Markus 4:21-25
Ek het eergister geskryf dat ons nie weet of Jesus susters gehad het nie. Vriend Francois wys my daarop dat daar wél van Sy susters geskryf word in Markus 6:3. So leer mens…..!
Duisternis sak stadig toe, waar ons rustig ontspan op die stoep. Langs die watervoor begin die eerste paddas opwarm vir vanaand se groot konsert. ‘n Kriek stem sy viool in, en Ouma-tarentaal “Tji-tji-tji-tjirrrrrrrrr!” oorverdowend om al haar kinders en kleinkinders en agterkleinkinders bymekaar te kry. Hulle moet baie wyd verspreid wees, want haar kras stemmetjie weergalm deur die klowe van Waterval Boven, sodat niemand kan sê dat hulle nie gewaarsku is dat die nag hier is nie.
“Nou toe,” por Oupa ons aan, en dan weet ons: dit het tyd geword vir die Du Plooys van Soetmelksvlei. Die huis is pikdonker as ons almal op ‘n streep die gang af kraak-kraak op die plankvloere. Die donker wil my aan die keel gryp, maar gelukkig is die grootmense hier. Ek sorg dat ek baie naby aan Oupa loop. Dit wil so ál vir my klink of die vloer vanaand meer kraak as gewoonlik. As ons die eetkamerdeur oopstoot, maak dit ’n liederlike skreeugeluid. Ek gril tot diep in my murgbene! Ouma trek ‘n vuurhoutjie. Die paraffienlamp se pit vat vlam. En skielik is die duisternis weg. Skoonveld! Een enkele simpele paraffienlampie laat die donker soos mis voor die son verdwyn! Verlig kyk ek om my rond: Inderdaad lyk alles nog steeds presies soos wat dit in die helder daglig gelyk het!
Wonderlike ding, ‘n lamp! So eenvoudig, en kyk net watter wonderwerke kan hy verrig met donkerte! Maar nou sê Jesus vir Sy volgelinge dat ‘n mens dalk daaraan mag dink om ‘n lamp onder ‘n emmer te sit, of erger nog, onder die bed! Dit is ‘n lagwekkende situasie, want wat sal dan die doel van só ‘n lamp wees? Hy sal totaal nutteloos wees. In die eerste plek is hy ontwerp om lig te maak. Maar wat help dit as jy juis die lig wegsteek?
Die Koninkryk van God was aan die kom, so het Jesus by verskeie geleenthede aan Sy hoorders gesê. En ons moet hierdie gelykenis van Jesus ook in hierdie lig sien. Die koms van die Koninkryk is natuurlik ‘n baie wye konsep. Maar in die héél eerste plek gaan dit oor Jesus se groot versoeningsdaad. Op die stadium toe Jesus hierdie gelykenis vertel het, was dit alles nog werklik soos ‘n lamp onder ‘n emmer, waar daar slegs ‘n klein skrefie lig onderdeur geskyn het. Selfs Jesus se intieme vriende het nie eers die vaagste benul gehad van waaroor dit gegaan het nie. Sommige het wél ‘n wilde raaiskoot gewaag deur te sê dat Jesus dalk die Messias kon wees, maar selfs hiérdie bewering was baie vaag, want hulle het ‘n totaal ander Messias verwag, ‘n Messias wat hulle van die Romeine sou bevry en dan sou heers as ewige Koning oor Israel.
Maar dit alles sou verander: “Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie,” sê Jesus vir hulle. Die “groot geheim” oor die Messias sou weldra uitgebasuin word soos wat ‘n helder lamp op ‘n staander sy lig versprei en die duisternis verdryf.
“Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” vermaan Jesus Sy hoorders. Hulle verstaan nie mooi wat Jesus bedoel nie. Maar uiteindelik sou hulle tóg later verstaan. Dit sou drie jaar neem vir daardie manne voordat hulle werklik vir die eerste keer kon verstaan waaroor dit alles gegaan het. Maar hulle het ag geslaan op Jesus se woorde, en toe hulle alles uiteindelik verstaan, ná Jesus se hemelvaart, het hulle Sy woorde onthou.
Wanneer die Heilige Gees op hulle uitgestort word, kom lê daar ‘n nuwe taak op hulle skouers. Nou sit hulle nie meer aan Jesus se voete en luister nie. Nou is húlle daardie lampe waarvan Jesus gepraat het. Wat is die doel van ‘n lamp? Om lig te versprei! Hulle taak was nou om as lampe die lig van Jesus en die Koninkryk van God te versprei en uit te basuin.
Maar vir elf manne (onthou, een het gesneuwel) was dit ‘n haas onmoontlike taak om met uiters beperkte kommunikasiemiddele hierdie lig aan die ganse wêreld uit te dra. Daarom het elkeen wat die lig van hulle ontvang het ook sélf ‘n lampie geword wat die lig al wyer en wyer laat skyn het, totdat dit selfs tot in die hartjie van die bose Rome soos ‘n vuurtoring die lig laat skyn het.
Die Here het vir my en jou ore gegee om te kan hoor, en vandag moet ons aandagtig luister, want net soos wat die Here tweeduisend jaar gelede die nuwe gelowiges as lampe aangestel het om Sy wonderbare lig te versprei, so sê Hy vandag ook vir ons dat elke gelowige, en dis ek en jy ingesluit, ‘n lamp is. En soos enige lamp is ons doel om die lig van Jesus te versprei. Soos die dissipels van ouds toegerus is deur die Heilige Gees vir hulle taak, só is ons ook deur dieselfde Heilige Gees toegerus. Ons het dus géén verskoning nie!
Dit beteken natuurlik nie dat elkeen van ons moet preek nie. Net soos wat daar baie verskillende soorte lampe is, so het elkeen van ons ook ons eie unieke talente gekry. Die groot opdrag is dat ons nie daardie talent onder ‘n emmer (of die bed) mag wegsteek nie, maar dat ons Jesus se lig sal laat skyn deur ons talente te gebruik tot eer van God.
Luister dus vandag biddend na wat die Here se opdrag aan jou is. Op watter wyse wil Hy hê dat jy Sy lig sal laat skyn in die wêreld?
Gebed:
Here, dankie vir die talente wat U my gegee het. Dankie ook dat ek hulle vryelik mag gebruik, en veral om die lig van Jesus te laat skyn. Help my om U stem duidelik te hoor, en gee my die wil om te doen wat U van my vra.