Eksodus 5:10-24
Wie het gesê dat dit maklik is om ‘n gesant van die Here te wees? Dit is dikwels jou eie mense - gelowiges - onder wie se tong jy die ergste deurloop. Vat nou maar vir die arme Moses en sy broer Aäron. Al wat hulle gedoen het was om die Here se opdrag uit te voer, en toe word hulle sleggesê deur hulle eie broers, die Israeliete!
Die probleem is dat ek dikwels gans te kortsigtig is en nie kan besef dat God ‘n plan het vir my lewe nie. Maar nou skryf ek mos die dagstukkie totaal agterstevoor! Kom ons begin by die begin.
Nadat Moses en Aäron by die Farao was, besluit die Koning mos dat hy daardie spul lui Israeliete ‘n les gaan leer! Soos ons gister gesien het, vat hy hulle strooi weg en verwag van hulle om steeds dieselfde produksie te lewer. Dwarsoor Egipte moes die arme mense gaan stoppels bymekaarmaak om stene te maak vir die Farao, en natuurlik ly hulle steenmakery daaronder. Die opsigters is die mense wat dit eintlik moet ontgeld, want omdat die produksie afneem, word hulle geslaan deur die slawedrywers. As die volksleiers by die Farao daaroor gaan kla, word hulle summier weggejaag: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle kwansuis wil gaan offer in die woestyn. Loop! Gaan werk!”
Buite die paleis word die moedelose manne ingewag deur Moses en Aäron. ‘n Mens sou dink dat hulle bly sou wees om die ondersteuning te kry van hierdie twee, of dat hulle dalk op hulle skouers sou huil oor die onredelikheid van die Farao. Maar die teenoorgestelde gebeur. Die twee manne word uitgeskel en daarvan beskuldig dat dit alles húlle skuld is dat die Israeliete nou in die verknorsing sit. “Mag die Here julle straf!” Só word hulle vervloek deur die volksleiers.
As ek Moses was, sou ek net daar vir die klomp gesê het wat hulle met hulle verlossing uit Egipte kon doen en teruggegaan het na my rustige, kommervrye ou werk van skape oppas in die woestyn. Dáár is véél minder stres!
Maar dit is nie wat Moses doen nie! Hoe reageer hy? Hy gaan bid oor die saak! Nou nie dat dit juis ‘n modelgebed is nie, maar ons sien baie duidelik dat Moses bitter omgekrap is wanneer hy met God praat. Hy vra vrae, want hy verstaan nie. “Waarom werk U so sleg met die volk?” wil hy weet, want alles lyk vir hom dan so onregverdig, “Waarom het U my dan nou eintlik gestuur Here? Ek dog dat U die volk gaan red, maar U het niks gedoen om hulle te red nie!”
Moses voel bitter as hy met die Here praat, want absoluut niks maak vir hom sin nie.
Het jy dalk ook al só gevoel? Daardie magtelose gevoel, wanneer jy bid en vir die Here sê dat alles vir jou so bitter onregverdig lyk - waarom doen Hy dan nie iets daaromtrent nie? Putin is besig om die Oekraïne op te mors maar dit lyk asof die Here niks daaroor gaan doen nie. En intussen lyk dit asof Trump en Putin beste maatjies is! Dan is daar die onsinnige slagting in Gasa waar Israel alreeds duisende onskuldige Christene laat sterf het. Waarom laat die Here toe dat Sy kinders swaarkry en dikwels wreed vervolg word?
Ons het net eenvoudig nie antwoorde op hierdie vrae nie, maar kom ons gaan kyk wat die Here vir Moses sê. God antwoord sy moedelose gebed: “Moses, nou sal jy sien wat Ek met Farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om My volk te laat gaan.” So sê die Here vir Moses. Maar dan kom die verrassende - die Farao gaan nie alleen net luister na die gesmeek van Moses nie: “Ek gaan hom dwing om hulle uit die land weg te jaag!” Farao gaan bly wees om net te kan ontslae raak van die spul Israeliete!
Ons grootste probleem is dat ons net bly vaskyk in die probleme van die huidige. Ek weet, want ek doen dit sélf! Ons is kortsigtig en ons kan nie insien dat God ‘n langtermyn plan het wat baie groter is as ons onmiddellike behoeftes nie.
Die ander probleem is dat God dikwels aan mense opdrag gee om sekere take te verrig. Soms maak dit vir my as gelowige ongemaklik, want weereens verstaan ons nie waarom die persoon, wat maar net God se opdrag uitvoer, doen wat hy doen nie. En dan moet die arme man dit ontgeld. Om te doen wat God van jou vra, kan dikwels ‘n baie swaar kruis word en die mense wat jou die ergste kruisig is dikwels jou mede-gelowiges. Ek het al dikwels gesien hoe gemeentelede hulle leraar wil stenig omdat hy ‘n standpunt inneem en daarby staan in opdrag van God. ‘n Voorbeeld hiervan was ‘n Dominee in die Waterbron gemeente in Bloemfontein wat gedurende die apartheidsjare tydens ‘n begrafnis toegelaat het dat die oorledene se Sesuthu werkers die diens bywoon. Hy was uiteindelik gedwing om as leraar van die gemeente te bedank, bloot omdat hy die een regte menslike ding gedoen het - gedoen het wat God van hom gevra het!
Wat vra die Here van my en jou as gelowiges? Om in die eerste plek nie kortsigtig te wees nie en nie te kerm oor die geringste ou bietjie swaarkry nie. Paulus het gesê - en dit terwyl hy in haglike omstandighede in die tronk was: “Wees in alle omstandighede bly in die Here!” Maar die Here vra ook van my om diegene wat ‘n opdrag van God het te respekteer daarvoor en nie in God se pad te probeer staan nie!
Gebed:
Here, ek is baie skuldig daaraan dat ek dikwels kerm oor my omstandighede. Help my asseblief om in te sien dat U ‘n groter plan het!