Handelinge 5:1-11
Vir die jong gemeente in Jerusalem loop alles voor die wind na Petrus en Johannes se onderonsie met die Joodse Raad. Die gemeente bars uit hulle nate en enige vertrek is net eenvoudig te klein vir hulle om bymekaar te kom, dus skuif hulle na die Pilaargang van Salomo in die tempelkompleks. Nie alleen is hier baie spasie nie, maar al die verbygangers kan ook hoor waaroor dit gaan. En so groei die getalle van gelowiges by die dag aan, natuurlik tot groot frustrasie van die Joodse Raad.
Daar gebeur egter spontaan iets anders wat Petrus laat op en af spring van opgewondenheid. Die geloof in Jesus het die mense in 'n hegte band begin saambind soos in 'n groot gesin wat opreg vir mekaar omgee. In Handeling 4:32 lees ons: "Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit." Gelowiges het dus begin om hulle goed met mekaar te deel. Die armes onder hulle het nie meer gebrek gely nie, want die ander het vir hulle begin sorg. Sommige welaf mense het selfs hulle grond en huise verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir die armes te gebruik.
Maar alles was nie so sonder enige probleme nie. Daar was beslis ook maar skynheiliges onder die gelowiges – mense wat vir hulleself status wou verwerf.
So gebeur dit op 'n mooi dag dat 'n sekere man met die naam Annanias na Petrus kom met 'n baie vroom gesig. Hy verduidelik vir Petrus dat hy en sy vroutjie, Saffira besluit het om 'n eiendom te verkoop en al die geld nét so vir Petrus-hulle te gee om vir die armes te gebruik. En hiermee oorhandig hy die geld aan Petrus.
Wanneer Petrus die geld neem, voel hy sommer dadelik dat iets hier nie baie kosher is nie. En toe hoor hy die stem van die Heilige Gees in sy gedagtes: “Annanias is nie eerlik nie. Hy het net 'n gedeelte van die geld gebring en die res vir homself gehou.”
Petrus skrik hom asvaal vir die gedagte, maar hy vertrou God en konfronteer vir Annanias: “Annanias, hoekom het jy jou deur die Satan laat mislei?” vra hy vir die man.
Annanias raak wasbleek: “Hoe nou?”
“Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur voor te gee dat jy die volle bedrag gegee het, maar jy het van die geld vir jouself gehou.” Petrus is in die kol, en hy sien sommer hoe Annanias begin kleitrap.
“Annanias, die grond was joune en jy kon met die geld maak wat jy wou. Maar toe lieg jy daaroor. Jy het nie net vir mense gelieg nie, maar eintlik vir God.”
Annanias se oë rek groot. Hy skrik so groot vir Petrus se aantyging dat sy oë omdop en hy daar dood neerval.
Die gemeente is diep geskok. 'n Paar jong manne kom tel vir Annanias op en dra hom uit terwyl almal in doodse, geskokte stilte toekyk.
Saffira is intussen salig onbewus van die tragedie wat haar getref het. Eers drie ure later kom sy ewe vrolik daar ingehuppel. Sy wonder nog waarom almal haar so snaaks aankyk. Maar voordat iemand iets kan sê roep Petrus haar nader.
Vir Petrus is dit 'n bitter onaangename taak wat op sy skouers lê. Maar hy moet aan God gehoorsaam wees en dit deurvoer: “Saffira, julle het julle grond verkoop en die geld vir die kerk gegee. Was dit vir sóveel wat julle dit verkoop het?”, en hy noem die bedrag wat Annanias hom gegee het.
“Ja, inderdaad!” antwoord sy sonder om te blik of te bloos.
“Saffira, waarom het julle die Gees van God uitgetart?”
Saffira se gesig val en sy word wasbleek.
“Die manne wat jou man so pas begrawe het, staan nou by die deur om jóú ook uit te dra......”
Voor die geskokte gemeente sak Saffira daar inmekaar, morsdood.
Vrees omklem die gemeente se harte as hulle grootoog toekyk hoedat dieselfde jong manne vir Saffira uitdra om begrawe te word.
Vandag is ek en jy dalk geskok wanneer ons hierdie verhaal hoor. Is God dan nie liefdevol nie? En hier word die twee arme mense so wreed gestraf oor 'n ou leuentjie!
Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: dit gaan nie hier oor 'n “wit leuentjie” nie. Dit gaan hier oor skynheiligheid. As die gesindheid van daardie egpaar in die gemeente sou posvat, sou dit die gemeente sommer baie skade berokken.
Dieselfde dinge gebeur daagliks in ons gemeentes. 'n Voorbeeld hiervan is mense wat elke Sondag ewe heilig met vroom gesigte in die kerk sit en ál die regte geluide maak, maar Maandag by die werk is hy iemand totaal anders. Dan is hy die onverbiddelike baas wat géén genade betoon nie of die oneerlike sakeman of die persoon wat saamdoen as God se heilige Naam in die gedrang kom. Of hy leef liefdeloos. Ek dink elkeen van ons is in 'n sekere mate hieraan skuldig.
Skynheiligheid is 'n gruwel in God se oë, want daarmee wil jy eintlik sê dat God nie kan sien wat jy doen nie – dat Hy magteloos is!
Gebed:
Here, bewaar my asseblief van alle skynheiligheid!