Soos jy seker al agtergekom het, is ek baie lief vir die Laeveld. Wat is dit in daardie wêreld wat my so bekoor? Dit kan beslis nie die klimaat wees nie, want dit raak onhoudbaar warm, en as die son jou daar alleen kry, skroei hy jou dood. Moontlik die verskeidenheid van diere? Miskien, dalk. Maar ek dink eerder dit is die rustigheid en die plantegroei, veral die bome wat my so aantrek. Ek kan vir ure lank so deur die bos dwaal en my net verlustig aan die asemrowende verskeidenheid van bome, struike, grasse, veldblommetjies. Kyk, ek gee myself gladnie uit as ‘n boom- of plantkenner nie. Maar ek geniet hulle!
Ek wil jou uitnooi om saam met my deur die ongerepte Laeveld te stap. Kom ek stel jou voor aan die netjiese ou tante van die bos, Mevrou Maroela, altyd gereed wanneer die somer kom, om jou te oorlaai met vragte geurige vrugte. Vrygewige ou tante hierdie. Neffens haar groei Blinkblaar Wag-’n-bietjie. Pragtige immergroen meisie met ‘n digte, blink, donkergroen blaredos wat altyd skadu gooi as die son genadeloos brand. Haar rooi vruggies is kos vir ‘n swetterjoel voëls. En van dié wat op die grond beland kan jy ’n heerlike tee brou. Jy moet hierdie doedie net bitter versigtig hanteer, want sy het katnaels wat séér krap en nie weer los as sy jou eers gegryp het nie. Aan Blinkblaar se sy staan Rooiboswilg. Hierdie is beslis ‘n man-boom, want hy gee die wonderlikste hout, die swaarste in die ganse bos. ‘n Braaivleisvuur van sy hout is goed genoeg vir ‘n koning.
Bokant hierdie bome toring Mevrou Knoppiesdoring. Waardige ou dame met ‘n knoetsige, skurwe stam vol skuilplekke en gate waar likkewane en voëls en die skattigste waaierstertmuisies en nagapies nes maak. Sy is sowaar die woonstelkompleks van die bos. En lentetyd ontplof sy in ‘n massa spierwit blomme wat dit laat lyk asof sneeu skielik die Laeveld getref het. Vanwykshout is ‘n ware heer, getooi in trosse pers blomme. Worsboom is die hanswors van die bos, met reuse worse wat aan stingels hang, en asemrowende dieprooi blomme. Die statige Mejuffrou Hardekool toring kiertsregop, feitlik blaarloos die hemel in, ‘n opregte oujongnooi. En dan is daar nog Wildemango, Mevrou Suurpruim en ‘n warboel van struike. Rosyntjiebos, Mispel, Skurwerosyntjie en ‘n bonte verskeidenheid veldblommetjies. En oral baljaar die voëltjies, goggatjies en ander diere. Die bos is Paradys!
Maar Adam en Eva se Paradys het sy slang gehad, en so ook die Laeveld: Tante Sekelbos met haar aaklige dorings! Haar boodskap is duidelik, wanneer sy haar lang, skerp naels wys: “Hier sal julle nie deur nie!” Sy groei in versteurde grond, waar sy net mooi álles oorneem! Onder haar rokspante groei net Gifappeltjies en Kakiebos! Waar Tante Sekelbos wortel geskiet het, word al die ander verdring. Sy is ‘n verskrikking!
Ek en jy is in 'n sekere sin presies nes die Laeveld se bos! Wanneer jy die dag jou hart oopmaak vir Jesus, kom die Heilige Gees en beplant die klipharde grond van jou lewe met vrugbare “bome”. Die eerste ding wat jy moet onthou, is dat plante net groei as daar kos in die grond is. In arm grond gaan jou “bome” dood. Jou grond moet geestelike kos inkry, soos ons duidelik in die vorige dagstukkie gesien het. Hoe meer geestelike kos jy inkry, hoe oorvloediger en sappiger is die vrugte wat jou “bome” dra, tot groot seën vir almal.
‘n Tweede belangrike les uit die Laeveld, is dat verskillende soorte grond verskillende soorte plante oplewer. Ry jy deur die noorde van die Kruger Wildtuin, sien jy plate Mopanies, waar die olifante na hartelus in baljaar. Aan die rivieroewers kry jy weer Wildevye, Jakkalsbessies, Rooiessenhout en plate riete. So is ek en jy ook verskillend, en ons dra verskillende soorte geestelike vrugte.
Die derde les uit die Bos, is dat daar ‘n baie groot gevaar lê en dreig, die gevaar van versteurde grond, waar ons toelaat dat die vyand, die duiwel, ons vrugbare grond kom omkrap. Dit is daar waar die Sekelbos, Gifappeltjies en Kakiebos in jou lewe oorneem, en al die ander vrugte verdring. Die Hebreërskrywer stel dit bitter kras, as hy sê dat waar ‘n gelowige “afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring”. Só ernstig voel hy oor hierdie saak, dat hy sê dat so ‘n persoon eintlik weer vir Jesus kruisig, en Hom in die openbaar tot ‘n bespotting maak! (Heb 6:6)
Vanoggend se Skrifgedeelte pleit by jou en my. Wanneer ons geestelike lewe besig is om sy groeikrag te verloor, en ons nie meer die vrugte lewer wat ons moet nie, dan is daar rooi ligte wat flikker. Moenie dat die sekelbosse jou lewe oorneem nie, want dit kan fataal wees. Jy kan dalk selfs jou saligheid verloor! Maak jou hart oop vir die Heilige Gees, en neem geestelike kos in sodat jy weer vrugbaar kan wees en tot nut vir die Koninkryk van God.
Gebed:
Here, ek wil nie sekelbosse in my lewe hê nie! Voed my asseblief sodat ek vrugte kan dra.