Josua 6:15-27
Dit is nog pikdonker die oggend van die sewende dag, toe staan almal klaar op hulle plekke en rondtrippel. Hulle bewe eintlik van opgewondenheid, want vandag is dié dag!
Die vorige middag nadat hulle van hulle uitstappie om Jerigo teruggekeer het, het hulle nie soos gewoonlik verdaag en elkeen na sy tent gegaan nie. Josua het hulle laat sit, en toe begin hy verduidelik: “More gaan dit baie anders wees as die vorige dae. More gaan dinge gebeur wat almal se hare gaan laat regop staan! Veral die mense van Jerigo s’n!”
Dan begin Josua vir hulle verduidelik wat hulle te doen staan. Tot vervelens toe word die strategie oor en oor verduidelik sodat elkeen presies weet wat van hom verwag word. Op sy bevel alléén gaan hulle reageer. En as hy sê: “Skreeu!” dan moet hulle skreeu asof hulle lewens daarvan afhang. Dit moet bloedstollend wees! Hulle oefen ‘n paar keer totdat Josua tevrede is dat dit die Jerigoïte sal laat dooi van pure vrees. Dan kry hulle opdrag om hulle wapens na te gaan, want wanneer hulle aanval mag daar absoluut niks lewendig uit die stad kom nie, nie eers ‘n hoender nie!
Daar is egter een enkele uitsondering: Die twee spioene het mos vir die prostituut Ragab belowe dat sy niks sou oorkom nie. Die twee manne kry nou opdrag om te sorg dat sy en haar mense veilig uit die stad kom.
Die manne verdaag baie opgewonde. Daardie nag sou daar bitter min geslaap word.
Wanneer die rooidag breek, gee Josua die bevel om te beweeg. Presies dieselfde stoet kom somber in beweging en stap in doodse stilte om die stad. Die inwoners van Jerigo is dit teen hierdie tyd al gewoond, en as hulle sien dat dit net maar weer die ou roetine is, draai hulle om en gaan rustig aan met hulle dagtake.
Maar dan kom die alarm: “Vandag is dit anders! Hulle het gedraai om ‘n tweede keer om die stad te loop!” Die koning haas hom teen die trappies op tot bo-op die muur, net betyds om te sien dat hulle nou al vir hulle derde keer begin omloop. “Wat maak hulle?” wil hy weet. “Hulle beplan iets onheilig!”
Wanneer hulle egter al die sesde keer hulle draai maak, verloor hy belangstelling, want hierdie klomp raak nou vervelig! Hy het hom skaars op sy gemakstoel in die paleis neergeplof om rustig sy middagslapie te geniet, toe dit voel asof sy hare rys. Van buite die stad klink ‘n bloedstollende geskreeu uit veertigduisend kele, gemeng met ‘n oorverdowende, onaardse gekla van ramshorings. Hy spring vervaard op, en dan hoor hy iets anders wat hom so byna in sy sandale laat doodgaan. Die allerverskriklikste gerammel, amper asof daar duisende klippe begin val. Hy storm uit, en dan val sy mond oop. Hy kan nie glo wat hy sien nie!
Wanneer die manne draai vir hulle sewende keer om die stad, begin hulle al bewe van opgewondenheid. Hulle kan hulleself nog nie mooi indink presies wat gaan gebeur nie. As hulle die laaste draai vat, hoor hulle vir Josua bulder: “Skreeu manne! Die Here gee die stad aan julle oor!”
Die volgende oomblik gebeur alles tegelyk. Dit is asof ‘n reuse onsigbare hand begin om die reuse rotse in die muur uitmekaar te ruk, die oomblik toe hulle begin skreeu en die ramshorings blaas. Die mure verkrummel letterlik soos ‘n sandkasteel wat sy vog verloor het. Die lawaai is oorverdowend en duisende soldate wat die mure beman het, stort gillend na hulle dood!
As Josua opkyk, sien hy dat een enkele stukkie muur wonder bo wonder ongeskonde bly staan te midde van alles wat rondom inmekaar tuimel. Baie opvallend in die stukkie heel muur is ‘n groot helderrooi lap wat by ‘n venstertjie uithang, dié van die prostituut, Ragab!
Op Josua se bevel klouter die manskappe oor die muur, wat nou slegs ‘n hoop rommel is. Die stad word met die banvloek getref en alles wat lewe word doodgemaak. Die manne is ook die vorige dag die leviete voorgelees, dat hulle absoluut niks mag buit nie. Die uitsondering is edelmetale soos goud, silwer en brons. Dit moet egter alles na Josua toe kom, want dit behoort alles aan die Here.
Wanneer Ragab en haar mense veilig is, word die stad aan die brand gesteek sodat dit totaal vernietig word. “Hierdie stad mag nie weer herbou word nie!” verklaar Josua plegtig.
Ons wil ons blindstaar teen die feit dat almal vernietig moes word. Maar ons kyk God se liefde en genade mis. Ragab, ‘n heidense vrou met ‘n baie twyfelagtige beroep, word gered. Sy word geheel in die volk opgeneem as een van hulle, en wat meer is, sy word die grootmoeder van die groot koning Dawid. Maar nog meer: haar naam verskyn in Matteus se geslagsregister van Jesus Christus die Verlosser!
Vandag moet ons erken dat die val van Jerigo ‘n asemrowende wonderwerk is van die Almagtige God. Hy is gróót bo almal!
Gebed:
Here, U is groot en almagtig. Ek staan verstom oor U almag en liefde!