Die Storm

6 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Storm

Jona 1:4-16

VIDEO | OUDIO

As Jona gedink het dat die opdrag wat die Here hom gegee het, om vir Nineve te gaan preek, baie erg was, dan het hy nog niks beleef nie. Dit wat vir hom voorlê op sy reis na Tarsis is ‘n menéér van ‘n nagmerrie wat sy opdrag na ‘n ou vulletjie sal laat lyk. Maar hiervan weet Jona gelukkig niks.

As profeet is Jona maar altyd in die kollig want inderdaad behels sy werk dat hy daagliks met mense kommunikeer. Maar noudat hy op hierdie skip geklim het wat hom weg van God af sal neem, onttrek hy hom totaal van alle mense en hy gaan lê en slaap onder in die skip se ruim, dáár waar niemand hom sal kry nie. Niemand sal hom híér pla nie!

Jona se hart bons opgewonde as hy agterkom dat die skip besig is om te vertrek. Daar is ‘n stewige bries van agter - hoe gouer hulle hier wegkom hoe beter! Die matrose is egter nie baie gelukkig nie, daar is iets ongemaklik wat krap! Hier is iets baie snaaks aan die wind, iets waarop hulle net nie die vinger kan lê nie. ‘n Dag gaan verby en die kaptein is in sy noppies dat hulle so vinnig vorder. Maar dan begin die wind al sterker en sterker word en die skippie word rondgeskommel deur die golwe wat al hoe hoër en hoër aanstorm. Dit is nie lank nie voordat dit ‘n opregte storm word! Hierdie manne is almal storms op die see gewoond, maar hierdie een is baie anders as wat hulle nog óóit beleef het. Daar is iets bitter onheilspellend in die lug. Vrees gryp hulle aan die harte en hulle begin paniekbevange raak. Baie gou begin hulle besef dat hierdie nie ‘n gewone storm is nie, hier is beslis iets bonatuurlik betrokke! “Dis die gode wat ons wil teister!” waag een matroos dit. Almal raak doodsbenoud: “Ja, dit is niks anders nie!” beaam almal. “Kom ons bid tot ons gode!” stel een voor en met groot gekerm en weeklaag val hulle soos een man neer om te bid, terwyl hulle moet vasklou om lewe en dood om nie van die dek afgespoel te word deur die woeste golwe nie!

Die kaptein beveel dat die vrag oorboord gegooi word om die skip ligter te maak, dalk kan dit hulle red van ‘n sékere watergraf. Tonne kosbare voorrade word in die see gegooi maar tevergeefs, niks help nie! Met elke reuse golf wat die skip tref, kreun en kraak dit asof sy enige oomblik uitmekaar gaan bars in ‘n duisend splinters. Moedverlore klim die kaptein onder in die ruim in om vir ‘n oomblik weg te kom van die geweld. Hy kan sy oë nie glo nie want onder in die donker ruim tref hy ‘n man aan wat lê en snork soos hy slaap dwarsdeur hierdie verwoestende storm deur. “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap?!” verskreeu hy vir Jona. “Komaan, gaan bid tot jou God! Ons is besig om te vergaan!”

Beneweld van die slaap strompel Jona op na die dek. Wat hy daar aantref laat hom yskoud word. Onmiddellik besef Jona dat dit God se werk is en dat hy, Jona die oorsaak is. As die manne lootjies trek oor wie die oorsaak van die storm is, is dit dan ook vir Jona géén verrassing dat die lot op hom val nie.

Alle oë is op hom en Jona moet baie hard sluk om te kan bieg dat hierdie storm gekom het as gevolg van hom, Jona die Hebreër. En dan kom hy met die hele sak patats na vore en vertel van sy opdrag en hoedat hy van God probeer wegvlug. “Gooi my in die see!” sluit Jona sy relaas af, “dan sal die storm bedaar!”

Die manne besluit egter dat hulle eerder wil kyk of hulle nie na veiligheid kan roei nie. Alles is egter vergeefs en einde ten laaste gryp hulle vir Jona en slinger hom die geweld van die golwe in.

Oombliklik is daar ‘n windstilte en die woeste see bedaar. Vrees gryp die manne aan die hart want sowat het hulle nog nóóit beleef nie! “Ons moet aan hierdie God van Jona offer!” waag een dit. Hulle voeg sommer dadelik die daad by die woord. “Hierdie God is almagtig en só anders as al die ander gode!”

Jona het iets reggekry, selfs in sy ongehoorsaamheid, iets wat niemand anders kon regkry nie. Sy dwase optrede het ‘n spul swetsende, wilde matrose na God gelei. Die wonder is boonop dat hy nie eers 'n enkele woord vir hulle gepreek het nie!

Ons verkeer dikwels onder die wanindruk dat die enigste manier om iemand na Jesus te lei, is om vir hom te gaan preek en dan laat dit jou keel toetrek en jou hart wild bons en jy hardloop weg. Deur dít wat jy doen en hoe jy lewe, preek jy dikwels baie harder vir mense. Jare gelede het die maatskappy waarvoor ek gewerk het ‘n wilde kantoorpartytjie beplan. Die uitnodigingsbriefie was uiters vulgêr en smaakloos. Ek het egter niks gesê nie maar my gesig het seker boekdele gespreek. Later kom een van die direkteure (sélf ‘n wilde vent!) en vra my groot om verskoning vir die briefie. My lewe as toegewyde jong Christen het die boodskap uitgedra wat hom skuldig laat voel het sonder dat ek nodig gehad het om ‘n woord te sê. Nie baie lank daarna nie het daardie selfde direkteur tot bekering gekom en 'n toegewyde gelowige geword.

Woorde wek maar voorbeelde trek”, lui die ou spreekwoord en dit is só waar. So byna-byna het Jona selfs daardie klein stukkie getuienis van hom oorboord gegooi, maar God het ingegryp. Moenie dat jou getuienislewe vir die visse gegooi word nie (by wyse van spreke). Lééf elke dag jou getuienis uit want jou lewe spreek baie, baie harder as jou woorde!

Gebed:

Here, help my asseblief om elke dag só te leef dat ander Jesus in my kan sien. Maak asseblief my lewe ‘n preek tot eer van U wonderlike Naam!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026