Die Haan se Kraai

10 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Haan se Kraai

Lukas 22:54-62

VIDEO | OUDIO

Petrus voel baie skuldig dat hy hom so lafhartig gedra het. Toe hy die oormag sien en sy Meester wat in boeie rondgestamp word, het iets in hom gebreek. Hy het bitter bang geword en gevlug, die woedende skare wou hom en sy maats óók bykom!

Maar dan onthou hy skielik van sy brawe stelling vroeër die aand, dat hy by Jesus sou staan deur dik en dun, al kos dit hom ook sy lewe. Dan neem Petrus die besluit: “Ek sál by die Meester staan! Ek sál Hom gaan ondersteun waar hulle Hom nou heen vat!”

Haastig draai Petrus om en stap doelgerig in die rigting van waar die soldate verdwyn het. Dit is ook nie lank voordat hy die optog opmerk wat op pad is na die luukse huis van die Hoëpriester. Ongemerk sluit hy hom aan by die agterhoede van die skreeuende skare. Die meeste van hulle keer huiswaarts wanneer hulle Jesus in die binnehof van die huis invat.

Petrus trek die doek laag oor sy oë: “Hier moet hulle my nie nou herken nie!” dink hy. Hy gaan staan op 'n afstand waar dit donker is. Die nagluggie is ysig en die manne het 'n vuur aanmekaargeslaan om die koue te verdryf in die middel van die binnehof.

Eenkant staan 'n groepie tempelwagte met Jesus in die middel van die kring. Kort-kort kan Petrus hoor hoe hulle vulgêr lag. Hulle spot met sy Meester! Petrus krimp inmekaar as hy sien hoedat een van die wagte sy Meester met die vuis in die gesig slaan. Jesus is geblinddoek. “Toe,” hoor hy die wag skreeu, “profeteer vir ons wie jou geslaan het. Jy is mos 'n profeet, is jy nie?” Weereens lag die manne bulderend.

Petrus voel sy bene pyn van die koue. Hy sluip nader en gaan sit ongemerk by die vuur. 'n Jong diensmeisie se oë draai 'n paar keer in sy rigting, kyk hom dan stip aan en Petrus voel baie ongemaklik. Hy trek die doek nog laer oor sy gesig. Hy sien die meisie fluister iets vir die persoon langs haar en dan draai al die koppe in sy rigting. Petrus voel kriewelrig. Die meisie wys haar vinger na Petrus: “Hierdie een was ook saam met daardie Man wat hulle vir die verhoor ingebring het,” verklaar sy sodat almal om die vuur haar kan hoor.

Petrus wens dat die aarde hom moet insluk. Nou is hy diep in die moeilikheid: “Nee juffrou, jy maak 'n fout, ek ken Hom nie eers nie!”

Petrus wil opspring en weghardloop, maar as hy dit nóú doen gaan hulle mos wéét dat hy skuldig is. Daarom bly sit hy.

Iemand klap vir Petrus op die rug: “Haai! Jy is mos een van die ouens wat saam met die Profeet loop, jy's een van Sy dissipels!”

“Man, ek is nie!” sê Petrus vererg. Kan die mense hom dan nie uitlos nie?

Daar in die anderkantste hoek van die binnehof sien Petrus steeds hoe die manne vir Jesus rondstamp en kort-kort klink die bulderende gelag op as hulle Hom spot. Hy wens só dat hy iets kan doen om die Meester te help, maar hy voel so magteloos! “Hy dink mos Hy is 'n God!” hoor hy iemand dit uitskreeu, “maar wat nou? Nou is Hy magteloos om Homself te kan red!” En weereens lag die groep vulgêr.

Petrus voel siek.....

Omtrent 'n uur later kom een van die tempelwagte sy hande warm maak by die vuur. Dan merk hy vir Petrus: “Sowaar! Watter vermetelheid om nou hier te kom sit!” blaf die man vir Petrus, “Kêrels, hier is een van die Galileërs wat saam met die Profeet was. Ek herken hom!”

“Man, jy weet nie waarvan jy praat nie!” Petrus spring woedend op. “Ek ken Hom nie! Kry dit nou vir eens en altyd in jou kop, ek ís nie een van Sy dissipels nie!”

Op daardie oomblik kraai 'n haan om die koms van die Vrydagoggend aan te kondig.

“Petrus, Ek sê vir jou, voordat die haan vannag kraai sal jy My drie keer verloën deur te sê dat jy My nie ken nie!” Met 'n skok onthou Petrus Jesus se woorde van vroeër die aand. Hy word doodsbleek. Hy spring op en storm buitentoe, die nag in en dan bars Petrus in rou snikke uit. Hy huil bitterlik terwyl hy aanhou sê: “Here, vergewe my, vergewe my. Hoe kon ek U so lafhartig verloën!”

Petrus is stukkend van droefheid en bitter berou.

Die dag begin breek en een-vir-een begin die lede van die Joodse Raad die binnehof instap vir hierdie belangrike verhoor.

Elders is daar nóg iemand wat bitterlik huil. Judas het besef dat hy 'n baie groot fout gemaak het. Maar nou is dit te laat. Of is dit? Sal hierdie verraad van hom nie dalk die Messias tot Sy sinne ruk sodat Hy sal opstaan en die Joodse volk lei in 'n opstand teen die Romeine nie? “Ek sal die geld wat hulle my betaal het vir die verraad gaan teruggee,” besluit hy skuldig.

Gebed:

Here, nes Petrus staan ek vanoggend ook skuldig, want hoeveel keer het ek U nie al verloën nie, anderpad gekyk en gemaak asof ek U nie ken nie, wanneer daar dinge oor U gesê word, en ek nie reageer nie. Vergewe my asseblieftog Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026