Die Oordeel Oor Sodom

29 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oordeel Oor Sodom

Genesis 18:16-33

Waarom het God nou éintlik vir Abraham kom besoek? Hier was twee baie belangrike sake betrokke. Die eerste was natuurlik om die aankondiging te maak van die geboorte van Sy volk - dus oor lewe. Die ander saak het gehandel oor dood - die dood van twee Goddelose stede. Lewe en dood, die drama van menswees in ‘n neutedop. Dit is tussen hierdie twee pole waar die mens gedurig beweeg. En by beide van hierdie dramatiese sake wil God betrokke wees.

Die vraag wat ons vandag vir onsself moet vra is, hoe is God betrokke, veral by die dood? Is Hy dan nie ‘n liefdevolle en regverdige God nie? Inderdaad is die dood van ‘n gelowige nie werklik dood nie, maar die begin van die ware lewe. Maar vir die ongelowige is die dood ‘n verskrikking, wat vir hom die aankondiging is van die finale oordeel en uiteindelik die ewige straf. Hoe rym dit, as ons praat van God se liefde en genade? Hierdie dood is tog vernietigend! Is God ooit regverdig? Inderdaad is hierdie vrae wat gedurig gevra word. Ek het hulle al dikwels gehoor.

Vir God is hierdie kwessies só belangrik dat Hy uit Sy hemelse woonplek neerdaal na die stowwerige aarde om persoonlik betrokke te wees. En Hy neem selfs vir Abraham, die feilbare, wankelende mens in Sy vertroue hieroor. Ja, Abraham mag dalk maar net ‘n doodgewone mens gewees het met foute en al, maar hy was die oorsprong van God se groot raadsplan en van God se volk waaruit hierdie raadsplan moes gestalte kry. Sy nageslag sou ‘n deurslaggewende rol speel in die lewe van die ganse mensdom, nie alleen die Jode nie. As draers van die geloofsgemeenskap mag daar by hierdie volk géén twyfel bestaan oor Wie God is nie. Almal moet weet van Sy regverdigheid, Sy optrede en Sy oordeel. Daarom word Abraham betrek by die Goddelike optrede wat sou volg.

Trouens, vandag verwag God nog steeds dat Sy kinders, ek en jy as gelowiges, deeglik bewus moet wees van God se optrede en van wat reg en verkeerd is. Ons verstaan nie altyd God se optrede nie, en dikwels lyk dit vir ons onregverdig en totaal onverstaanbaar. En daarom moet Abraham die getuie wees van hierdie waterskeidingsaak. Hy moet vir die nageslag die antwoord kan gee op die kernvraag oor God se regverdigheid.

In die eerste plek wil God kom bevestig dat Hy nie maar op hoor-sê werk nie, maar met die ware feite. Ja, natuurlik is God alwetend en alomteenwoordig, maar Hy wou vir Abraham kom wys dat Hy persoonlik belangstel in wat gebeur, en dat Hy nie sommer maar daar uit die hemel ‘n oordeel fel nie. Dus maak hy vir Abraham bewus dat Hy “afgekom het om Sélf te kom kyk” wat in Sodom aangaan. Hy wil Homself met die ware feite kom vergewis. Om ‘n stad te vernietig oor hulle sonde, is nie ‘n ligtelike saak nie. God se oordeel is dus gegrond op feite.

Abraham is egter ‘n baie bekommerde man. Sê nou maar net die regverdiges in die stad word gestraf saam met die Goddeloses - dit sou mos nie regverdig wees nie? Hy het mos nou al die Here leer ken as regverdig. Dalk moet hy dit waag om met God te praat oor hierdie sakie. “Here, sal U die regverdiges saam met die Goddeloses vernietig?” God sou tog sékerlik nie die gelowiges en Goddeloses onder dieselfde kam skeer nie? Dan begin Abraham met ‘n aftelgesprek. Daar sou dan tog seker ten minste vyftig gelowiges in die stad wees - sy nefie Lot is immers daar, én sy gesin. Hulle vriende moet darem mos ook gelowig wees, of hoe? Tot sy skok moet Abraham verneem dat daar nie eers vyftig regverdige mense in Sodom en Gomorra is nie. Ook nie eers veertig of selfs dertig nie! Abraham se vlammetjie brand al flouer, en sy waagmoed raak minder. Die hoop verskraal dat daar ooit énige gelowiges in Sodom is. Wat dan van Lot? Hy moet van God verneem dat daar selfs nie eers tien is nie! En dan moet Abraham maar noodgedwonge die saak gewonne gee.

Inderdaad het die beeld van Sodom totaal verkrummel, maar die beeld van God het vir Abraham ‘n totaal nuwe dimensie gekry: Hy was steeds bereid om die stede te spaar, al was daar net tien miserabele gelowiges oor in die twee stede. God maak dus ‘n verskil tussen opregtes en ongelowiges. Nog meer: Hy is selfs bereid om die bose mense genadig te wees ter wille van ‘n klein handjievol gelowiges.

Ek dink jy sal besef uit hierdie verhaal, dat ek en jy as gelowiges ‘n geweldige belangrike rol het om te speel in die samelewing. Nie alleen is ons getuies van die geloofsgemeenskap van God nie, maar ons het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die ongelowiges. G’n wonder nie dat Jesus in Matteus 5:13 vir ons sê dat ons die sout van die aarde is!

Ja, die Goddeloosheid van die stede het gemaak dat God nie anders kon nie, as om hulle totaal van die gesig van die aarde af te vee. Nogtans sal Hy uit Sy pad gaan om vir Lot te red ter wille van Abraham.

Gebed:

Here, dankie dat ons net weereens kan besef dat U regverdig is, maar dat U genade terselfdertyd onmeetlik groot is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026