Lukas 24:50-53
Ses volle maande het ek en jy hierdie pad gestap wat Lukas met soveel deernis beskryf het. Die verhaal is natuurlik aan my welbekend, en sekerlik vir jou ook, want ons het hierdie boek al talle kere deurgelees. Nogtans was elke perikoop weereens vir my kraakvars en nuut, en ek het elke tree deur die boek terdeë geniet. Ek hoop dat dit vir jou dieselfde was. Ja, daar was pynlike dae en tye wat jy wil skreeu: “Hoe onregverdig!” Maar as jy deur die afgelope ses maande toegelaat het dat die Heilige Gees met jou praat deur Lukas, dan sou jy verryk gewees het met elke perikoop waardeur ons geloop het.
Aan die begin van Lukas se boek skryf hy aan die hooggeagte Teofilus: “Ek het dit goedgedink om self alles van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.”
Lukas het baie deeglik navorsing gedoen voordat hy hierdie verhaal opgeteken het, en regdeur die boek staan ‘n mens verstom oor die detail waarin hy dikwels die insidente beskryf, al het hy die dinge nie self meegemaak nie. Hy moes natuurlik skryf soos wat ooggetuies alles vir hom vertel het. Die belangrikste is egter die geweldige groot rol wat die Heilige Gees gespeel het in die skryf van hierdie verhaal. Lukas het geweet wat om te skryf, want hy was bereid om te luister na die onhoorbare stem van die Heilige Gees.
Aan die einde van Lukas se verhaal, vertel hy hoe Jesus die dissipels uit die stad uitgelei het na die nabygeleë dorpie, Betanië, waar Hy hulle geseën het en toe van hulle af weggegaan het toe Hy in die hemel opgeneem is. Afskeid is gewoonlik ‘n baie droewige ding, maar in hierdie geval beskryf Lukas nie ‘n hartseer prentjie nie, maar een gevul met blydskap. Hy vertel dat die dissipels Jesus aanbid het. Wanneer ons Lukas se boek deurlees, sien ons dat hierdie woord “aanbid” alleen gebruik word wanneer iemand God aanbid. Waarom aanbid hulle nou skielik vir Jesus?
Jy sal onthou dat Jesus in die vorige episode hierdie dissipels se geestesoë oopgemaak het sodat hulle kon verstaan waaroor dit alles gegaan het. Hier moes hulle sékerlik tot die slotsom gekom het dat Jesus nie alleen maar die “Profeet” was wat baie mense gedink het Hy is nie en beslis ook nie maar net ‘n Wonderwerker nie. Jesus is die Seun van die Lewende God, die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid. Jesus was nie Iemand wat so pas 33 jaar gelede gebeur het nie, maar Hy was daar van die héél begin af. In Genesis 1:26 staan daar dat God gesê het: “Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger”. Die “Ons” waarvan hier gepraat word is die Vader, Seun en Heilige Gees. Jesus was dus mede-Skepper. Hy is God, en daarom aanbid hulle Hom!
Iets anders wat ons opval in hierdie perikoop, is dat hierdie manne “met groot blydskap” terug is na Jerusalem. Hulle was nie bedroef nie, want alhoewel hulle hulle Meester nie meer fisies kon sien nie, was die wonderlike wete daar dat Hy steeds by hulle is. In Matteus 28:20 lees ons dat Jesus vir hulle by hierdie geleentheid gesê het: “Onthou: Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Die dissipels is propvol vreugde, want Jesus leef!
Lukas se verhaal het by die tempel begin toe die bejaarde ou Sagaria van God gehoor het dat Johannes gebore sou word. Nou eindig die verhaal weereens by die tempel, waar die dissipels gereeld bymekaar kom om te aanbid en God te prys. Deurgaans speel Jerusalem en die tempel as middelpunt van aanbidding ‘n baie belangrike rol in Lukas se verhaal.
Lukas kom nou aan die einde van sy verhaal van Jesus. Maar dit is gladnie waar dit eindig nie, want hy is klaar besig met ‘n splinternuwe verhaal - Handelinge. Die einde is dit beslis nie! Hierdie is eintlik maar net die begin, want hier by die tempel, waar die dissipels geduldig wag op die belofte wat Jesus gegee het, staan die kerk in sy babaskoentjies. ‘n Spanning bou op vir reuse dinge wat binnekort gaan gebeur!
Die hemelvaart is vir die wêreld onverstaanbaar en dus onaanvaarbaar. Dit is ’n mite wat in die gedagtes van Christene leef! Vir die gelowige is daar egter ’n ander werklikheid: Jesus lééf! Maar nie alleen leef Hy nie, maar Hy het opgevaar na die hemel waar Hy regeer! Wanneer die angste, droefheid en pyn wat die lewe dikwels vir ons gee, besig is om ons onder te kry, moet hierdie wonderlike gedagte vir ons troos, hoop en krag gee. As ons terugdink oor die dinge wat ons die afgelope ses maande van Jesus geleer het, sien ons dat swaarkry dikwels deel van God se plan is, en dat al verstaan ons nie dan wat die rede is nie, ons met vreugde kan besef dat Hy in beheer is en dat Hy steeds regeer en dat Hy op die regte tyd en oomblik sal ingryp om Sy wonderlike, dikwels onverstaanbare wil te bereik. En dan die ongelooflike wete, dat al is Hy in die hemel, is Hy steeds hier en nou met ons!
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat U nie weg is nie, maar dat U ook vandag hier by my is.