Handelinge 15:1-34
“Broer Voorsitter, ek voel erg beswaard!” Die kerkraadsvergadering trek al hier kort deuskant middernag, en almal is moeg. My bed staan net op drie pote - die vierde poot wink verleidelik vir my om te kom slaap! Daar sak ‘n donker wolk oor die kerkraad toe as Piet Langasem opstaan om sy grief te lug. Dit is kwansuis die een of ander onding wat dan nou weer kop uitsteek in die gemeente, en wat in die kiem gesmoor moet word. Breedvoerig lig hy die broers in (daardie jare was daar mos nog nie susters op die kerkraad nie). Dit gaan oor die kleredrag waarmee mense deesdae kerktoe kom, en dat selfs die kerkraadslede begin laks raak het omdat almal se swart pakke nie meer hééltemal pikswart is nie. Dit lok ‘n hewige debat uit wat duur tot kort voor hanekraai.
Onthou jy nog daardie soort kerkraads-vergaderings? Dankie tog! Hulle is verby! Ongelukkig is daar vandag nog steeds dikwels sulke onbenullige sake wat die tyd en energie van die persone wat aan die stuur van ‘n gemeente staan, opvreet. Soms is dit iemand wat op loop gaan met ‘n gedagte, en sommer ‘n paar mense met hom saamsleep, en dan versuur hulle die ganse gemeente. Dikwels kos dit groot vergaderings, en iemand met die wysheid van oorl'e Salomo om die saak te besleg.
Ons het reeds afgelei uit die vorige paar hoofstukke van Handelinge dat dit in die gemeente in Antiogië baie goed gegaan het. Die gemeente was aan die brand, en mooi dinge het daar gebeur. Maar toe kom ‘n paar suurgesigte uit Jerusalem en kom steek ‘n stok in hulle speke. Het jy al gesien hoe hard ‘n man op ‘n baaisiekel val as iemand ‘n stok in sy voorwiel se speke gooi terwyl hy volspoed ry? Nou ja, toe kom hierdie suurgesig-manne vir hulle preek. Die gemeente is kwansuis op 'n groot dwaalspoor, want Moses word verontagsaam! Dit sou net reg wees dat die heidene dan nou ook ál Moses se wette moes onderhou. Hulle moes selfs besny word! Toe ruk die hele gemeente skielik tot ‘n onverwagse stilstand. Dit lok ‘n hewige debat uit, want skielik moet die mense wat nog nooit met die Joodse gebruike te doene gekry het nie, hierdie rituele nakom. Dit is veral die besnydenis waaroor die kabaal gegaan het, want hierdie manne wou beweer dat jy sonder die besnydenis nooit gered kon word nie. In my jong dae sou ‘n vrou wat sonder ‘n hoed in die kerk kom, óók totaal verlore wees!
Paulus en Barnabas is die twee wat dadelik sien waarheen hierdie ding op pad is, en hulle roep halt. Hierdie onding kan alleen deur die “sinode” opgelos word! ‘n Kerkvergadering in Jerusalem, waar al die kerkleiers teenwoordig is, is ál oplossing om die probleem vir eens en altyd uit te stryk. En so vaardig die gemeente in Antiogië die twee ou staatmakers asook nog ‘n paar leiers af om met die ringkoppe in Jerusalem te gaan vergader.
In Jerusalem aangekom, is Paulus en Barnabas baie opgewonde. Hulle vertel vir die gelowiges van die wonderlike dinge wat besig is om te gebeur in die buiteland, en van al die heidene wat gelowig word. Daar is egter ‘n paar ou suurknolle wat alles vanuit ‘n negatiewe hoek beskou: “Maar die heidene moet besny word, anders beteken alles net mooi niks!” Só kerm een ou klakous.
“En wat van die wet van Moses?” wil ‘n ander suurpruim weet. “Kyk, ek is ‘n Fariseër, en ek is van kleintyd af al geleer dat as jy nie die wet van Moses tot die laaste tittel en jota nakom nie, dan gaan jy reguit hel toe!”
Op die kerkvergadering is dit liewe ou Petrus wat met sy immergroen wysheid die saak kom red. Die Here het hom immers al lankal in ‘n wonderlike visioen gewys wat reg is. “Wil julle nou die verskriklike juk van Moses se wette, wat ons terloops self nie eers kan nakom nie, op die arme heidene gooi?” wil Petrus weet. “Ons glo mos dat slegs die Here se genade ons kan red, en natúúrlik geld dit ook vir die heidene. Broers, moenie dit vir die heidene moeilik maak nie!” So pleit Petrus.
Die vergadering is dit eens: Petrus is heeltemal reg! Buiten vir enkele dingetjies, soos byvoorbeeld afgodsoffers, wat darem te afgryslik vir ‘n Jood is, word Petrus se voorstel aanvaar. Die afgevaardigdes kry ‘n brief wat die besluite uiteensit om na Antiogië te neem.
Ek dink dit was ‘n uitbundige en baie verligte Paulus en Barnabas en hulle reisgenote wat die pad al huppelende terug geneem het Noorde toe.
Ag, ons laat ons steeds so dikwels aan bande lê deur allerhande moets en moenies in die kerk. So baie male word ons kosbare tyd en energie vermors deur absolute onnodige sake. Petrus het vir ons alles opgelos, deur te sê dat al die tradisies, wette en rituele ons absoluut niks in die sak kan bring nie. Ons probeer ons aanbidding te gekompliseerd maak. Kom ons hou dit eenvoudig, en vergeet van al die tierlantyntjies. Jesus het dit immers sélf so verskriklik eenvoudig gestel: “Hy wat die Seun het, het die Ewige Lewe. Hy wat nie die Seun het nie, het nie die Lewe nie.” Dis al!
Gebed:
Here, dankie dat U dit vir ons so maklik gemaak het om die Ewige Lewe te erf, en dat dit nie ons eie goedheid en werke is wat ons in die hemel kry nie, maar U wonderlike genade alleen.