Lukas 24:13-35
Wat hou die nuwe jaar vir ons in? Die afgelope twee jaar was maar droewig met die verskriklike pandemie wat ons getref het. En dit lyk nie asof daar ‘n einde aan is nie! Elke keer nés dit lyk of dit einde se kant toe staan, dan tref ‘n nuwe vlaag ons met splinternuwe, vreesaanjaende mutasies! So moes dit vir die twee arme Emmausgangers seker ook gevoel het.
Ons verhaal begin vanoggend met twee droewige manne wat op pad is. Dit is Sondagmiddag en hulle harte is baie swaar waar hulle loop en gesels oor die verskriklike en uiters onverstaanbare dinge wat die afgelope paar dae gebeur het. Eers was Jesus, die wonderlike Meester vir wie hulle die afgelope ruk gevolg het, deur die Joodse leiers gevang en tereggestel! En vanoggend kry hulle die verskriklike ontstellende nuus dat Sy liggaam nou ook onverklaarbaar verdwyn het! Hulle verstaan hierdie dinge net eenvoudig gládnie. Niks maak meer sin nie!
Kleopas en sy vriend het sulke hoë aspirasies gehad! Hierdie Messias was dié Een - so het hulle tenminste gedink - wat hulle sou verlos van die Romeinse oorheersing. Daardie dag toe hulle Jerusalem triomfantlik binnemarsjeer het - was dit nie wonderlik nie! Maar toe begin dinge skeefloop en die kerkleiers het al heftiger teen die Messias begin reageer.
Enkele dae later verkrummel al hulle drome toe Hy gevange geneem word en soos ‘n misdadiger aan die vloekhout-kruis sterf. En nou, vanoggend se ontstellende gebeure! ‘n Paar vroue het vertel dat hulle engele gesien het wat glo vir hulle sou vertel dat Jesus opgestaan het. Verbeel jou! Hulle was seker so ontsteld oor die leë graf dat hulle vir hulle dinge begin verbeel het! Petrus en Johannes het ook gaan kyk na die graf, en die onverklaarbare ding is dat hulle die doeke gekry het waarin Jesus toegedraai was. Waarom sou enigiemand die liggaam vat sonder die doeke? Hulle kan dit net eenvoudig nie verstaan nie!
Hierdie dinge het die twee manne só ontstel dat hulle besluit het om liewer uit Jerusalem pad te gee. Hulle bestemming is die dorpie Emmaus, sowat drie ure se stap van Jerusalem af. Hulle het alle hoop verloor en nou onttrek hulle hulle maar aan die groep gelowiges wat nog hardnekkig vasbyt.
En dan kom Jesus by!
Hulle herken Hom gladnie want die Here maak die twee manne se oë toe vir Hom sodat Hy vir hulle ‘n vreemdeling is. Dan begin Hy hulle uitvra oor die bekommernis op hulle gesigte. Hulle is verbaas dat Hy niks weet van die gebeure nie. Is Hy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem? Almal weet tog van die afgelope naweek se gebeure - dit was voorbladnuus in al die koerante!
Weldra kom hulle egter agter dat hierdie “Vreemdeling” baie meer weet as wat Hy wil voorgee, want Hy verduidelik vir hulle uit die voorgeskiedenis presies hoe hierdie Messias-ding werk, en waar hulle Meester in die prentjie inpas. Oopmond loop hulle en luister hoe Hy verduidelik van al die profete se voorspellings en hoe dit heengewys het op Jesus. Inderdaad ís Hy waarlik die Messias, die Christus! As hulle weer sien, is dit al skemer, en dan is hulle ook alreeds by Emmaus.
Dan toets Jesus hulle en Hy maak asof Hy verder wil gaan. Hulle slaag die toets, en die “Vreemdeling” word uitgenooi om saam te kom eet en sommer daar by hulle te oornag ook.
Wat was hulle motief? Was dit blote gasvryheid wat hulle gedring het om Hom uit te nooi? Of was dit dalk omdat hulle nog meer wou weet - nog meer wou hoor van hierdie wonderlike dinge wat hierdie vreemde Man vir hulle vertel het? Wat ookal die geval, hierdie Man het veroorsaak dat hulle harte warm geword het - gegloei het, want skielik het hulle begin verstaan van Jesus.
En dan gebeur nog ‘n onverstaanbare ding: Jesus is hulle gas vir die aand, maar aan tafel tree Hy op as die Gasheer! Hy is die Een wat die brood breek en uitdeel. En skielik herken hulle Jesus. Die skille val letterlik van hulle oë af. En dan eensklaps verdwyn Hy net. Maar Jesus se Goddelike teenwoordigheid by hulle - al kan hulle Hom nie meer sien nie - versterk hulle geloof in só ‘n mate, dat hulle net daar en dan opspring en haastig in die donker nag terug hardloop na Jerusalem om die nuus te gaan deel met die ander dissipels.
Hulle is borrelend opgewonde - sulke nuus mag nie eers tot die volgende dag bly nie. Wanneer hulle later uitasem terugkom in Jerusalem word hulle begroet met ‘n ewe-opgewonde dissipelkring: “Die Here het regtig opgestaan!” Nog voordat hulle eers hulle eie wonderlike verhaal kan vertel, kry hulle die nuus dat Jesus aan Petrus verskyn het!
Dit is alreeds 2000 jaar later, en ek is steeds opgewonde oor Jesus se opstanding. Daardie “kraakvars” nuus word steeds opgewonde oorvertel deur ‘n skare van gelowiges. Dit behoort by elkeen van ons ‘n obsessie te wees om dit oor en oor te vertel aan almal wat oor ons pad kom.
Gebed:
Here, ek is vanoggend saam met die Emmausgangers opgewonde oor U opstanding. Jesus leef waarlik! Ek wil dit uitskreeu vir die ganse wêreld!