Die Geslagsregister

21 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Geslagsregister

Matteus 1:1-17

VIDEO | OUDIO

As jy vir Jode iets wou skryf oor ‘n prominente Joodse persoon, sou dit nét reg wees om eers sy geslagsregister weer te gee sodat jou lesers darem kon weet waarvandaan die persoon stam en wie hy is. Só begin Matteus dus ook sy verhaal met die geslagsregister van Jesus om Hom sodoende behóórlik aan sy lesers bekend te stel. Hulle wou mos weet waarvandaan Hy kom en presies hoe Sy familie inmekaar steek. “Hoe bôring!” sou meeste mense sê. Wat kan daar nou interessant wees aan ‘n ellelange lys van name? Maar ek wil jou uitnooi om saam met my na Matteus se lysie te gaan kyk. Ek waarborg jou ‘n paar baie interessante, dalk selfs skokkende feite!

Hy begin by Abraham, ’n baie goeie plek om te begin, want Abraham was darem nou vir jou ‘n gelowige man uit een stuk! Delf jy egter ’n bietjie dieper in Abraham se kas, dan kom jy af op ’n paar gruwelike geraamtes! Soos die slag toe hy sy vrou as sy suster voorgestel het aan die farao, en groot moleste veroorsaak het. Later herhaal hy hierdie truuk van hom by etlike geleenthede (Gen. 20:13).

Abraham was egter ook die vader van die ganse Arabiese wêreld. Sy eerste seun, Ismael (by die slavin) het later teen Abraham se ander nasate oorlog gemaak. En vandag, duisende jare later gaan daardie selfde oorlog steeds voort! Hoe ironies, dat die Jode sowel as die Arabiese volke, wat hoofsaaklik Moslems is, Jesus vandag as Verlosser verwerp!

Die volgende gróót naam in die lys is Jakob, ook bekend as die Bedrieër. Selfs die heidense regter, Pontius Pilatus, moes erken dat daar géén bedrog in Jesus is nie. Tóg staan die naam van die bedrieër, wat selfs sy eie broer se erfporsie gesteel het, pertinent in Sy geslagsregister, só pertinent dat die ganse Joodse volk na hom vernoem is: Israel. Hierdie naam het hy gekry toe hy met God geworstel het in die Jabbok-drif.

‘n Joodse geslagsregister bevat gewoonlik slegs die mans se name. Matteus doen egter iets ongehoord, en hy sluit vier vrouename ook in. Die eerste een is die baie interessante naam van Ragab. Maar was sy dan nie ‘n prostituut nie? En boonop óók nog ‘n Kanaäniet, ‘n heiden! Hoe kan Jesus dan uit die geslagslyn van só ‘n ongure persoon kom?

Dit raak egter nog erger, want die tweede vrouenaam is dié van die skandelike Tamar wat haar eie skoonpa verlei het en met hom geslagsgemeenskap gehad het!

Maar daar is nóg heidense vroue in hierdie geslagsregister, soos die Moabitiese vrou, Rut, die ouma van koning Dawid.

En so gepraat van Dawid, die vierde vrou se naam word nie eers genoem nie. Sy word slegs beskryf as “die vrou van Urija” om die skande van Dawid se owerspel in te vryf. Terloops, Batseba was ‘n Hittiet. Wat sake nog erger maak, is die feit dat daardie baie groot naam in Jesus se geslagslyn, Dawid, nie net owerspel gepleeg het nie, maar boonop vir Urija koelbloedig laat vermoor het om Batseba te kon kry.

Wat lees ek in hierdie name? Jesus is onherroeplik verbind tot die doodgewone sondaar-mens! Jesus het nie na hierdie wêreld gekom slegs vir die Jode nie, want as dít die geval was, sou ons dalk vandag Sy sending as ‘n mislukking kon bestempel omdat so min Jode Hom volg. Jesus het egter vir die ganse wêreld gekom. Ons sien dit duidelik in die laaste hoofstuk van Matteus, waar Jesus se opdrag is om die Evangelie aan die wye wêreld uit te dra. In die tweede plek sien ek ook dat Jesus nie net vir die “heilige” mense gekom het nie, maar vir sondaars, selfs prostitute, egbrekers, bedrieërs en moordenaars. Inderdaad sien ons Hom terwyl Hy aan die kruis hang in Sy laaste oomblikke, waar Hy ‘n veroordeelde rower vryspreek. Die man sou dieselfde dag nog in die paradys wees!

Wie is hierdie Jesus waarvan Matteus skryf? Waarom moet ek Sy volgeling wees? En wat verwag Hy van my as volgeling? Hierdie vrae sal Matteus in die volgende klompie hoofstukke vir ons beantwoord.

Ons het reeds gesien hoe menslik-gebonde Jesus is. Maar daar is ‘n ander sy van Hom wat Matteus aanraak in hierdie geslagsregister, naamlik Sy Goddelike. Die Goddelike beplanning van Jesus se geboorte word baie subtiel opgesluit in vers 16 en 17, waar Josef nie Jesus se vader genoem word nie, en Maria ook nie Sy moeder nie. Josef word genoem “die man van Maria, uit wie Jesus, wat bekend staan as Christus, gebore is.” Hieruit sien ons dat Jesus geen aardse vader of moeder het nie, en dit impliseer Sy Goddelike karakter. Verder word die Goddelike ingryping in die planmatige ordening van die geskiedenis benadruk wanneer Matteus noem van die drie maal veertien geslagte van Abraham tot by Jesus se geboorte.

Matteus het persone uitgelaat om elke keer by 14 uit te kom. Hy doen dit egter met opset. Letters en woorde het in Hebreeus waardes gehad. “Dawid” se getalswaarde is 14, en 3 maal word Dawid se getal in Jesus se geslagsregister ingebou. Hy is dus sonder twyfel die Dawidskoning wat sou kom!

Wat is daar vir my persoonlik opgesluit in hierdie gedeelte? Natuurlik weet ek dat Jesus God is. Ek het dit immers my hele lewe lank geleer, en as sodanig kan ek Hom aanbid. Hierdie gedeelte bring my as mens egter baie nader aan Jesus, en ek kan my swakhede, my sonde, my menswees na Hom toe bring. Selfs lank voor Sy geboorte het Hy reeds hiermee te doene gehad, en Hy weet alles daarvan af. Daar is niemand meer gekwalifiseerd as Hy om my daarmee te help nie!

Gebed:

Here, ek kan U nooit genoeg dank en loof en prys vir al die genade wat U my as mens bewys nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026