Genesis 24:9-27
Die slaaf kry die onmoontlike opdrag: “Gaan soek vir my seun ‘n vrou!” Die arme man het homself seker ál die pad bejammer op sy lang reis na Mesopotamië waar Nahor bly. Met sy karavaan van tien kamele vat hy die langpad, terwyl Abraham en Isak hom opgewonde agterna kyk. Abraham is die ene selfvertroue waar hy met ‘n glimlag op sy kierie leun. “Die Here sal Sy engel vooruit stuur om alreeds sake te gaan voorberei. Hy sal die regte vrou vir Isak stuur! Hy het my immers nog nóóit teleurgestel nie!” Isak, aan die ander kant, spring op en af van opgewondenheid. Hy is stukkend geskeur tussen twee begeertes: die een om saam te gaan en sélf sy eie vrou te gaan uitsoek, en die ander om hier by sy pa te bly en te wag vir die groot dag en om alles gereed te kry. “Sê nou maar die slaaf maak ‘n verkeerde keuse?”Dit gryp aan sy maag! “Sê nou maar hy kom hier aan met ‘n regte ou draak?” Maar dan skuif hy die gedagte uit sy kop: “Daardie man ken sy storie! Hy gaan vir my die mooiste ou dingetjie denkbaar bring, een met fyn goue ringetjies aan haar neus en sulke lang pikswart wimpers wat skaam onder haar sluier uitloer.” Isak se hart mis sommer ‘n paar slae as hy vir homself die prentjie skilder van hoe hierdie bruid nou eintlik gaan lyk.
Abraham se slaaf het baie tyd gehad om na te dink oor alles wat Abraham vir hom gesê het. Daar was uitdruklike instruksies oor Isak se aanstaande bruid. Soos wat die kraai vlieg is dit omtrent 900 kilometer, maar hy sou sekerlik ‘n ompad gekies het omdat hierdie roete byna onbegaanbaar is. Dit kon dan nader aan 1300km wees! Dit is ‘n uitmergelende reis deur dorre woestynland. “Hy verwag van my ‘n onmoontlike ding,” dink die arme man. Maar dan onthou hy dat Abraham sy vertroue altyd op sy God geplaas het. Hy weet wat hy sal doen: Hy sal Abraham se voorbeeld volg en bid.
Twee maande later gooi die slaaf ankers uit by ‘n fontein net buite Mesopotamië. Hy voel soos ‘n opgewonde skoolseuntjie as hy van sy stowwerige kameel afklim en gaan kniel by die lafenis. Dan bid hy: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur.” Hy het haarfyn uitgewerk wat hy die Here gaan vra. Hoe sal hy weet watter meisie vir Isak bedoel is? Hy sal die Here vra om die regte meisie vir hom uit te wys. Die meisie wat by die fontein kom water skep en vir hom, ‘n wildvreemde man, water kom aanbied en sy kamele ook nog versorg, dit sal sý wees wat aan Isak behoort. So het hy die Here gevra om haar aan hom uit te wys.
En dan, wanneer hy sy oë oopmaak, sien hy haar daar staan, die mooiste jong meisie wat hy nog ooit gesien het. Die slaaf se hart gee ‘n paar wilde spronge: “Dit móét net eenvoudig sy wees! Hierdie is beslis Isak se vrou!” Met groot belangstelling en kloppende hart kyk hy hoe sy in die fontein afklim. ‘n Ruk later klim sy die trappies op met ‘n swaar kruik op haar skouer. “Kan ek asseblief ‘n bietjie water kry?” waag die slaaf dit.
“Drink gerus! Ek sal sommer vir jou kamele ook gaan skep,” voeg sy by. En toe wéét hy: die Here was getrou! Hy het weereens voorsien net soos Hy elke keer nog vir sy meester Abraham voorsien het oor die afgelope 130 jaar. Terwyl sy nog water aandra vir sy kamele, hardloop hy haastig na een van die diere. Uit ‘n saalsak haal hy ‘n gekerfde kissie. As hy dit oopmaak blink die suiwer goud in die helder sonlig. Twee goue armbande en ‘n goue neusring word versigtig uitgehaal. Die meisie is stomgeslaan as hy vir haar die kosbare juwele aansit.
“Wie se dogter is jy?” wil hy weet. Sy verduidelik dat haar pa se naam Betuel is. Oupa se naam is Nahor......
Dit was die bevestiging! God het waarlik voorsien! Het Abraham dan nie gesê dat hy wens dat een van sy broer Nahor se kleindogters vir Isak ‘n vrou sal wees nie? Wat is die kanse dat ‘n man 1300km ver reis, en dat die presiese meisie waarvoor hy gevra het die eerste sal wees om hom buite ‘n stad te ontmoet by ‘n fontein? Boonop nog dat sy presies die regte dinge sou sê! Dit is ‘n totale onmoontlikheid! Maar by God is niks onmoontlik nie. Nét daar val hy in aanbidding voor die Here neer, en dank Hom vir Sy leiding.
“’n Wonderwerk!” wil ons uitroep. “Maar sulke soort wonderwerke gebeur mos nie vandag meer nie......”
Werklik? As ‘n mens jou oë net ‘n slaggie oopmaak, sien jy elke dag wonderwerke gebeur, dinge wat net eenvoudig nie anders kan beskryf word as totaal onverklaarbaar nie. In my eie lewe sien ek daagliks “alledaagse” wonderwerke gebeur. Die feit is egter dat ek in elkeen van hulle God se hand kan sien.
Dit is eers wanneer jy waarlik totaal afhanklik raak van God, dat jy die wonderwerke begin raaksien, en dat jy wéét: God voorsien!
Die verhaal van Isak en Rebekka behels egter véél meer as slegs ‘n wonderwerk. Dit vertel ook weereens van God se groot genade, want uit hierdie gesin se nageslag word die Verlosser, Jesus Christus gebore sodat verlossing uit die ewige verderf beskikbaar is vir enigeen wat “Ja” sê vir God se genade!
Gebed:
Here, vanoggend wil ek ook soos daardie slaaf in aanbidding voor U neerval. Ek herken U wonderbare hand in alles in my lewe!