawid kies dertig afdelings uitgesoekte soldate om die Ark te gaan haal en op ‘n wa na Jerusalem te bring. Maar wanneer ons hierdie geskiedenis lees, dan is daar iets wat pla - iets wat nie mooi sin maak nie. In die geskiedenis van die intog in die beloofde land sien ons met hoeveel sorg en respek die Verbondsark hanteer was. Slegs priesters was toegelaat om die ark te dra en daar was baie spesifieke voorskrifte. Nou word die Ark deur ‘n spul rowwe soldate hanteer en sommer op ‘n wa vervoer?!
Daar is egter baie groot opgewondenheid en Dawid en almal wat hierdie tog meemaak dans en sing. Daar word uitbundig musiek gemaak en dis ‘n baie vrolike geleentheid. Maar dan gebeur daar ‘n tragiese ding wat eintlik onvermydelik was. Een van die osse struikel en die Verbondsark skuif gevaarlik op die wa. Een van die twee drywers, Ussa gryp na die ark om dit te red. Hy word getref deur die toorn van God en hy sterf op die plek! Dawid skrik hom asvaal! So ‘n ding het hy nooit verwag nie! En net daar besluit hy dat hy nie verder die ark sou vervoer nie. Dit moes nét daar afgelaai word by die huis van Obed-Edom in die stad Gad. Daar sou die ark vir drie maande oorstaan voordat Dawid weer die moed kon bymekaarskraap om dit verder te neem.
Waarom was Ussa getref deur die toorn van God? Hy het dan net probeer goed doen! Was dit nie ‘n bietjie kras nie? Moontlik moet ons eerder vra waarom Dawid en sy gevolg nie óók getref was deur God se toorn nie! Dit was blote genade en vir Dawid was dit ‘n ernstige vingerwysing!
Die hele aksie was van die begin af verkeerd hanteer. Dawid het nie soos gebruiklik eers die Here geraadpleeg oor wat hy moes doen nie - hy het sommer sy eie kop gevolg. Dalk was sy motiewe ook verkeerd? Het dit dalk nie vir hom soveel gegaan oor wat God wou hê nie, maar dat die Verbondsark as simbool van God se teenwoordigheid vir homself status en aansien sou gee as dit in sy eie stad was? Dalk het hy ook gevoel dat daar ‘n soort magiese krag in die Ark was, want dis mos God se simbool. En dan het Dawid in sy gretigheid om die ark te kry gladnie ag geslaan op die voorskrifte wat God gegee het nie. Die Ark moes met die nodige respek behandel word, juis omdat dit God simboliseer.
Ons moet vandag ook steeds baie deeglik besef dat God steeds die hoogste gesag is en dat ons met baie groot respek van Hom (en met Hom) moet praat. Die tendens om sommer ligtelik oor Hom te praat en selfs grappies oor God te maak, gee my yskoue rillings! Ja, natúúrlik is Hy toeganklik deur Jesus en natúúrlik kan ek met vrymoedigheid met Hom gesels. Maar ek moet deeglik besef met Wie ek werklik te doen het en Hom die nodige respek gee!
Gebed:
Here, ek aanbid U vandag as die almagtige God. Ek besing U grootheid en majesteit. En ek eer U!