Rigters 7:8-25
Gideon staan verslae. By hom is slegs driehonderd beangste manne. “Hoe gaan ons ou paartjies die oormag van die Midianiete aanvat?” Oorkant die vallei staan die tente van die vyand opgeslaan. Oral waar die oog kan sien is soldate - soos ‘n bedrywige miernes krioel dit van hulle. “Hulle is soos die sand van die see!” merk een van die manne op met ‘n bewende stem.
Gideon het aanvanklik vir hom ‘n sterk leër van 32’000 man bymekaargemaak, maar God het anders besluit. 300 Mans was genoeg om die magtige leër van die Midianiete te verslaan!
“Toemaar, God sal hulle in ons hand gee!” verseker Gideon die manne, maar diep in sy binneste weet hy sélf nie so mooi nie. Sy kniekoppe klap eintlik teenmekaar! Hy probeer hard om sy kommer weg te steek, maar hy hoor sy handjievol manne se vrees:
“Kyk net al die kamele! Daar moet duisende wees - ek kan hulle nie eers tel nie.”
“Oooo toggie, môre is ons laaste dag!”
Daardie nag kan Gideon nie slaap nie, en hy bly rondrol. Dan word hy wakkergeskud deur 'n stem: “Gideon! Gideon, staan op! Ek wil hê dat jy na die kamp van die Midianiete toe moet gaan. Vat jou slaaf Pura en sluip saggies die kamp binne. Moenie bang wees nie - niemand sal jou opmerk nie. Daar is iets wat Ek wil hê dat jy moet hoor in die kamp.” Die Here het geweet hoe bang Gideon was, en Hy wou hom eers ‘n bietjie moed gee.
“Pura, Pura word wakker!” Gideon skud die slaaf uit die vere. “Kom, ons het werk om te doen.”
Suutjies sluip die twee manne na ‘n ruk die laer van die Midianiete binne. As hulle langs een van die tente verbysluip, skrik Gideon dat sy hart in sy keel klop as iemand daar binne skielik regop sit. Gideon-hulle vries, en dan hoor hulle hoe die man sy maat wakkerskud. “Wat is dit tog?” wil die maat weet.
“Jong, ek het nou net ‘n verskriklike droom gehad. Ek droom dat daar ‘n ronde garsbrood teen die berg afgerol kom in die laer in. En toe rol die brood reguit na ons tent toe, en hy stamp die tent om sodat alles inmekaar tuimel! Sjoe, dit was angswekkend!”
Die maat bly ‘n rukkie stil, en dan antwoord hy met ‘n bewende stem: “Weet jy wat? Dit is die swaard van daardie Israeliet Gideon! Ek sê jou nou al: Húlle God gaan ons hele leër uitwis dat daar niks van ons oorbly nie! Dis ‘n voorbode, ek sê jou dit nou!”
Buite die tent prewel Gideon: “Dankie Here!” Hy vat sy slaaf aan sy arm en beduie vir hom dat hulle moet gaan. En so suutjies as wat hulle die kamp ingesluip het verdwyn hulle weer. Wanneer hulle terugkom in die Israeliete se kamp, maak hy al die manne wakker. “Kom manne, die Here het so pas die Midianiete in ons mag oorgegee!”
Hy verdeel die manne in drie groepe, en elke man kry ‘n ramshoring, ‘n leë erdekruik en ‘n fakkel. “Nou moet julle mooi luister”, sê hy vir hulle. Hy verduidelik hoe hulle die kamp gaan omsingel. Die fakkels moet hulle binne-in die kruike dra sodat niemand die lig kan sien nie.
In stikdonker sluip hulle tot reg by die laer. Hulle sien hoedat die wagte omgeruil word, en dan wag Gideon net totdat die laaste wag in sy tent verdwyn voordat hy die teken gee. ‘n Onaardse, bloedstollende klank vul skielik die lug as Gideon op sy ramshoring blaas. Soos een man blaas al driehonderd manne gelyk op hulle ramshorings reg rondom die kamp. Hulle breek die kruike, en skielik is daar oral net fakkels en bloedstollende krete van die Gideoniete.
Totale chaos breek in die kamp uit. Die manne gryp in die pikdonker na hulle swaarde en begin woes veg met ‘n vyand wat hulle nie kan sien nie. Oral hardloop mense vreesbevange al gillend rond, want die magte van Gideon en sy God is op hulle. In die chaos maak die soldate mekaar op strepe dood. Uiteindelik begin hulle effens rigting kry, en hulle besef dat die oorhand totaal te groot vir hulle is. Hulle slaan op die vlug en hulle hou nie op hardloop totdat hulle al ver oorkant die Jordaanrivier is nie!
Dan stuur Gideon boodskappers na die manne van Naftali, Aser en Menasse om te kom help om die Midianiete te agtervolg. Ook die manne van Efraim is opgeroep - hulle moes die Jordaangebied kom beset. Daar het die manne dan ook twee van die groot leiers van die Midianiete gevang en doodgemaak.
Hierdie was waarlik ‘n sege wat vir elkeen gewys het dat dit nie ‘n sterk leër is nie, maar dat dit God was wat Israel gered het, soos wat Hy soveel keer tevore al gedoen het.
Vertrou ons werklik die Here? Ek dink dis nodig dat ons daagliks die vraag vir onsself afvra of ons die Here vertrou met ons hart en siel en verstand en al ons kragte, en of ons Hom ook so onvoorwaardelik liefhet.
Ons tema vir die reeks is “Genade”. In die aangrypende verhaal van Gideon, sien ons net weereens God se groot genade. Gideon is aanvanklik onwillig om die taak op sy skouers te neem, maar God wys hom en die volk dat dit nie hulle krag is wat die vyand verdryf nie, maar God wat in genade optree, ten spyte van hulle tekortkominge.
Gebed:
Here, vandag wil ek bevestig dat ek U onvoorwaardelik vertrou met alles binne-in my!