Die Keiser se Sensus

9 December, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Keiser se Sensus

Lukas 2:1-3

Video - Oudio

Die sosiale media gons! Op Twieter vlieg boodskappe rond soos: “Keiser verloor sy varkies!” Op Vuisboek word met groot smaak vertel hoe die ongeduldige Augustus skoon van sy trollie afgeraak het. Hy wil nou glo hê dat almal in die Romeinse Ryk getel moet word. Dit beteken die hele wêreld, en dis mos totaal ‘n onmoontlike saak? Op WatSap doen ‘n berig die rondte: “Moet onder géén omstandighede ‘n boodskap oopmaak wat begin met die woord SENSUS nie. Dis ‘n dodelike virus!”

Netnou-se-Nuus berig uit Rome dat die half-god, die hooggeagte Keiser Augustus so pas ‘n bevel uitgevaardig het vir ‘n wêreldwye sensus, en dat Sirenius, die Goewerneur van Sirië aangestel is om die hele operasie te koördineer.

In die Palestina Times verskyn 'n paar maande later ‘n beriggie oor die reuse verkeersknope op die gevaarlike, klipperige bergpas tussen Jerigo en Jerusalem. Verskeie donkies het glo al verongeluk. Die grootste verkeer is in die rigting van die dorpie Betlehem, wat ‘n kort entjie van Jerusalem af geleë is. Daar heers tans chaos! Betlehem is natuurlik die geboortestad van die groot koning Dawid. Sirenius het beveel dat almal na die geboortestad van hulle voorouers moet gaan vir die sensus. Koning Dawid het natuurlik ‘n menigte afstammelinge, en almal stroom na Betlehem. Hierdie gehuggie kan dit net eenvoudig nie hanteer nie!

Die verslaggewer vertel van die timmerman Josef uit Nasaret, een van die reisigers na Betlehem. Na 'n uitmergelende reis wat ‘n volle week geduur het, het hy en sy hoogswanger bruidjie uiteindelik by hulle bestemming aangekom vir die sensus. Om op die brose ouderdom van vyftien, en reeds nege maande swanger so 'n verskriklike reis te moes onderneem, was vir Maria ‘n nagmerrie! En toe moes hulle boonop uitvind dat daar vir hulle tweetjies nêrens ‘n slaapplekkie was nie, buiten in 'n vuil, stinkende stal. Alles was net een té veel vir haar, en haar Baba is nét daar in die stal gebore.

Lukas beskryf in enkele sinnetjies die geboorte van Jesus, asof dit ‘n alledaagse gebeurtenis was. Daar is egter báie meer in hierdie verhaal as wat die oog sien. 

Die magtige keiser Augustus swaai die septer en blaf bevele uit. Twee doodgewone mense sonder enige status, Josef en Maria moet maak soos hy beveel. Augustus se mag was astronomies, en baie mense het hom selfs aanbid as ‘n soort god. Hy was in beheer van die hele wêreld, van Europa tot Egipte. In skrille teenstelling is Josef se eenvoudige lewenswyse géénsins noemenswaardig nie, en Maria se status was totaal niksseggend.

Augustus kondig ‘n wêreldwye volkstelling af. Dit was ‘n ongehoorde bevel van astronomiese omvang. Die logistieke probleme was onmóóntlik groot! Om dinge te vergemaklik moes elke inwoner na die geboortedorp van sy voorouers gaan. Dit ontketen ‘n totale ontwrigting vir die samelewing, want vir meeste mense het dit ‘n reis van dae of selfs weke beteken.

Ten spyte van die omvang van Augustus se operasie, het die gebeurtenis totaal in die vergetelheid verdwyn, en dit word selfs in die geskiedenis nie eers vermeld nie. Die parallelle gebeurtenis, die geboorte van die baba van twee totaal onbekende mensies in die eenvoudige gehuggie Betlehem, word wêreldwyd selfs vandag, tweeduisend jaar later, steeds as die gebeurtenis van alle tye onthou. Waarom? 

Die antwoord is eenvoudig. Dit is Gód wat vir Augustus gebruik het om hierdie ongewone ding te laat gebeur. Was dit nie hiervoor nie, sou Josef nooit, óóit vir Maria na Betlehem geneem het in haar toestand nie. En Jesus móés in Betlehem, die Dawidstad gebore word om só simbolies die troon van die groot Koning Dawid te bestyg! 

Verder was dit baie belangrik dat Hy in ‘n stal gebore móés word, en dat Sy eerste bedjie ‘n krip sou wees waaruit diere vreet. Só het Hy alreeds by geboorte die lydensweg begin. Dáárom die volkstelling. En dáárom die horde mense wat Betlehem oorstroom het, sodat daar nêrens elders vir Josef en Maria plek sou wees as in ‘n vuil stal nie. Is dit nie absolute Goddelike ingryping nie?!

Baie mense wil hierdie dinge verklaar deur te sê dat dit ‘n toevallige sameloop van omstandighede was. Nee! Die hele gebeurtenis was haarfyn deur God beplan om uit te werk tot in die fynste detail. Selfs die sterre en planete is deur God gemanipuleer om presies reg te reageer om hierdie groot gebeurtenis te beklemtoon en wêreldwyd te verkondig!

Ons staar ons dikwels blind teen die Kindjie in die krip, en vergeet om die groter prent raak te sien, die prent van hoe die almagtige God alles laat gebeur het presies soos Hy dit beplan het. Om dit selfs duideliker vir ons as mense te maak, het Hy hierdie dinge in die Skrif laat opteken deur Sy profete, honderde jare voordat dit plaasgevind het. Voor só ‘n God kan ons net neerval in aanbidding!

Gebed:

Here, vanoggend staan ons in verwondering oor U almag. Ons loof en prys U grote Naam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026