Handelinge 24:1-23
Ons het die afgelope paar jaar hofsake beleef wat ‘n mens se hare laat regop staan. Sommige van hierdie sake was in ‘n sekere sin selfs lagwekkend, en die manier wat advokate rondgespring het om hulle saak te stel, het jou kop laat duisel.
Die Oscar Pistorius saak het die verbeelding van die hele wêreld aangegryp. Miljoene mense het die verhoor noukeurig gevolg en geluister na die slinkse manier wat die advokate inligting uit mense probeer trek het en selfs dikwels inligting totaal verdraai het.
En nou sit ons met nóg ‘n hofsaak: die Paulus-verhoor.
Paulus is in die tronk in Sesarea. Die goewerneur, Antonius Feliks, stuur ‘n boodskap na Jerusalem waarin hy die Joodse Raad ontbied vir Paulus se verhoor. Vyf dae later daag hulle afvaardiging op onder leiding van die hoëpriester, Ananias. Saam met hom is ‘n paar hooggeplaasde raadslede asook ‘n advokaat genaamd Tertullus.
Paulus gaan staan in die beskuldigdebank en Tertullus stel sy saak. Eers haal hy die heuningkwas uit en skilder daarmee kwistig rondom Feliks se mond - oor hoe vreeslik goed hy kwansuis vir die Jode is en oor al die mooi dinge wat hy vir hulle doen, en hy vertel hoe vreeslik diep dankbaar hulle is teenoor hom wat Feliks is. (Natuurlik lieg hy soos ‘n tandetrekker, want die Jode haat vir Feliks met ‘n passie - hulle kan hom nie voor hulle oë verdra nie!)
Dan kom Tertullus met sy aanklagte. Daar is drie aanklagte wat hy teen Paulus inbring: die eerste is dat hy ‘n politieke onrusstoker is wat die harmonie binne die Joodse gemeenskappe versteur regoor die wêreld. Hierdie was ‘n baie ernstige aanklag wat die vrede in die Romeinse ryk in gedrang bring.
Die tweede aanklag lui dat Paulus ‘n leier in die Nasarenerbeweging is. Hierdie ekstremiste het vir die Joodse raad baie hoofpyn besorg.
In die derde aanklag word Paulus daarvan beskuldig dat hy die tempel ontreinig het. Die Romeinse owerhede het die Jode se reg om hulle Godsdiens te bedryf, erken en selfs die heiligheidsaspekte van die tempel eerbiedig en onderskryf. Daarom het Tertullus gereken dat Feliks ‘n simpatieke oor vir hom sou hê, veral nadat die hele Joodse afvaardiging bevestig het wat hy gesê het. Hy was so seker van sy saak dat hy vir Feliks sê dat hy gerus maar vir Paulus onder kruisverhoor kan neem.
Feliks gee nou vir Paulus kans om sy saak ter verdediging te kan stel. Paulus spreek sy vertroue uit in Feliks se integriteit, en daarna verdedig hy die drie aanklagte teen hom.
Oor die eerste aanklag sê Paulus dat hy maar ‘n skamele twaalf dae in Jerusalem was, en dat dit gans onmoontlik was om daar ‘n oproer te kon reël in so ‘n beperkte tyd. Die feit is dat hy nêrens in die tempel of ‘n sinagoge met enigiemand gestry het of iemand aangehits het nie. Sy aanklaers het nie ‘n enkele bewys om hulle bewerings te staaf nie.
Oor die tweede aanklag stel Paulus dit in perspektief: inderdaad is hy ‘n leierfiguur, maar van die Christendom. Wat meer is: hierdie leer van Christus is totaal in ooreenstemming met die leer van die Jode. Hy glo steeds alles wat die Joodse heilige geskrifte sê, en boonop aanvaar hy, net soos hulle, ook dat daar ‘n opstanding en oordeel sal plaasvind.
Oor die aanklag dat hy die tempel sou ontheilig het, beskryf Paulus in detail wat hy gedoen het, en dat hy alleen na Jerusalem gekom het om te aanbid en geld te bring om die armes se nood te verlig. Hy het die nodige reinigingsrituele alles nagekom en nooit die tempel ontreinig nie. Dan merk Paulus snedig op dat die mense wat hom eintlik aangekla het - die Jode uit Asië - nie eers die moeite gedoen het om by sy verhoor op te daag nie.
Dan laat Paulus die bom bars: toe hy voor die Joodse raad verskyn het, het die aanklag teen hom alleen gegaan oor die feit dat hy aan die opstanding uit die dood glo. Hierdie aanklagte teen hom is dus almal splinternuwe aanklagte wat niks met die oorspronklike klag te doen het nie.
In plaas van om ‘n uitspraak te lewer, maak Feliks ‘n taktiese skuif: hy stel die uitspraak uit tot hy eers met Klaudius Lisias, die kommandant hieroor kon gesels. Paulus is terug in aanhouding, maar hy geniet ‘n redelike mate van vryheid. Hy kan selfs besoekers ontvang, en sy mense word toegelaat om hom te versorg.
Die Here het ‘n plan met Paulus, en selfs die beste advokaat van die Joodse raad kan nie God se plan fnuik nie - nie eers Antonius Feliks, wat bakhand staan en wag het vir omkoopgeld, kon dit regkry nie.
Wanneer ek en jy bereid is om ons geloof voluit uit te leef en te doen wat die Here van ons vra, dan is daar dikwels baie kritiek op ons lewens. Dikwels word ons veroordeel en staan ons as’t ware in die beskuldigdebank. Wéét dan een ding: God is ‘n regverdige Regter! Moenie bekommerd wees nie!
Gebed:
Here, dankie dat ek vanoggend kan weet dat U ook ‘n plan het met my lewe. Gee my die geduld om te wag dat U plan ten uitvoer kom.