Die Intog

4 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Intog

Markus 11:1-11

VIDEO * OUDIO

Petrus se hart klop in sy keel. Hier vanaf die dorpie Betanië, ‘n klein entjie van Jerusalem, sien hy die indrukwekkende mure van die ou stad uittroon. Tussen hulle en Jerusalem is daar nog ‘n dorpie wat hulle eers moet deur, Betfage. Die skare mense rondom hulle begin al hoe meer opgewonde raak. Daar broei ‘n gevoel van afwagting, asof hier vandag iets baie groot gaan gebeur. Skielik tref die gedagte Petrus, dat Jesus gewaarsku het dat hulle hom gaan doodmaak. Maar dit kan tog nie wees waarom almal so opgewonde raak nie? Dis seker maar net die naderende Paasfees! Dís wat almal só laat rondtrippel, dis die Paasfees! Petrus kan egter maar steeds net nie ontslae raak van hierdie verskriklike knop op sy maag nie. Hy voel aan dat iets verskriklik gaan gebeur!

Van Betanië af is dit ’n skotige opdraende na Betfage. Jesus roep twee van die manne nader. Hulle kry die opdrag om ‘n donkievul in die dorpie te gaan haal vir Hom. Hulle sal die dier kry waar hy vasgemaak is. En as iemand dalk wil weet waarom hulle die donkie vat, moet die manne bloot sê dat die Here hom nodig het.

“Nou wat sou die Meester met ‘n donkie wil maak?” wonder Petrus. Hier klim hulle al vir ‘n volle dag lank berg, en nes hulle die héél laaste bultjie kry, dan wil Hy opsluit ‘n donkie hê om op te ry. Dit maak nie sin nie! Maar as hy mooi dink, dan maak net mooi niks meer vir hom sin nie. Waarom moet al hierdie dinge gebeur? Waarom wil die Meester so reg in die slagyster inry? En dit nogal op ‘n donkie?

Hulle het die donkie gekry nes Jesus voorspel het, en toe hulle hom losmaak, was dit ook presies soos Jesus gesê het dat dit sou gebeur. Sy eienaar wou weet wat hulle met die donkie wou maak, en toe hulle sê dat die Here hom nodig het, het hy gesê dat hulle maar die donkie kan vat. “Hoe het Hy geweet?” wonder hulle.

Petrus kyk hoe Jesus die donkie bestyg. Nou raak die mense éérs opgewonde! “Hier kom ‘n ding!”, dink Petrus as hy sien hoe iemand sy klere oor die donkie se rug gooi sodat Jesus daarop kan sit. Petrus voel half verleë as hy sien hoe ‘n groot ophef die mense van Jesus maak. Hulle trek selfs hulle boklere uit en gooi dit op die pad sodat Jesus daaroor kan ry. “Hulle wil Hom koning maak!” besef Petrus baie gou. Dié wat jammer is vir hulle klere, breek groen takkies af en plavei die pad waarop Jesus moet ry met ‘n groen lower. Die skare raak al hoe meer opgewonde en hulle sweep mekaar op. “Hosanna!” sing hulle. “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”

Heimlik wonder Petrus of hierdie mense óóit besef wat hulle doen? Skielik dink hy terug aan daardie asemrowende dag op die berg saam met Jakobus en Johannes, toe Moses en Elia uit die hemel gekom het. Alles is nog só onwerklik! Was dit nie dalk net ‘n droom nie? Nee! Dit het werklik gebeur! Hy het nog God se stem uit die hemel gehoor, en hy onthou hoe verskriklik hy gebewe het van angs. Die Meester is daar op die berg verheerlik deur God Sélf, Persoonlik! En nou is hy boonop ook getuie van die duisende mense wat óók vir Jesus verheerlik, hier vlakvoor Jerusalem.

“Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” dreun-sing dit uit duisende monde. “Geseënd is die Koninkryk wat kom, dié van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste!”

Die angsgevoel wat dreig om Petrus se maag op te vreet maak plek vir ‘n wonderlike gevoel van trots. O hoe wonderlik is dit om deel te wees van die binnegroepie van die Meester! Al singende en dansende beweeg die optog deur die dorpie Betfage. Dan kronkel hulle die lang afdraende af teen die hange van die Olyfberg tot onder in die Kidronvallei. Voor hulle troon die statige mure van die stad Jerusalem, en natuurlik daardie manjifieke gebou wat Petrus trane in sy oë gee, die tempel.

By die noordelike ingang van die tempelterrein klim Jesus van die donkie af. Hulle stap deur die groot binnehof met sy pilaargange wat die tempelterrein omring. Petrus se mond hang onbeskaamd oop van verwondering. Oral sien hy klein groepies jong manne in die skadu sit tussen die rye en rye pilare, elkeen met ‘n Rabbi wat besig is om hulle te leer. Petrus glimlag, dan verskuif sy blik na die hoofgebou. Hy snak na sy asem, en ‘n loflied begin spontaan oor sy lippe borrel.

Dis al laatmiddag en die tempelgebou gooi reeds lang skadus. Jesus ruk die twaalftal terug na die werklikheid: “Kom, ons moet nog terug tot by Betanië om slaapplek te kry vir die nag. Ons sal more weer terugkom.”

Wanneer Petrus en sy maats die steil Olyfberg uitklim, terug op pad na Betanië, skiet sy gemoed vol. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om deel te mag wees van die volk van God, en om te mag deel in al hierdie dinge!

Kan ek en jy nie óók vandag dieselfde sê nie? Hoe groot is God se genade oor ons as gelowiges, dat ons mag deel in al die rykdom van God se Koninkryk. Soms, as ek daaraan dink, dan loop die trane oor my wange, trane van dankbaarheid. Hy is groot! Hy is goed! Hy is genadig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026