1 Timoteus 4:1-6
Daar was eenmaal ‘n haan op ‘n plaaswerf, ‘n rooie met sulke mooi goue haailaaits wat sy blink veredos ékstra blink maak, en hy het op sy kop die kroon gedra van ‘n trotse bloedrooi kam wat windmakerig kiertsregop staan. As Haan oor die werf stap, dan weet almal: hier kom die baas! Wat Haan gesê het was wet, en niemand durf met hom stry nie. Die hen wat hom sou teëgaan het met sy geniepsige spore te doene gekry. Haan se grootste taak in die lewe was om te sorg dat die son elke oggend opkom. Kort voor dagbreek het hy tot op die bopunt van die stellasie geklim, en dan het hy uit volle bors gekraai, sodat dit weergalm oor die werf. En dan het die son wakker geskrik en opgekom. Al die diere op die werf het met groot respek en ontsag toegekyk hoedat Haan die son uit die grasveld laat verrys.
Op ‘n mooi dag verjaar Vark, en hy gooi ‘n groot partytjie. Tot laatnag het dit gerinkink, en natuurlik was Haan weer die voordanser. Maar toe gebeur die tragiese ding in Haan se lewe: die volgende oggend verslaap hy totaal. Toe Haan die slaap uit sy benewelde oë vryf, sien hy tot sy ontsteltenis dat die son alreeds hoog sit. Haan skrik so groot dat hy bo van die stellasie afval sodat sy pragtige stertvere morsaf breek. Tot sy groot skok moes hy uitvind dat dit toe nooit hý was wat die son laat opkom nie! Skielik het die werfdiere se respek vir hom soos mis voor die son verdwyn. Haan was verslae! Nooit weer was hy dieselfde nie!
As ‘n mens die leiding wil neem in ‘n gemeente, moet jy uiters versigtig optree. Paulus bestee die meeste aandag in sy brief aan hierdie onderwerp, en dit is veral die leraar wat onder die vergrootglas kom. Hy praat direk met Timoteus, maar op inspirerende wyse praat hy ook met elkeen wat geroep is om leiding te neem in ‘n gemeente. Haan moes op die harde manier leer dat hy nie die son laat opkom het nie, maar dat hy slegs die boodskapper was van die son se verskyning. Dat hy boonop al die jare ‘n dwaalleer verkondig het! Hy was ook nie verhewe bo die ander diere nie, al het hy so gedink. Op dieselfde wyse moet ‘n leraar elke oomblik daarvan bewus wees dat God die ware hoof van die gemeente is, en dat hy slegs die boodskapper is wat namens die Here die leiding neem. Hy is nie verhewe bo die gemeente, of buite hulle nie, maar deel van hulle. Saam met die gemeente moet hy aan God se doel beantwoord.
In die eerste paar verse van hoofstuk vier praat Paulus oor die bedieningsomstandighede van ‘n leraar. Gelowiges word herhaaldelik gewaarsku teen die moeilike omstandighede waaronder die bediening sal plaasvind in die tyd voor Jesus se terugkeer. Die duiwel is bitter omgekrap oor die situasie, en hy wend ‘n laaste wanhopige poging aan om die kerk te laat sink. Hy misbruik selfs leraars om die kerk van God te probeer vernietig, deur hulle wys te maak dat sekere Bybelse waarhede mites is. Dikwels gaan hulle voort en verkondig dan die valse leerstellings. Aan die begin is hulle onseker, en hulle gewetens pla. Algaande begin hulle egter vas glo dat hulle dwaalleer die waarheid is. ‘n Voorbeeld hiervan is diegene wat Jesus se maagdelike geboorte asook Sy opstanding bevraagteken. Hulle werk kan dalk baie goed deur Paulus beskryf word in 1 Tim 4:1: “Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.” Hy sê verder: “Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.”
In Paulus se tyd was een van die seer sake dat sekere leraars die ou Joodse wette weer wou toepas, veral die wette oor wat jy mag eet en watter kos sonde is. Vandag moet ‘n leraar steeds versigtig wees om nie sonde te preek waar daar nie sonde is nie! Sonde lê nie in die dinge nie, maar in die hart. Jy kan alles op aarde geniet MITS dit volgens die Bybel toelaatbaar is en jy dit doen as deel van ‘n gelowige verhouding met God, ’n verhouding wat behels dat jy alles meet aan die Woord, en Hom daarvoor dank.
Die vraag is: wat behoort die leraar dan te preek? ‘n Goeie leraar moet weet dat hy ‘n dienaar van die opgestane Christus is, en dat hy dus te alle tye Christus se verwagtinge aan die gemeente moet voorhou, selfs al hou hulle nie daarvan nie.
‘n Leraar kan egter nie net altyd gee nie. Hy sal uitbrand as hy nie ook gevoed word nie! Daarom moet hy self die dinge wat hy preek navolg en aanhang. (Die dagstukkies wat ek skryf praat dikwels baie harder met myself as met die lesers!)
Ek dink dit is ook baie, baie belangrik dat lidmate in ‘n gemeente ook die geestelike nood van ‘n leraar sal raaksien. Dikwels het hy ook die dringende behoefte om sy hart uit te stort teenoor iemand wat bereid is om te luister. Die geleerdes sê dat ‘n predikant die beroep het wat die hoogste stresvlakke behels. Dag na dag moet hy luister na ander se probleme, en moet hy troos en bemoedig en ander se laste op sy skouers dra. Wanneer hierdie dinge te veel word, het hy iemand nodig wat hom kan bemoedig en sy hande sterk maak.
Gebed:
My gebed gaan vanoggend uit na elkeen wat die Woord verkondig. Here, gee hulle asseblief wysheid en krag om blymoedig voort te gaan met hulle taak.