Die Heilige Gees

25 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Heilige Gees

Galasiërs 3:1-6

Video

Oudio

Hoe belangrik is ‘n “ervaring met die Heilige Gees”? Met hierdie vraag krap ek dalk vanoggend ‘n byenes oop, want verskillende mense verstaan verskillende dinge onder hierdie term, en sommige mense kan baie warm onder die boordjie raak as jy dit maar net noem. In die NG Kerk was daar vir baie jare ‘n tradisie dat jy nie eers hieroor praat nie, want dit is “sektaries”. 1 Kor 13 is ‘n baie gewilde Skrifgedeelte, dikwels om die verkeerde redes. Hierdie gedeelte handel oor die uitnemendheid van die liefde, en dan staan daar dat liefde baie belangriker is, selfs as Geesteservarings. Dit wil egter nie sê dat ‘n ervaring met die Heilige Gees onbelangrik of minderwaardig is nie. Ons in die NG Kerk wil egter dikwels ervarings met die Heilige Gees wegwens. 

Paulus skryf aan die Galasiërs oor basies dieselfde probleem. In hulle geval was dit egter die Wet van Moses wat vir hulle belangriker geword het as die Heilige Gees. Paulus is skoon ongedurig as hy hieroor skryf, want die wet kan niemand red nie, maar daar het iets met daardie mense gebeur toe hy destyds aan hulle die evangelie verkondig het, wat gemaak het dat hulle geloof brandend was. Wat was dit? Hulle het die Heilige Gees ontvang. Uit wat Paulus skryf kan ons aflei dat die werk van die Heilige Gees op ‘n baie duidelike manier gesien kon word in hulle lewens nadat hulle tot bekering gekom het. Ons weet nie presies wat daar gebeur het nie, want Paulus noem dit nie, maar ons kan maar net raai. Moontlik is dit die vrug van die Gees wat in só ‘n mate tot uiting gekom het dat hulle letterlik gestraal het. Dit kon ook die praat van vreemde tale of iets dergeliks gewees het. In vers 4 vra Paulus: “Was julle swaarkry dan verniet?” Die 2020 vertaling lees:  “Het julle vergeefs soveel beleef?” Dit verwys na die kragtige werke van die Heilige Gees waarvan Paulus in vers 5 praat.

Wat Paulus eintlik hier wil sê is dat God die Heilige Gees aan elkeen van hierdie gelowiges gegee het nadat hulle die evangelie van Paulus gehoor het. Paulus het dus die evangelie volgens God se wil oorgedra. Sy prediking was korrek. Dit is daarom dat hy hulle oor en oor die vraag vra, hoe hulle dan die Heilige Gees gekry het. Eers later het die dwaalleraars gekom en ander dinge in hulle koppe geprop, en sodoende Paulus se boodskap totaal verdraai.

Dit is belangrik om te weet watter geweldige verandering die evangelie destyds tot gevolg gehad het. In ‘n ou gevestigde tradisie van afgodediens moes hierdie mense skielik ‘n totale nuwe siening aanvaar. Hulle moes versoen met ‘n Godsdiens wat radikaal anders was as dit waaraan hulle gewoond was en dikwels gladnie sin gemaak het nie. Menslike redenasie sou hulle nooit tot ander insigte kon bring nie, alleen die kragtige werk van die Heilige Gees! Dit het nie alleen hulle denke verander sodat hulle al hulle gode laat vaar het om in slegs één God te glo nie. Boonop 'n God wat Sy Seun vir hulle laat offer het! Dit het hulle ganse lewensstyl verander. Haat, wraak en angs het plek gemaak vir liefde en vertroue.

En vandag? Watter verskil maak die Heilige Gees in mý lewe? Ek kry skaam as ek besef vir watter ou klein verskilletjie ek dikwels bereid is om voor toe te gee maar is nie bereid om die Heilige Gees toe te laat om ingrypende veranderinge in ons lewens te maak nie. God het tog nie verander sedert Paulus se tyd nie! Wat hét dan verander?

Dit kan dalk ‘n kombinasie van ‘n hele aantal dinge wees: eerstens is ons oor baie jare in die kerk geleer dat jy jou Christenskap baie stemmig moet hou (nou praat ek spesifiek van die NG Kerk en haar susters). Jy wil tog nie gebrandmerk word as “Charismaties” nie? Tweedens dink ek dat ons gevorderde tegnologie en wetenskaplike denke ook sy merk maak. Enigiets wat nie wetenskaplik bewys kan word nie, word dikwels afgemaak as ‘n mite. Geloof in Jesus Christus, en die werking van die Heilige Gees is so ‘n “onbewysbare” saak, en dus hou jy dit maar stil anders word jy dalk uitgelag. Iemand sê eendag vir my dat hy nie in God kan glo nie, want hy kan nie glo in Iemand wat alomteenwoordig is nie? Niemand kan tog tegelyk in twee verskillende plekke wees nie? Dis mos gans onmoontlik!

Dit het tyd geword dat ons die Heilige Gees vrye teuels gee in ons lewens. Dankie tóg dat baie NG gemeentes besig is om te ontwaak, en dat ons wonderlike verandering daar kan sien. My bede is dat dit ook deur sal suurdeeg na individue toe, en dat ek en jy sal toelaat dat die Heilige Gees ons lewens ten volle beheer, sodat ons brandend en bruikbaar in God se Koninkryk sal word.

Gebed:

Heilige Gees, kom asseblief en bevry my gedagtes sodat ek U vrye teuels in my lewe kan gee om in my en deur my te werk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026