Inleiding tot die boek Efesiërs
Ek was baie beïndruk met die pragtige, massiewe gebou. Toe ek egter die kerk binnestap, slaan dit my asem skóón weg! Dis opwindend! Die dramatiese kansel, die beeldskone houtwerk, die asemrowende loodglasvensters – alles laat my hart vinniger klop!
Is dit hoe ‘n kerk moet lyk?
Toe dink ek, wat is die kerk nou eintlik? Is hierdie een dan nou beter as die ou vaal geboutjie om die hoek, daardie enetjie waar die mense so lekker sing?
Die vraag is, watter kerk is dan nou éintlik die regte een? En hoe lyk die ideale kerk? Hoe lyk die ratwerk van ‘n goeie kerk?
Jy sal natuurlik met my saamstem dat daardie indrukwekkende kerkgebou beslis nie die kerk is nie en óók nie die ou vaal geboutjie om die hoek nie. Dit is bloot ‘n dooie gebou! Noem hom dalk eerder die gemeente se werkswinkel, want dit is waar daar gewerk word en waar die gemeentelede opgelei word in ware praktiese dissipelskap.
Die vraag oor watter kerk dan nou die regte een is, is eintlik misleidend. Daar is nie verskillende Christelike kerke nie! Nee, daar is slegs één kerk, die kerk van Jesus Christus! Inderdaad is daar wel baie verskillende gemeentes en denominasies en almal het verskillende aanbiddingstyle. Hulle interpreteer selfs sekere dele van die Bybel verskillend en dus is daar sekere goed waaroor hulle beslis nie saamstem nie. Maar ten spyte daarvan vorm hulle uiteindelik slegs één kerk. Om die waarheid te sê, is elke gelowige indiwidueel-kollektief die kerk.
Dalk kan ons die kerk sien as ‘n trein wat op pad is hemel toe. Geloof in Jesus is die enigste kaartjie wat jou die reg gee om op hierdie trein te wees. Die trein kan egter nie loop as iemand hom nie aan die gang hou nie en daarvoor is die personeel verantwoordelik.
Op hierdie hemelse trein werk dinge egter ‘n bietjie anders. Vir ‘n begin, is daar nie range nie. Elke lid van die personeel is op presies dieselfde vlak, of jy nou die drywer, kondukteur of ‘n kelner is, almal is eenders. Hulle het egter ‘n wyd-uiteenlopende staat van pligte en om die trein op koers te hou, moet party van die personeellede baie hard werk, terwyl meeste passassiers rustig sit en slaap!
Die ideale hemeltrein is dié een waar al die passasiers sélf ook inspring en saamwerk om sodoende die laste van die personeel ligter maak. Nie alleen maak dit die reis vir die passasiers meer aangenaam nie, maar ook vir die personeel. Op hierdie wyse word almal op die trein personeel. As net een begin en aan die werk spring, sal daar baie gou ander wees wat volg!
In die meeste gemeentes is by verre die grootste deel slegs passiewe passasiers, wat so min as moontlik deelneem. Kan hulle dan nie besef hoe opwindend dit is om deel te wees van alles nie? Daar is so ‘n ryke verskeidenheid van dinge om te doen in die kerk. As jy eers eenmaal begin het, kom jy baie gou agter hoe heerlik opwindend dit is. In die Efesiërs-brief word die kerk vergelyk met ‘n liggaam. Dink maar net vir ‘n oomblik hoeveel wyduiteenlopende onderafdelings jou liggaam het en elkeen het ‘n noodsaaklike funksie! Die kerk word ook dikwels vergelyk met ‘n bruid of ‘n soldaat. Maar Paulus sien die kerk ook as ‘n tempel. Uit hierdie vier beelde alleen sien ons die wonderlike verskeidenheid. Niemand sal kan sê dat daar nie vir hom of haar ‘n plek of taak iewers in die kerk is nie. Daar is plek vir elkeen in die span.
Hierdie brief van Paulus help ons om die kerk in die regte perspektief te stel en om reg te kan dink oor die kerk. Dit is belangrik dat ons raaksien dat die kerk eintlik ‘n versameling van mense is, mense wat aan God behoort en ‘n intieme verbintenis en verhouding met Jesus het. Inderdaad is dit ‘n mengelmoes van mense uit elke moontlike denkbare agtergrond, taal, ras en volk en hulle word saamgesnoer tot ‘n hegte eenheid in Jesus. Ja, die een gróót samebindende faktor is inderdaad Jesus. Hulle is lief vir Hom en hulle erken Hom as die enigste Here. Hulle stel hulleself dan ook onder Sy heerskappy en hulle dien Hom.
Wanneer Paulus hierdie brief skryf, is hy iewers in die tronk. Ons is nie seker uit watter tronk hy hierdie brief geskryf het nie, dit kon moontlik Sesarea wees. Hier was hy vir 3 jaar opgesluit. Dit kon dalk ook Rome wees, waar hy ‘n paar jaar agter tralies deurgebring het. Ons kan aanvaar dat dit waarskynlik in Rome was.
Ons kan verder ook aanvaar dat hierdie brief eintlik nie aan die gemeente in Efese gerig was nie, maar dat dit ‘n omsendbrief was wat aan al die gemeentes gerig was. In vers een staan daar wél dat hy aan die Efesiërs skryf, maar in die vroegste manuskripte kom hierdie vers gladnie voor nie, dus kon dit dalk later ingevoeg gewees het.
Ek hét al so vyf jaar gelede hierdie brief van Paulus behandel. Ek gaan egter poog om met totaal nuwe oë daarna te kyk en dit uit ‘n ander hoek te sien. Hierin is dit my innige gebed dat die Heilige Gees elke woord in hierdie kort reeks dagstukkies vir my op die hart sal lê. Sonder Hom is dit vir my gans onmoontlik om eers my pen op papier te sit.
My gebed is terselfdertyd ook dat hierdie reeks vir jou tot groot seën sal wees, en dat jy hierdeur geestelik sal kan groei.
Gebed:
Here, dankie dat U kerk so opwindend is. Ek wil bid dat U sal werk in elke hart wat hierdie reeks lees, dat elkeen U kerk so sal ervaar.