Joël 1:6-14
Die profeet Joël voorspel, in opdrag van die Here, die verwoestende sprinkaanplae wat die land sou tref.
In vers 6 en 7 kom die Here nou persoonlik aan die woord. Nou is dit nie meer slegs Joël wat ‘n boodskap oordra nie, maar die Here wat sélf praat. En dan beskryf Hy die vernietigende effek van hierdie sprinkaan-nagmerrie wat op pad is. Hy vergelyk dit met ‘n magtige volk wat in ontelbare getalle teen Sy volk gaan optrek en alles verwoes wat in hulle pad kom. Tegelykertyd vergelyk Hy dit met ‘n verwoede leeumannetjie wat Sy wingerd verwoes. Die leeu breek Sy vyebome flenters en laat dit kaalgestroop agter. Die druiweranke staan morsdood en spierwit gebleik.
Die wingerd en die vyebome is natuurlik simbool van God se volk. Dus gaan God se volk totaal verwoes word deur hierdie verskriklike katastrofe wat hulle gaan tref.
Maar wat hier gaan gebeur, raak nie alleen die volk nie maar dit raak God ook persoonlik want dit is Sy volk wat hier gaan ly.
In vers 8 is die profeet weer aan die woord en hy vra die hele volk om iets te doen aan die saak. Hulle moet rou, soos ‘n verloofde meisie wat haar geliefde verloor het. Dit is ‘n groot tragedie wat die land tref en daarom moet hulle rou. Maar wat is die eintlike tragedie? Dat hulle oeste afgevreet is? Nee, die tragedie is baie dieper-liggend. Die gevolg van hierdie sprinkaanverwoesting is dat die tempeldiens ontwrig word en dit is die grootste tragedie. Daar is nie meer ‘n graan- of drankoffer in die huis van die Here nie. Dit is verskriklik! Diens aan die Here is gestaak!
Die priesters - die manne wat die diens aan die Here moet onderhou, moet treur want hulle staan hande afgekap omdat hulle géén diens kan lewer nie. Sonder wyn, graan of olyfolie is daar niks waarmee hulle die diens kan lewer nie.
Selfs die veld sal treur, omdat dit verwoes is - tot in die kaal grond afgevreet deur die sprinkane. Alles treur selfs die natuur - alles is in rou gedompel.
Tweedens sê Joël vir die saaiboere om verslae te staan. Het jy al die gesig gesien van ‘n boer pas nadat ‘n verwoestende haëlstorm sy ganse oes platgeslaan het sodat daar niks, maar niks oorbly nie? Dit is totale verslaenheid. Sulke verslaenheid vra Joël van die boere van Israel. Ook die vrugteboere word aangesê om te kla want daar sal géén vrugte wees nie. Vir hulle beteken dit die einde van die paadjie. Maar weereens is hulle verslaenheid nie oor hulle eie groot verlies nie - oor hulle koring en gars wat vernietig is nie maar oor die tempeldiens wat ontwrig gaan word. Omdat die landerye verskrompel is, gaan daar niks wees waarmee die offers in die tempel gebring kan word nie!
Derdens beveel Joël die priesters om rouklere aan te trek, te rou en te kerm. Ja, hulle moet selfs snags hulle rouklere dra. En weereens, vir die derde maal, is die werklike rede vir hulle droefheid, omdat die tempeldiens ontwrig word. Daar moet ‘n vasdag uitgeroep word vir die hele volk en al die volksleiers en die inwoners van die land moet bymekaar kom by die huis van die Here en Hom daar aanroep.
Weereens is dit ‘n droewige prentjie wat Joël vir ons skilder. Maar dit het alles ‘n groot doel.
Wat wil die Here vir Sy volk sê met al hierdie dinge? Omdat alles toegespits word op die ontwrigting van die tempeldiens, wil die Here sê dat as die volk nie opreg bedoel wat hulle doen tydens hulle tempeldiens nie en as dit nie opreg uit die hart kom nie, dan is dit eintlik vir die Here ‘n gruwel! Hy sal dit nie duld nie!
Wat kan hulle omtrent hierdie saak doen? Is daar énigsins iets wat hulle kan doen?
Ja, inderdaad! Joël gee vir hulle opdragte om te keer dat die volk nog verder in skuld gedompel word: Hulle moet ‘n vasdag uitroep, die gemeente bymekaar bring, na die huis van die Here optrek en tot die Here roep. Hy wil vir hulle sê, dat dit dalk nog nie te laat is nie - doen dit nou!
Vir ons wil die Here vandag dieselfde sê. Die skrif is aan die muur vir die wêreld - kyk maar net hoe gaan die natuur agteruit! Op baie vlakke in die lewe dreig rampe ons - op politieke, finansiële en gesondheids terreine.
Dit is egter dalk steeds nie te laat nie. Die Here vra van ons gelowiges om waarlik weer erns te maak van ons Godsdiens. Baie gelowiges het lou geword. Ja, hulle glo steeds, maar dit is waar dit eindig. Hulle het slegs passasiers geword op die trein na die ewige lewe. Die Here wil hê dat ons waarlik skouer aan die wiel moet sit as aktiewe, werkende burgers van Sy Koninkryk. Hy wil hê dat ons liefde moet uitleef op die wyse waarop Jesus vir ons die voorbeeld gegee het. En ons diens aan die Here moet nie maar net een wees van tradisies uitleef nie, maar dit moet eerlik, diep uit die hart kom. Doen dit nou!
Gebed:
Here, ek het die afgelope tyd lou geword in my diens aan U. Gee my asseblief die krag en ywer om U waarlik te dien met my hele hart!