Markus 4:26-29
Vroegoggend, April 1977. Ek staan voor ons huisie op die plaas naby Welkom. Op die horison troon die grou-geel mynhope, maar hier voor my lê ‘n stoppelland uitgestrek tot amper aan die voet van die mynhope. ‘n Vervelige prentjie van niks! Net stoppels van die vorige jaar se oes. Vanoggend is daar egter iets opwindend in die lug: die gedreun van trekkers wat dáár ver in die plaaspaadjie aangewurm kom. ‘n Hele string groen, rookspuwende wurms wat neus-teen-stert aankruie kom, elkeen met ‘n reuse ploeg agter sy stert. Vandag is die dag!
In gelid slaan die trekkers hulle ploeë in die hardgebakte grond in. Dit kreun en brul en agter hulle breek die vrugbare rooi grond oop. Anderkant die land maak hulle ‘n draai, en dan kom hulle weer soos ‘n peleton soldate afgestorm, met ‘n rooi stofwolk wat oor hulle sterte hang. Op en af, op en af dreun hulle voort. As die nag kom, hou ek die ligte dop soos hulle al kleiner en kleiner word. En dan uiteindelik is hulle klaar, en ‘n doodse stilte sak toe oor die plaas.
Die volgende dag is dit ‘n gewoel en gewerskaf as al die regte doepa in die vore kom. Dan kom die planters aan die beurt en uiteindelik word die vore toegegooi.
Reën kom presies op die regte tyd, en dan begin daar ‘n bruisende opgewondenheid hier iewers diep in my maag blom. My afwagting is groot, want iets gaan aan onder die grond. Elke oggend stap ek af na die land om te sien of iets al gebeur het, maar dan moet ek net weer teleurgesteld omdraai: “Wat is fout? Waarom groei die saad dan nie?”
Maar een helder oggend sien ek dit: die grond het ‘n krakie in, net ‘n haarkrakie. Versigtig vroetel ek in die grond met my vinger. Dan slaan my asem weg: GROEN! Daar is twee piepklein groen blaartjies onder die doppie grond. Die volgende dag is die ganse land, so ver as wat die oog kan sien, bedek in ‘n sagte groen tapyt van splinternuwe blaartjies. Wat ‘n wonderwerk!
Met groot belangstelling hou ek die plantjies dop soos hulle dag-vir-dag groei en uitdy, totdat hulle later so groot is dat ek verdwaal as ek tussen die rye sonneblomplante deurloop in die aandskemer. Die groen oerwoud maak weldra plek vir ‘n see van goud, as die plante hulle reuse goue blomme oopmaak en hulle koppe draai na die son. Elke dan en wan is daar ‘n span werkers wat kom bossies uitkap of bemesting gee en die kosbare landery vertroetel.
Al té gou is hulle leeftyd verby. Té gou verdor die welige groen plante om plek te maak vir stokou, verskrompelde grys stamme met swaar, swart koppe wat grondwaarts knak onder die groot gewig van hulle saad.
Maar dan is daar een mooi oggend weer daardie opgewondenheid in my as ek die eentonige gedreun hoor. Ek hardloop uit: In ‘n groot stofwolk sien ek onder in die plaaspad ‘n lang ry reuse groen stropers aangewurm kom. Dis oestyd! Wriemelende sekels verslind die bejaarde sonneblomland, en waar hulle verby is, bly net die stoppels agter. Die swaar, swart koppe verdwyn in die groen monsters se maag, om net weer later as ‘n dik stroom pitte uitgespoeg te word in die bak van ‘n vragmotor.
Dan is alles verby. Die stropers is weg. Die vragmotors met hulle swaar vragte sonneblompitte is weg na die graanskure. En weereens sak ‘n doodse stilte toe oor die kaalgestroopte stoppelland wat amper tot teen die grou-geel mynhope strek.
En ek kry kans om dit alles te oordink. Jesus het eenmaal ‘n gelykenis vertel oor saad wat vanself groei. “Die koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi,” het Jesus gesê, “en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei.” Dan verduidelik Jesus verder dat die persoon wat saai, self nie weet hoe hierdie saad ontkiem of groei nie. Daar gebeur iets onverklaarbaar in die grond, iets waarmee hy self niks te doen het nie.
Ek en jy het die taak gekry om te saai, om die Woord van God te saai. Let wel: ons taak is nie om met groot redenasies ‘n persoon te probeer oortuig om Jesus in sy lewe toe te laat nie. Niemand sal in elkgeval ooit die kompleksiteit van Jesus se verlossingswerk verstaan nie. Dit is totaal onverklaarbaar, en om dit aan ‘n ongelowige te probeer verduidelik, is ‘n gans onmoontlike saak. Ons ken maar net die héél basiese buitelyne. Al wat Jesus dus van my vra is om te saai.
Intussen gebeur daar ‘n onverklaarbare ding in die persoon wat die “saad” ontvang het. Op ‘n bonatuurlike wyse werk die Heilige Gees in daardie persoon se lewe, en oortuig Hy hom van Jesus se verlossingswerk. En skielik, een dag, dan kom daardie groei. Ja, dis tragies dat nie almal “ontkiem” nie, en nie alma bereik volle wasdom en dra vrug nie.
Maar net soos plante versorg moet word en kunsmis moet kry en onkruid uitgeroei moet word, so is dit ook met die menslike “plante.” ‘n Nuwe gelowige wat maar net laat staan word, gaan dit nooit maak nie. Dit is ons taak as saaiers om ook gedurig na die welstand van die vrug van ons arbeid om te sien. Hulle moet aangespoor word om te groei en vrug te dra. As ons nie nasorg gee nie, het ons nog nie ons taak voltooi nie. Kom ons besin vandag oor die manier waarop ons saai en nasorg gee. God gee die groei. Ons durf nie God se werk ongedaan maak deur laksheid nie!
Gebed:
Here, dankie dat ek ook kan saai. Dankie vir so baie mense wat U aan my toevertrou het. Help my asseblief om al die nasorg te gee wat hulle nodig het.