Die Saaier

18 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Saaier

Markus 4:1-20

VIDEO * OUDIO

Dis vroegoggend, en Jesus stap rustig saam met sy groepie dissipels op die strand van die see van Galilea, terwyl Hy hulle leer. Dis nie lank nie, of iemand gewaar hulle. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand, en binne ‘n ommesientjie stroom mense van oral oor om die Groot Profeet te kom sien. Hééltemal te gou word hulle rustige wandeling kortgeknip wanneer ‘n reuse skare om hulle saamdrom, en hulle totaal verdring. Jesus word gedwing om in ‘n skuit te klim. Simon Petrus en sy manne stoot die skuit in die rustige water van die meer in, sodat dit ‘n paar meter van die strand af dryf.

Wanneer Jesus oor die honger skare kyk, sien Hy in die verte ‘n plaasboer besig op sy landerye. ‘n Jong seun worstel agter ‘n ploeg aan, getrek deur ‘n os. Die grond is maar baie klipperig, en kort-kort moet die seun ‘n wye es gooi om die groot rotse in die land te vermy. ‘n Ent agter die seun kom Pa aangestap met ‘n leer saadsak wat oor sy skouer hang. Ritmies word die hand in die sak gesteek en met ‘n swierige swaaibeweging word die saad behendig gestrooi, soos jare se oefening hom geleer het. “Hoeveel van daardie saad val ooit werklik in die ploegvore?” vra Jesus so half in die lug.

“Meester?” Petrus het nie die vaagste idee waarvan Jesus nou praat nie. Wat het saad en ploegvore dan nou te doen met die skare hier op die strand?

Dan begin Jesus vir die mense op die strand ‘n storie vertel: “Luister, julle!” roep Hy hulle tot stilte. “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai.” ‘n Doodse stilte sak oor die mense toe. Oopmond sit hulle en luister terwyl Jesus vertel van die saaier se saad wat nie altyd so veilig in die ploegvore val nie, maar dat baie saadjies op ander plekke val: op klippe; op die pad; tussen bossies. Niks van hierdie saad word ooit ‘n plant wat koring voortbring nie. Slegs die saad wat in die vore land, groei suksesvol en word uiteindelik vrugbare plante wat ‘n groot oes lewer. “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” sluit Jesus die storie af.

Op baie gesigte is daar ‘n groot vraagteken. Ja dit was ‘n mooi storie, en hulle kan hulleself daarmee vereenselwig. En ja, dit is baie waar dat die saad nie altyd val waar dit moet val nie. Een plaasboer hier in die voorste ry stem heftig saam met Jesus. Hy het al baie saad so verloor. Maar wat kan ‘n mens nou maak? Dis mos maar die lot van ‘n plaasboer!

Laatmiddag, wanneer die laaste mense wegstap terug huistoe, bly nog net ‘n handjievol manne oor by Jesus, die twaalftal wat Hy vroeër gekies het en nog ‘n klompie getroue volgelinge. Dan waag een dit: “Meester, hierdie was ‘n mooi storie, maar wat wou U nou éintlik hiermee sê?”

Dan verduidelik Jesus vir hulle presies wat die betekenis is. Die vraag is nou: wat sê hierdie gelykenis vir my en jou vandag in ons moderne samelewing?

Ons is van kleins af geleer dat hierdie mooi gelykenis beteken dat dit ‘n oproep is aan die mense wat die Woord hoor. Jy moet die regte reaksie toon wanneer die Here met jou praat deur Sy woord. Jy moet as’t ware daarna streef om die “goeie grond” te wees, sodat die saad van die Evangelie wat in jou lewe gesaai word, sal groei tot volwassenheid en sal vrug dra. En dit is heeltemal reg ook.

Maar daar is ‘n tweede betekenis wat nét so belangrik is. Dit gaan nie noodwendig slegs oor die ontvangers van die saad nie, maar óók oor die saaier, die persoon wat die goeie nuus verkondig. Hierdie gelykenis dien om diegene wat die saad van die woord saai te bemoedig in hulle arbeid. Persoonlik kan ek vanoggend bely dat ek al menigmaal uiters teleurgesteld was wanneer ek die Woord gesaai het, en dit was net eenvoudig verswelg deur die onkruid. Of dit lyk vir my asof my boodskap met blydskap aanvaar word, en daar is groot vreugde, maar ‘n maand of twee later het alles verdor, nes die saad wat op die klip geval het, en die pragtige jong plantjie deur die son verskroei is. Dit maak ‘n mens moedeloos!

‘n Leraar kan Sondag-na-Sondag op die kansel staan en die Woord verkondig, maar aan die einde van die dag voel dit vir hom asof daar net mooi niks gebeur het nie. Die gemeentelede is nog steeds verdeeld; hulle skinder steeds van mekaar; sy woorde het tussen die distels geval!

Hierdie gelykenis wil die saaiers bemoedig, en aanmoedig om aan te hou met saai. Ja, daar sál saad op die pad, tussen die bossies en op klippe val. Maar dan moet jy wéét dat daar ook saad sal val in die ploegvore, en daardie saad gaan groei tot volwassenheid en vrug dra. Moet nooit óóit ophou met jou saai-pogings nie, al voel jy soms moedeloos. En moet nooit óóit ophou om die Evangelie uit te dra nie, want iewers is daar iemand wat nét wag vir daardie boodskap van jou.

In Markus se tyd was hierdie gelykenis ‘n bemoediging aan die hele gemeente, want almal het deelgeneem aan die saaiproses. Dit was nie nét die leraar wat gesaai het nie. Vandag wil hierdie gelykenis nie alleen die leraar bemoedig nie, maar elke “gewone” gelowige aanmoedig om deel te word van die saaiproses. Kom, saai saam! God sál vrug gee op ons arbeid!

Gebed:

Here, dankie vir hierdie wonderlike bemoediging, dat my arbeid nie verniet is nie. Dankie dat U vrug gee op my arbeid, al sien ek dit dikwels nie eers raak nie. Gee my asseblief die deursettingsvermoë om aan te hou saai.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026