Die Feesmaal

7 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Feesmaal

Genesis 43:1-34

Ruben is ‘n baie bekommerde man. As oudste van Jakob se seuns, rus die verantwoordelikheid nou swaar op sy skouers. Pa Jakob begin nou baie oud raak, en hy wat Ruben is sal die leisels moet oorneem. Hy kan sy tong afbyt oor die misstap wat hy jare gelede begaan het, toe hy en Pa se slavin-vrou....... Nee daarvan wil hy liewer vergeet. Hy wonder of Pa hom al ooit daarvoor vergewe het.

Maar nou sit hy met ‘n baie groot dilemma: Simeon sit in die tronk in Egipte, gyselaar van daardie belangrike man. Hy het ge-eis dat hulle vir Benjamin na Egipte toe bring, en nou wil Pa Jakob niks daarvan weet nie. Wat gaan hy maak? Ruben kyk met groot kommer na hulle kosvoorrade. Vir die afgelope weke al word almal gerantsoeneer! Daar is byna niks meer oor nie. Die tyd loop uit. Wat gaan hy maak om vir Jakob te oortuig?

Maar dan is daar boonop die kwessie van die geld wat hulle in hulle graansakke ontdek het. Ruben kry koue rillings as hy daaraan dink. Iemand het hulle probeer merk! As hulle weer terugkom in Egipte sonder Benjamin, gaan daardie geld óók nog voor hulle koppe gehou word. Dit sal die laaste strooi wees!

Pa,” pleit Ruben radeloos. “Ek sal volle verantwoordelikheid neem vir Benjamin. Asseblief Pa....”

Julle maak my kinderloos!” tier Jakob. “Eers Josef, en nou Benjamin! Nee, ek sal dit nie toelaat nie!”

Ruben se hart sak in sy leersandale. Radeloos kerm hy: “Pa kan my eie twee kinders doodmaak as ek nie vir Benjamin terugbring nie!” Maar Jakob is soos ‘n steeks donkie. Hy weier volstrek.

n Maand later kry Ruben die boodskap: “Pa wil ons sien."

Dalk het Pa tot besinning gekom,” hoop Ruben. Ons gaan almal nog hier vrek van die honger. Alles is op, vanoggend was daar nie eers meer ‘n ou roosterkoekie om te eet nie!"

Julle moet maar weer vir ons ‘n bietjie kos gaan koop.”

Maar Pa, ons kan nie sonder Benjamin gaan nie! Daardie man het uitdruklik gesê dat ons nie ons voete in Egipte durf sit sonder die seun nie!” Juda pleit by Jakob en waarborg die seun se veiligheid. “Ek sal vir altyd by Pa in die skuld wees as ek hom nie terugbring nie!”

Uiteindelik gee Jakob baie teësinnig in. “Ons is gered!” jubel dit in Ruben. “Kom broers, as die son more opkom moet ons al ver wees!”

Wanneer hulle Egipte binnery op hulle kamele, maak Ruben vir oulaas seker dat hy alles het. Pa Jakob het aangedring daarop dat hulle ‘n klomp geskenke saampiekel: balsem en heuning (die bietjie wat hulle nog oorgehad het!) en gom, hars, neute en amandels. En die belangrikste: die geld wat in hulle graansakke was. Hulle sal darem baie mooi moet verduidelik oor dáárdie geld!

Hulle is terug Meneer,” kom gee die amptenaar vir Josef die nuus, “en hulle het toe die jong seun ook saamgebring!”

Vanaand eet hulle saam met my in my huis,” beveel Josef die amptenaar. “Gaan berei ‘n groot feesmaal voor. Maak seker dat net die beste voorgesit word!”

Wanneer Ruben hoor dat hulle na daardie belangrike man se huis ontbied word, kry hy eintlik maagkrampe van bekommernis. “Dis ons einde broers! Hulle het uitgevind van die geld, en nou....” Ruben probeer vir die amptenaar verduidelik van die geld, en dat hy rêrag nie weet hoe dit daar gekom het nie, en dat hulle alles teruggebring het. Maar die amptenaar stel hulle gerus: “Moenie bekommerd wees nie, dit is julle God wat dit bewerkstellig het.”

Ons moet besef dat God nie in die opspraakwekkende dinge werk nie, maar in die alledaagse. Herken Sy hand in die gewone dinge wat elke dag gebeur.

Dan word die broers herenig met Simeon. Die vreugde is groot! Hulle broer het die tronk oorleef!

Daardie aand word hulle die eetsaal van Josef binnegelei, geklee in hulle beste klere. Hulle voete word gewas en dan word hulle plekke aan die tafel aangewys. Ruben se mond hang oop: die broers word gerangskik van oud na jonk, presies in die regte volgorde! “Hoe het hulle geweet?” wonder hy. Maar hy kry nie veel kans om te wonder nie, want nét dan, met groot fanfare, word Josef ingebring. As hy sy klein boetie, Benjamin sien, is dit net een te veel vir hom, en hy moet vinnig omdraai, want nou kan hy nie meer sy emosies beteuel nie. Eers wanneer hy klaar gehuil het, sy gesig gewas het en weer die selfversekerde Josef van altyd is, kom hy terug. Nou kan die fees begin. Benjamin se bord word gelaai, en hy kry vyf keer so veel as die ander. Josef hou die situasie baie fyn dop. Hoe gaan die ander reageer omdat Benjamin voorgetrek word? Die seun is immers nou in dieselfde situasie as wat hyself twintig jaar tevore was. Sonder dat hulle dit weet, slaag die broers die toets. Hulle het beslis ‘n verandering van gesindheid ondergaan.

Maar Josef is steeds nie tevrede nie: hulle sou nog ‘n toets moet slaag. Maar daaroor gesels ons DV more.

Gebed:

Here, maak asseblief my oë oop sodat ek U hand sal raaksien in die dinge wat elke dag gebeur.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026