Die Tempel Swaai Oop

24 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tempel Swaai Oop

Openbaring 15:5-16:7

Na die wonderlike gesig van die spieëlgladde rooi see, verskuif die toneel na die tempel in die Hemel, God se woonplek. Van hier af sal die finale oordeel ge-orkestreer word. Johannes sien hoedat die tempel oopgemaak word. Nou gaan daar gróót dinge gebeur!

Die oomblik wanneer die tempelpoorte oopswaai, kom sewe engele statig uitgestap. Hulle voorkoms is asemrowend, geklee in helder blink klere wat jou opvallend baie aan die klere van priesters laat dink. Hulle taak is om die bediening waar te neem. Die engele het elkeen ‘n goue band om die bors, nét soos die band wat die hoëpriester gedra het. Dit beteken dat hulle ‘n hoëpriesterlike taak het om uit te voer.

Dan tree een van die vier lewende wesens na vore en hy gee aan elkeen van die engele ‘n goue bak. Jy sal seker nog onthou uit hoofstuk 4 dat die vier lewende wesens God se skepping simboliseer.

Die sewe goue bakke waarna hier verwys word, is die skottels waarin die brandende kole vir die wierookoffer gehou is. Hierdie bakke is egter nou gevul met die vuur van God se toorn. Ons moet onthou dat dit nie hier gaan oor ‘n bevrediging van God se woede nie, maar dit gaan oor God se heiligheid wat sonde nie kan verdra nie.

Die hele tempel word gevul met rook. Dit is egter nie die rook wat uit die bakke opstyg wat die vertrek vul nie, maar die heerlike rookgeur van God se heerlikheid en mag. Dink maar net vir ‘n oomblik aan daardie heerlike geur van die rook van Sekelbos of Mopanie wat die atmosfeer rondom jou vul wanneer jy langs ‘n vuurtjie in die bos sit. Dit vervoer jou in ‘n geestelike euforie. Dit vertel jou ook van die wonder van God se onbeskryflike skepping, en jy ruik daarin die fyn detail waarmee elke insek en grassie en ragfyn veldblommetjie haarfyn beplan is tot in die kleinste besonderheid. Dit is asemrowend salig! Nét so vul die Goddelike rook die tempel en versprei die geur van God in al Sy heerlikheid en mag en majesteit.

Maar eers moet almal geduldig wag, want al het die poorte van die tempel oopgeswaai, kan niemand daar ingaan nie. Die sewe engele moet eers hulle taak voltooi. Die sewe bakke van God se toorn moet eers volledig uitgegiet word.

Skielik roep ‘n harde stem uit die tempel: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” Dit is die bevel waarop die engele gewag het, en dan tree die eerste engel na vore om sy taak te gaan uitvoer.

Waar die basuin van die trompette die aankondiging was dat slegs ‘n deel van die aarde getref sou word, en dat daar nog genadetyd oor was, is daar nou ‘n finaliteit in God se oordeel. Die proses kan nie meer omgekeer word nie, en dit loop uit op die finale bloedige oorlog by Armageddon.

Wanneer die eerste bak uitgegiet word, word die navolgers van die dier getref met kwaadaardige en pynlike sere, en hulle verduur baie lyding. Kort daarna volg nog ’n engel met die tweede bak wat die see tref, en dit bloed laat word sodat alle seelewe doodgaan. Die derde beker tref die varswaterbronne en riviere, en maak dit totaal onbruikbaar. Hierdie twee bakke tref die aanbidders van die dier op ‘n baie teer plek: die basiese funksie van alle waterbronne.

Dit is opvallend dat ons op die oomblik besig is om die see en varswaterbronne stadigaan te vergiftig en onbruikbaar te maak op alle moontlike maniere - storting van vullis, riool, nywerheidsafval, en die nuutste natuurlik suur mynwater!

Terwyl hierdie dinge gebeur sing die engel wat oor die water waghou ‘n loflied oor God se oordeel: “U is regverdig, U wat is en was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien.”

Dan “Amen!” die engel wat oor die altaar waghou: “Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is U oordele.” Aangrypend!

Die vraag is: is God se oordeel dan onregverdig? Hy is dan ’n God van liefde, hoe kan Hy dan nou sulke verskriklike dinge doen aan die ongelowiges? Ek het al so dikwels die opmerking gehoor dat God nie so “onregverdig” sou wees om ‘n oordeel oor iemand uit te spreek nie. Met die engel se loflied wil hy sê dat die oordele en plae wat God oor die aarde stuur beslis nie onregverdig is nie.

Ons moet onthou dat die mense wat hier getref word deur God se oordeel, almal verkies het om vyande van God te wees. Hulle het die boodskap van God se genade en verlossing gehoor, maar dit afgelag en in die modder vertrap. Boonop het hulle diegene wat God se verlossing aanvaar het gemartel en doodgemaak. Is dit onregverdig dat God hulle veroordeel? Ek glo beslis nie so nie!

Gebed:

Here, saam met die engel wil ek U lof besing, want U is heilig en regverdig en genadig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026