Die Onderneming

13 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Onderneming

Nehemia 9:38-10:39

VIDEO | OUDIO

Na die groot boetedoening besluit Nehemia saam met die leiers van die volk dat, op grond van wat so pas hier gebeur het, dit die regte ding sou wees as hierdie volk ‘n skriftelike onderneming, of dalk eerder ‘n bindende ooreenkoms onderteken waarin hulle hulle trou aan God belowe.

Dit laat ons nogal dink aan die gelofte wat die groepie Voortrekkers gedoen het op 16 Desember 1838. Baie mense bevraagteken vandag daardie gelofte. Kan dit ooit vandag steeds bindend op ons wees?

Selfs nóg nader aan ons elkeen se lewens: ek en my bruid staan voor die kansel en belowe ewige trou aan mekaar. Ons belowe plegtig dat ons mekaar sal liefhê deur ál die hindernisse van die lewe – totdat die dood ons skei! Dis ‘n bindende ooreenkoms!

Die ooreenkoms wat die volk nou met God sluit, word wél ‘n verbond genoem, maar dit is natuurlik gladnie dieselfde as die verbond wat God met Abraham sluit nie. God se verbond is eensydig: Hy sal vir Abraham ‘n God wees, maar Abraham moet Hom dien. In hierdie verbond verbind die volk hulleself egter om ‘n sekere lewensstyl te handhaaf waarin hulle aan God gehoorsaam sal wees.

In Nehemia 10 sien ons ‘n lang lys name van die persone wat namens die hele volk die onderneming plegtig onderteken en dit dan verseël om dit ‘n amptelike en uiters belangrike dokument te maak. Héél eerste op die lys van ondertekenaars staan die naam van Nehemia, die administrateur. Dan volg die name van 22 priesters en 17 Leviete, en na hulle al die leiers in die volk. Dit was dus ‘n gewigtige dokument! Hierdie mense lê namens die hele volk ‘n dure eed af om te lewe volgens die wet van God. Daar is egter ‘n duidelike bepaling, dat dit slegs die persone is wat hulle van die heidenvolke afgeskei het wat geraak word deur die verbintenis.

Wat behels hulle onderneming alles?

Eerstens, om nie met die heidense volke te ondertrou nie. Tydens Esra en Nehemia se leierskap kom hierdie saak telkens ter sprake. Wanneer ons die Bybel lees, moet ons besef dat sekere riglyne gemaak is onder bepaalde omstandighede. Hoe moet ons sulke riglyne vandag verstaan en hanteer? Dis natuurlik ‘n ope vraag!

Die tweede bepaling is dat daar nie handel gedryf sal word op die Sabbat nie. Dit was ‘n groot opoffering, want ál die volke rondom hulle het normaalweg voortgegaan met hulle bedrywighede op die Sabbat, en dit sou beslis hulle handel beïnvloed! In ons eie konteks moet ons ‘n bepaalde lewensstyl handhaaf te midde van die ongelowige wêreld waarin ons lewe!

Vervolgens lê hulle vir hulleself ‘n verpligting neer om geldelike bydraes te maak vir die onderhoud van die tempeldiens. Hulle sou ook hout voorsien vir die brandoffers. Is dit vir my ‘n prioriteit om my bydrae te maak vir my gemeente se funksionering?

Dan was daar ‘n spesiale bydrae wat hulle sou maak eenkeer per jaar, om die eerste vrugte van hulle oes, hetsy dit vrugte, graan, kleinvee ens. is aan God af te staan. In ons gemeente gee ons elke jaar ‘n “tiende dankoffer” wat bo en behalwe ons normale maandelikse bydraes is.

Dan is daar nog die tiendes van hulle grond wat hulle afstaan vir die gebruik deur die Leviete wat die werk van die Here doen. Dis soos ons vandag ook ons leraars onderhou sodat hulle hulle volle aandag kan gee aan hulle taak in die gemeente.

Hierdie was slegs enkele bepalinge, maar ons moet onthou dat die Wet van God baie meer omvattend is as slegs ‘n paar bepalinge. Hierdie was maar enkele sake wat uitgelig was wat belangrik was in hulle eie tyd. Dit was sake wat verband gehou het met die onderhouding van die diens van God, of in vandag se terme die administrasie van die gemeente of kerk. Die onderhouding van God se Wet is egter baie meer omvattend. Jy leef volgens die Wet van God sodat Hy daardeur gedien kan word! Met ander woorde, my motief vir wetsonderhouding moenie oor myself gaan nie maar om my toewyding aan die Here.

Die vraag is, wat beteken wetsonderhouding vandag vir ons as gelowiges? Ons omstandighede is totaal anders as daardie tyd. Eintlik het dit reeds begin verander met die koms van Jesus, en Hy het wetsonderhouding aanvanklik beskryf as liefde vir God en jou naaste. Liefde vir God is eenvoudig, dit beteken ‘n verhouding met Hom en om te doen wat Hy vra. Naasteliefde is meer ingewikkeld, en Jesus het in meer diepte daarop ingegaan deur te beskryf hoe daardie liefde prakties moes werk, soos byvoorbeeld Sy gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Hy het ook gesê dat ons mekaar moet liefhê net soos wat Hy ons het, en dat jy selfs jou vyand moet liefhê. Dit moet egter meer as ‘n gevoel-liefde wees, dit moet prakties wees! Kom ons gaan leef God se wet uit soos Jesus dit beskryf het!

Gebed:

Here, ek wil vandag ‘n onderneming maak om U te dien soos wat U van my vra, in liefde vir U en my naaste!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026