Lukas 8:4-15
Jesus se preke moes absoluut asemrowend gewees het. Lukas vertel hier dat “’n groot menigte” van al die verskillende dorpe in die omgewing gekom het om na Jesus te luister. Dit klink amper soos die ou nagmaalsgeleenthede waarvan Oupa my vertel het. Op Machadodorp het die mense elke drie maande saamgetrek en sommer vir ‘n week aanmekaar kerk gehou. Dit was gróót makiti. Die boere het met ossewaens daar opgedaag en tent opgeslaan op die kerkterrein en kerk gehou dat die byle huil!
Jesus se preke was nie hoogdrawend soos die groot geleerdes s’n nie. Hy het eenvoudig en op die man af gepraat in ‘n taal wat die gewone mense verstaan. Hy het beelde gebruik van dinge waarmee hulle elke dag te doene gekry het om vir hulle waarhede tuis te bring. Ten spyte hiervan was daar steeds baie mense wat dit gehoor het en nie verstaan het nie. Selfs vandag nog is daar baie mense wat Jesus se gelykenisse verkeerd verstaan of dalk gladnie wil verstaan nie omdat die gelykenisse te eenvoudig is.
Een voorbeeld is die eenvoudige storie van die saaier wat Jesus hier vertel het. Later het Sy dissipels hom uitgevra oor die betekenis van die gelykenis. Jesus was geduldig en toe verduidelik Hy dit breedvoerig vir hulle.
Dalk moet ons weer ‘n slag gaan kyk na presies wat hierdie gelykenis in vandag se moderne terme vir ons beteken. In my geestesoog sien ek die prentjie wat Jesus skilder, die boer wat besig is om te saai, saadsak op sy heup en elke paar treë vat hy ‘n handvol van sy kosbare saad. Sy treë is afgemeet sodat hy nie dalk party plekke minder saad gooi as ander nie. Die probleem is egter dat die land nie lyk soos ‘n Vrystaatse mielieland nie, maar dit is ‘n tipiese kleinboer-land besaai met groot rotse wat hy nie kon uithaal nie. En plek-plek het die halsstarrige bossies ook nog hulle deeltjie afgekleim. Die boer saai wyd, en natuurlik val al sy saad nie netjies in die voortjies nie.
Sondag-na-Sondag word die Saaier se saad in ons harte gestrooi wanneer ons luister na die Woord van God wanneer dit gepreek word van die kansel af. Ons kry elke dag dosyne dagstukkies en boodskappies op E-pos en Whatsapp. Sommige van hulle praat baie hard met ons! Dis nog steeds van daardie selfde saad. Wanneer ek stiltetyd hou, word die saad weereens gesaai. Daar word ‘n reuse kongres vir manne gehou, en die saad word weer mildelik gesaai. Die vraag is: groei daardie saad ooit?
Nee, vanoggend is die vraag nie oor wat ander mense maak met daardie saad nie. Kom ons maak dit ‘n persoonlike ding, en ons gaan kyk ‘n bietjie wat ek sélf daarmee gedoen het!
Jesus vertel van saad wat op die pad geval het en wat summier deur voëls opgepik is en nie eers kans gekry het om te ontkiem nie. Nie een van ons kan vandag sê dat ons nie die Woord gehoor het nie. Inderdaad het ek ook die Woord vir baie jare al gehoor! Uit my eie lewe kan ek getuig dat ek vir 24 jaar lank soos ‘n klipperige pad was waar die saad net opgepik was. Vandag kan ek die Here net dank dat Hy my oë daardie tyd oopgemaak het!
Die tweede ontvanger wat Jesus beskryf is soos ‘n klipbank waar daar wél ‘n dun lagie grond is. Die Woord skiet wortel en groei vinnig, maar dan skielik is al die grond uitgeput omdat daar nie diepte is nie. Is daar diepte in my eie lewe? Ek het al dikwels mense hoor kla dat hulle nêrens in die geloof kom nie. Baie gee moed op. Dit kos harde werk, deursettingsvermoë en dissipline om werklik diepte in jou geloof te kan kry.
Die derde ontvanger is die een waar die onkruid welig groei en die saad verstik. Daar is niks wat jou geloof so vinnig kan aftakel as die wêreldse dinge nie. Wilde partytjies, dobbelhuise, slegte geselskap - jy kan net eenvoudig nie twee Here dien nie! Na ‘n aand in die kroeg saam met die manne, waar vieslike grappe, te veel drank en vuil of Godslasterlike taal die botoon gevoer het, voel jy vuil en wil jy beslis nie met die Here gesels nie! Is daar onkruid in my lewe wat besig is om my verhouding met die Here te vertroebel?
Die vierde porsie saad het op vrugbare grond geval. Ek glo dat die oorgrote meerderheid van ons vanoggend kan getuig dat ons daardie vrugbare grond is, en dat ons plantjies welig groei. As dit wél die geval is, dan moet die oes dit wys! As ek myself as die vrugbare grond sien, dan moet die resultaat wys in die vrug wat ek dra. As ongelowiges na my lewe kyk, wek dit by hulle ‘n honger om ook daardie lewe te hê? Was ek al die oorsaak dat iemand tot geloof gekom het? Lyk my lewe soos dié van iemand wat Jesus waarlik liefhet? Is die vrugte van liefde waarvan Paulus in 1 Kor 13 skryf deel van my lewe? As hierdie dinge nie teenwoordig is nie, dan moet ek diep gaan besin, want dalk is ek nie die vrugbare grond wat ek altyd gedink het ek is nie........
Gebed:
Here, ek staan vanoggend skuldig, want die vrugte wat ek behoort te dra, die dra ek nie. Ek wil graag vrugbare grond vir U wees!