Die Saaier

19 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Saaier

Matteus 13:1-23; Lukas 8:4-15

Johannes se gedagtes dwaal baie ver, hier waar hy as balling op die eiland Patmos sit. Ja, hy trek nou al diep in die negentig. Die Here was vir hom baie goed!

Hy dink weer terug na die tyd toe hy ‘n jong, energieke mannetjie was, die tyd saam met Jesus. Wat hy die meeste geniet het, was die stories wat Jesus vertel het. Hy het gehang aan Jesus se lippe, elke keer as daar ‘n storie kom. O ja, hy het tóé nie altyd verstaan wat die storie werklik beteken het nie, maar later het die liggie wel vir hom opgegaan.

Die wonderlike was dat Jesus dinge uit die alledaagse gebeure gebruik het om Sy stories te vorm, soos dié slag met die saaier. Hulle het die dag daar teen die berghang gesit. ‘n Ent daarvandaan was ‘n boer besig om sy grondjie om te ploeg en koring te saai. Johannes het die glimlag om Jesus se mond sien vorm, en toe vertel hy die storie.

Eendag het ‘n boer na sy land toe gestap met ‘n sak saad. Hy het begin saai, maar alles het nie so goed verloop nie. Die wind het van die saad weggewaai en dit het in die pad beland. Dít wat nie deur die verbygangers vertrap is nie, is deur die voëls opgevreet. In die middel van sy land was daar ‘n klipbank. Party van sy saad het hierop beland. Dit het nou wel ontkiem en gegroei, maar uiteindelik is dit deur die son doodgeskroei. Nog ‘n deel van die boer se saad het tussen die bossies beland. Skaars het dit begin groei, en die plantjies was doodgewurg deur die bossies.

Johannes voel skoon moedeloos. Die arme boer! Dit wil vir hom voorkom asof net mooi niks vir hom reggeloop het nie. Maar Jesus se storie is nog nie klaar nie, want dan vertel hy van die saad wat in die goeie grond geval het. Daardie saad het gegroei en uiteindelik ‘n groot oes opgelewer.

Johannes was só aangegryp deur hierdie storie, dat hy eintlik so skelm ‘n traantjie moes wegpik toe die ander nie kyk nie. Maar hy kon nie mooi die kloutjie by die oortjie sit nie. Hy besef maar ál te goed dat die storie ‘n baie dieper betekenis het, maar hy kan net eenvoudig nie die boodskap insien nie. “Meester? Ek verstaan nie!” Johannes staan met ‘n groot vraagteken op sy gesig. “Hierdie stories is baie mooi, maar die mense verstaan nie wat dit beteken nie.”

Jesus sug swaar: “Johannes, julle is uiters bevoorreg. Julle het die vermoë gekry om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken. Maar hulle,” en Hy beduie na die skare, “hulle het nie daardie vermoë nie. Hulle kyk, en hulle sien nie. Hulle hoor en luister, maar hulle verstaan nie. Die profeet Jesaja het dit alles voorspel.”

Nou verstaan Johannes nóg minder. Daardie aand om die kampvuur moes Jesus verduidelik wat hierdie gelykenis beteken, en dat dit eintlik ‘n geestelike betekenis het. Hy verduidelik dat die saad God se Woord is. Party mense wat hierdie Woord hoor, is soos ‘n klipharde pad, waar die Woord nie enige kans het om te ontkiem nie. Dit gaan net by hom verby. Party mense is soos die klipbank. Hulle hoor die woord en hulle is opgewonde. Maar hy vergeet baie gou weer daarvan sodra dinge bietjie swaar gaan, en dan gaan die boodskap in hom dood.

Dan is daar die onkruid-mense. Hulle aanvaar die Woord, maar die wêreldse dinge weeg nog te swaar by hulle. Die sonde-bossies wurg die Woord baie gou dood in hulle.

Die goeie nuus is egter dat daar wél mense is wat soos vrugbare grond is, waar die Woord in hulle groei. Daardie mense dra uiteindelik wonderlike vrugte. Johannes besef maar ál te deeglik dat sy lewe soos daardie goeie grond moet wees. Hy durf nie toelaat dat klipbanke en onkruid sy lewe oorheers nie!

n Salige glimlag sprei oor die ou man se mond. Johannes het intussen ook ‘n ander betekenis van hierdie gelykenis ontdek, een wat hy oor baie jare met groot vreugde toegepas het.

Dit werk so: ek is eintlik die boer, die saaier, en die Here het ‘n sak Woord-saad aan my toevertrou. Dikwels wil ek moedeloos raak wanneer ek die Woord met ander wil deel, maar hulle weier om selfs te luister. Dis nou die saad wat op die pad val. Of diegene vir wie ek die Woord saai is sommer dadelik opgewonde, maar daar is g’n diepte nie, en gou vergeet hulle. Maar die boodskap van Jesus is dat ek moet aanhou saai en nie moedeloos word nie. Selfs as my saad tussen onkruid beland, moet ek steeds voortgaan, want iewers sal my boodskap wat ek saai wél op vrugbare grond val. Dan sal daar vrug op my arbeid wees.

Ek moet net nóóit moedeloos raak nie. Dis nie ek as persoon wat verwerp word nie, maar God. Dit is ‘n saak tussen Hom en die persoon wat die saad ontvang het.

Johannes het baie gesaai, baie van sy saad het verlore gegaan. Maar miljoene mense was vrugbare grond.

Gebed:

Here, maak my asseblief ‘n saaier wat nooit óóit sal moed opgee nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026