Daniël 3:1-18
Nebukadnesar moes seker maar aan grootheidswaan gely het. Hy wou só graag ’n ou bietjie erkenning kry en hy wou dóódseker maak dat almal - tot in die laaste geslag - hom sal onthou! Hy besluit dus om ‘n afgodsbeeld te laat bou, maar nie sommer só ‘n ou hierjy-se beeldjie nie - hierdie een was ‘n volle dertig meter (tien verdiepings) hoog, en dit was van Goud. Dit moes ‘n asemrowende stukkie werk gewees het! Maar wat is dan die nut van ‘n afgodsbeeld as dit nie aanbid word nie! Dus word daar ’n dekreet uitgevaardig dat ál die koninkryk se amptenare moes bymekaarkom om sy beeld te kom aanbid.
Op ’n subtiele manier dryf die skrywer die spot met Nebukadnesar se grootheidswaan deur die koning se instruksies tot in die fynste detail te vertel en dan weer ‘n slag te herhaal. Hy gee die volledige lys van amptenare wat teenwoordig moes wees met die groot openingsdag.
Toe breek die groot dag aan. Dit moes sekerlik ‘n vreeslike grênd affêre gewees het, want hooggeplaaste amptenare van regoor die wêreld het spesiaal vir hierdie geleentheid opgedaag. Natuurlik was absoluut almal daar….. buiten vir ’n paar jong Joodjies.
‘n Doodse stilte sak neer, en dan, die onthulling. Die orkes speel - verskriklik dramaties: Trompette, fluite, siters, liere, harpe. Volgens die koning se uitdruklike bevel val die skare van hooggeplaastes soos een man neer voor die indrukwekkende beeld. Nebukadnesar se bors swel van trots en hy is tevrede met homself. Nou sal hy vir ewig onthou word!
Maar alles was nie wel in die koninkryk nie. Iemand kom fluister vir die koning in die oor dat sekere van sy hooggeplaaste amptenare sy bevel verontagsaam het! Daar is dwarstrekkers in sy koninkryk! Met ‘n groot omhaal van woorde word daar vir Nebukadnesar vertel van hierdie drie Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, wat hulle nie steur aan sy bevel nie en dat hulle weier om sy goue beeld te aanbid.
Die koning is woedend! Hoe durf hulle sy opdrag ignoreer? Hulle word summier nadergesleep om te kom verduidelik. Nebukadnesar het gereken dat hierdie drie dalk net ‘n bietjie moedswillig was, en daarom besluit hy om hulle nóg ‘n kans te gee. Hy maak dit egter vir hulle baie duidelik dat as hulle aanhou met hulle nonsens, dan is daar vir hulle net een paadjie en dit is die vuuroond. “En watter god sal julle uit my mag kan red?” spog hy propvol selfversekering.
Ons kan nie anders nie as om op hierdie stadium te wonder: Waarop gaan hierdie konfrontasie uitloop? Gaan die drie hulle trots sluk en maar buig voor die beeld? Doen hulle dit nie, dan is dit tiekits met hulle!
Die verrassing is dat die drie nie eers probeer speel vir tyd nie, maar hulle onmiddellike reaksie is: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red.” Ek dink ou Nebukadnesar het amper van sy troon af geval toe hy hierdie arrogante antwoord hoor. Sy bloeddruk skiet die hoogte in, maar die drie gaan rustig voort: “Indien Hy ons nie red nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie.” Nebukadnesar kook van woede, maar die Jode is steeds nie klaar nie: “Ons sal nie aan die goue beeld wat u opgerig het, eer betoon nie!” Al sou God hulle nie red nie, is hulle steeds bereid om getrou te bly aan hulle beginsels, om God alleen te aanbid!
Die koning is buite homself van woede - ‘n wrede teregstelling is wat hy nou wil sien vir sulke arrogansie! Wat sou van hierdie manne word? Sou hulle daarin kon slaag om die koning se woede te ontkom? Sou God hulle red? DV kyk ons more na die res van die verhaal.
Wat vir ons vandag belangrik is, is om te kyk na die manier waarop hierdie manne by hulle beginsels bly staan het. Wanneer daar groot druk op jou kom, is dit so maklik om kompromieë te maak. Eintlik kon hulle baie maklik toegegee het aan die koning se eise en maar net gemaak het asof hulle die beeld aanbid. Sou dit verkeerd wees? Hulle sou mos nie rêrag bid nie? Maar die feit is dat die oë van die ganse wêreld op daardie oomblik op hulle was om te sien wat hulle sou doen. God se Naam was op die spel en hulle wou die boodskap ten alle koste uitdra dat daar slegs één ware God is!
As ek en jy vandag stilbly wanneer God se heilige Naam belaster word deur mense wat dit ligsinnig misbruik, dan swig ons voor die woede van “Nebukadnesar”. As gelowiges moet ons standpunt inneem en streng daarby hou. As jou werk ‘n partytjie sou reël waar jy weet mense hulle te buite sal gaan - gaan jy maar meedoen? Of gaan jy die “nat waslap” wees wat sê: “Nee dankie, sulke dronkpartytjies is teen my beginsels?” Dit kan jou dalk duur te staan kom as jy nie meedoen nie - is jy bereid om die gevolge te dra?
Gebed:
Here, daar is soveel wêreldse druk op ons lewens. Gee my asseblief die moed om op te staan vir my geloof!