Josua 15 tot 19
Wanneer dit by die verdeling van die land kom, is dit tóg belangrik dat ons na die grondgebied van Juda kyk. Nie alleen kry Juda een van die grootste stukke van die land nie, maar dit vorm ook die belangrike suidgrens van Israel. Dit strek van die Dooie See aan die oostekant tot by die Middellandse See aan die weste. Die suidgrens strek tot by Egipte, Edom en die Sinwoestyn. En noord grens dit aan die grondgebied van Benjamin. Hierdie twee stamme sou later saamsmelt om die Suidryk te vorm en natuurlik die vesting van Koning Dawid.
Nou moet ons egter ietsie meer oor Kaleb sê. God beloon sy geloofsvertroue deur Hebron vir hom te gee. Hy is natuurlik deel van die stam van Juda. Op gevorderde ouderdom (85) verower hy ook die stad Debir met die hulp van Otniël.
Ons lees nie veel van Kaleb in die Bybel nie, maar in die bietjie wat ons lees, sien ons hom as ‘n uitstaande geloofsfiguur wat nie skroom om sy hand wyd oop te maak vir ander nie. Sy dogter Aksa trou met Otniël. Met die grondverdeling het Otniël ‘n stuk grond gekry in die droë Suidland, en daar moes hy en sy bruid Aksa ‘n lewe maak. Aksa vra toe vir Kaleb of hulle nie asseblief maar ‘n stukkie vrugbare grond kan kry nie, waarop Kaleb vir hulle verskeie fonteine gegee het. Wat Kaleb so mildelik van die Here ontvang het, deel hy weer mildelik met sy familie. Op hierdie manier maak hy die Here se sorg vir elkeen in sy familie sigbaar.
Wanneer Juda hulle grondgebied kry, is daar ook talle stede en dorpe wat deel van hulle eiendom word. Een stad is hulle egter nie beskore nie: Jerusalem. Dit word beset deur die Jebusiete, en hierdie formidabele vestingstad staan onwrikbaar in die berge. En daarmee moet Juda maar net eenvoudig saamleef. Dit maak natuurlik van Jerusalem ‘n baie belangrike stad vir die volk en een waarin hulle net eenvoudig nie hulle tande kan slaan nie. Dit sou baie jare duur voordat Jerusalem aan Juda behoort. Dit sou eers ‘n uiterste strateeg soos Koning Dawid vat om hierdie begeerlike stad met sy asemrowende, ondeurdringbare mure te verower.
Wanneer ons aan die stamme van Israel dink, is dit natuurlik ingedeel volgens die seuns van Jakob. Elke seun het sy eie stam gehad. Efraim en Manasse was egter nie Jakob se seuns nie, maar Josef se seuns, met ander woorde Jakob se kleinseuns. Jakob het hulle egter aangeneem as sy eie kinders en hulle ook so geseën. Dus tel hulle regmatig as stamvaders. Wanneer die grond verdeel word, kry hierdie twee stamme dan ook elkeen sy eie grondgebied. Hulle was egter nie tevrede met hulle grondgebied nie en in Josua 17:14-18 sien ons hoe hulle by Josua kla dat hulle nie genoeg grond het nie en dat hulle bang is vir die Kanaäniete met hulle ysterstrydwaens. Josua gee vir hulle ‘n stuk boswêreld wat hulle kan gaan skoonmaak, maar dan vermaan hy hulle omdat hulle nie genoeg vertroue in die Here het nie. Hulle kán mos die Kanaäniete verslaan!
Wanneer jy met God aan jou kant steeds nie die geloofsmoed het om jou moeilike lewensomstandighede te oorkom nie, sal jy ‘n slaaf van jou omstandighede bly. Dit moes Efraim en Manasse baie deeglik besef. En dit moet ek en jy vandag steeds nét so deeglik besef! Jy sal sukses behaal slégs as jy die inisiatief neem en met jou oë op God gerig, jou geleenthede gebruik. Met ander woorde, steeds in volle afhanklikheid van God.
Josua besluit dat dit tyd geword het vir die volk om te skuif. Van Gilgal af trek hulle nou na Silo waar daar reeds ‘n bekende heiligdom vir Israel was. Daar slaan die volk nou kamp op en die Tent van Ontmoeting word ook hier opgeslaan as simbool van God se teenwoordigheid.
Op hierdie stadium was die verdeling van die land nog nie finaal gefinaliseer nie. Tot op datum het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manasse stamme reeds hulle nis aan die oostekant van die Jordaan gekry. Efraim, Juda, Ruben en die ander halwe Manasse stamme het ook reeds aan die westekant van die Jordaan hulle grond gekry en die stam van Levi was ook uitgesorteer, verdeel tussen die stamme. Hier was dus nou nog sewe stamme wat nie hulle deel van die land opgeëis het nie. Josua tik hulle oor die vingers oor hulle traagheid, want dit kom neer op ongehoorsaamheid aan God. Waarom wag hulle dat die Here dinge in hulle skote laat val?
Dan neem die Here weereens die inisiatief en Hy gee hulle ‘n opdrag om die res van die land te gaan verken en dit te verdeel, en dan moet hulle kom verslag doen.
As gelowiges wil die Here hê dat ons sélf die inisiatief sal neem en kreatief dink. Natúúrlik moet ons Hom daarin ken, maar Hy wil ons nie die hele tyd met ‘n lepel voer nie! Met geloofsmoed moet ons verantwoordelikheid neem en die eerste stap neem. Ons is nie slawe in God se koninkryk nie, maar Konings! ‘n Slaaf doen net wat hy voorgesê word. ‘n Koning dink en beplan sélf en hy neem verantwoordelike besluite!
Gebed:
Here, ek besef vanoggend dat ek moet uitspring en verantwoordelikheid neem vir my lewe. Ek kyk op na U vir leiding want ek wil niks doen wat buite U wil is nie!