Lukas 22:14-23
Dit is ‘n uiters emosionele oomblik wanneer Jesus saam met Sy twaalf vertrouelinge aan die tafel gaan aansit vir die paasmaaltyd. Saam met Jesus sit twaalf manne wat vir die afgelope drie jaar elke dag by Hom was - manne wat Hy deur en deur leer ken het. Almal was maar doodgewone mense, elkeen met sy foute - rowwe vissermanne, party van hulle. Daar was Petrus wat impulsief gepraat het en gedoen het voordat hy gedink het. Onverskrokke! Later sou hy egter knak voor ‘n blote diensmeisie en Jesus verloën in die uur waar Hy hom die nodigste sou hê. Jakobus en Johannes was die twee met die verskriklike humeure! Jesus het hulle die bynaam gegee van “die Seuns van die Donder!” Beslis nie vleiend nie! Een van die manne aan tafel het vermoedelik lang vingers gehad, sy naam was Judas. Alhoewel hy hulle finansies behartig het, het die manne hom nie vertrou nie. Daar was egter iets baie erger omtrent hierdie man, want hy het alreeds beplan om Jesus te verraai!
So kan ons dalk geraamtes krap uit elkeen van die manne om die tafel se kaste uit, nie een was volmaak nie! Elkeen het sy swakhede en sondes met hom saamgedra. Ons het dikwels hulle twyfel, ongeloof, angs en hulle onvermoë om te begryp gesien deur die drie jaar wat hulle saam met Jesus deurgebring het. As hierdie manne, wat so naby aan Jesus was, dan dikwels in hulle volgelingskap gefaal het, hoeveel te meer is dit nie dalk ons eie lot nie! Nogtans sien ons vir Jesus waar Hy juis saam met hierdie twaalf sit. Hy sê vir hulle dat Hy baie daarna uitgesien het om hierdie laaste paasmaaltyd saam met hulle te eet!
Wanneer Jesus die brood breek en uitdeel, sê Hy vir Sy twaalf vriende dat hierdie brood Sy liggaam wat gebreek gaan word simboliseer. Wanneer hulle dit eet, moet hulle aan Hom dink. Die beker met wyn word omgestuur en weereens sê Jesus vir hulle dat hierdie wyn Sy gestorte bloed simboliseer.
Ons moet onthou dat hulle eintlik besig was om die Pasga te vier, die maaltyd wat die Jode moes herinner aan die dag toe God hulle verlos het uit die slawekettings van Egipte. Maar skielik kry hierdie selfde maaltyd nou ‘n totaal ander betekenis. Nou word dit simbool van die nuwe verbond waar Jesus alle gelowiges verlos uit die slawekettings van die verdoemenis!
In die Ou Testament lees ons van verskeie geleenthede waar God met mense ‘n verbond gesluit het, soos met Adam, Noag en Abraham. Nou sluit God egter ‘n splinternuwe verbond met die ganse mensdom en Jesus sê dat Sy bloed wat gestort sou word, die seël is van hierdie verbond.
‘n Verbond is natuurlik ‘n ooreenkoms wat tussen twee partye gesluit word. Twee lande kan byvoorbeeld ‘n verbond sluit en sê dat hulle mekaar sal bystaan en nie mekaar sal aanval nie. In antieke tye is diere geslag om die verbond te bekragtig. As een van die twee partye die verbond sou verbreek, is daar groot moeilikheid! Daar sou met hulle gebeur wat met hierdie geslagte diere gebeur het! Bloed het dus ‘n belangrike deel gevorm van so ‘n verbond, omdat dit die lewe simboliseer.
God se verbond werk ‘n bietjie anders, want dit is ‘n eensydige verbond waar Hy alles gee en ook sekere voorwaardes stel. So lui die nuwe verbond dus dat God die ewige lewe gee met al die voordele wat daarmee gepaard gaan. As teenprestasie vra Hy geloof in Sy Seun, Jesus. Dit is ook nie ‘n verrassing dat bloed ook in hierdie verbond ‘n baie groot rol speel nie. In hierdie geval is dit egter nie die bloed van diere nie, maar die kosbare bloed van Jesus, enige Seun van God wat as teken of seël van die verbond gebruik word.
Direk na Jesus hierdie nagmaal ingestel het, maak Hy ‘n skokkende aankondiging: een van hierdie vertrouelinge van Hom, wat nou hier saam met hulle aan tafel sit, gaan Hom verraai. Ek sien in my verbeelding hoe die manne se gesigte val as hierdie bom hulle tref. Hoe is dit moontlik? Hoe kon enigeen so laag daal?
Maar Jesus beklemtoon die feit dat dit volgens die groot raadsplan van God gebeur, en dat dit nie in die hande van die verraaier is nie. God se raadsplan móét sy loop neem, en moet tot in die fynste besonderhede uitgevoer word. Hy bly steeds in volle beheer, al lyk dit op die oog af of alles buite beheer geraak het! Selfs in ‘n hopelose situasie soos hierdie wat so tragies en fataal voorkom, bly God steeds in beheer!
Vandag kan ek en jy die wonderlike wete hê dat ons eie foute, dislojaliteit, swakhede, twyfel en mislukkings nooit óóit God se trou en beheer oor alles kan aantas nie. Vandag kan ons met vertroue die lied sing: “U is in beheer, wonderbare Heer, U wat steeds getrou U skepping onderhou!”
Gebed:
Here, ek kan vanoggend nie anders nie as om in aanbidding voor U neer te val. Ek stel U so dikwels teleur, maar in U groot genade aanvaar U my net soos ek is. Dankie dat ek kan weet dat U in volle beheer is!