Die Feesmaal

17 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Feesmaal

Lukas 14:15-24

'n Vooraanstaande van die rykmansdorp Zimbali besluit om vir sy 50ste verjaardag 'n spoggerige partytjie te hou. Hy wil anders wees, en in plaas van uitnodigings per e-pos, stuur hy sy skakelbeampte persoonlik na 'n paar uitgesoekte stralejakker-vriende om hulle uit te nooi na sy spesiale partytjie. Maar hy wil sien wie sy ware vriende is, dus wag hy met die uitnodigings tot die oggend van sy verjaarsdag. Hy doen baie moeite om ‘n onvergeetlike aand te beplan, kry selfs vir Nataniël om te kom optree!

Wanneer die skakelpersoon by die eerste uitgenooide kom, is sy so besig met gesprekke op haar selfoon, dat sy hom skaars kans gee om sy saak te stel. “Jammer, kom later terug, jy kan mos sien ek is besig!”

By die tweede uitgenooide sit dié vasgenael voor die TV, besig om 'n spannende krieketwedstryd te kyk. “Moenie my nou pla nie! Dis die wedstryd van die jaar. Ek kan beslis nie nou kom nie!”

Volgende 'n model. Sy het so pas verneem dat sy 'n kontrak gekry het om onderklere te gaan modelleer in Parys. “Vanaand moet ek die nuus met my vriendinne gaan deel!”

En so moet hy uiteindelik die nuus aan sy baas oordra dat niemand sy fees wil (of kan) bywoon nie.

Die man is woedend! Tot afgryse van sy skakelbeampte, stuur hy hom strate toe om die bedelaars, straatkinders en boemelaars te gaan bymekaarmaak. En hét die spul uitgeworpenes van die lewe vir jou fees gevier! Daar is gejol en geëet en gesing tot laatnag toe!

n Moderne weergawe van die gelykenis wat Jesus vertel het terwyl hulle aan tafel was by die vooraanstaande Fariseër se huis. In Jesus se verhaal is die verskonings wat die mense opgedis het, nie een onredelik nie. Maar kyk jy mooi, dan sien jy dat dit telkens hulle besittings is wat vir hulle belangriker is. Hulle is selfsugtig, daarom kom hulle materialistiese belange voor verhoudings met ander mense, selfs hulle vriende.

Selfs die verskoning van die een wat aangevoer het dat hy pas getroud is, en daarom nie kon kom nie, het hier ook te doen met eiendom. ‘n Vrou was bloot as ‘n man se eiendom of besitting beskou!

Jesus vertel dat die man baie kwaad geword het omdat die mense hom so beledig het deur sy uitnodiging van die hand te wys. Sy slaaf word dringend uitgestuur om die uitgeworpenes op die strate bymekaar te maak vir die feesmaal. Hy word selfs wéér ‘n keer gestuur om buite die stad te gaan soek vir nog mense, enigeen wat hy in die hande kan kry, en hy moet by hulle aandring om te kom! Ons sien ‘n besliste dringendheid in hierdie man se bevele. Daar is nie nog tyd vir uitnodigings stuur en mooipraatjies nie.

Hoe moet ons die storie verstaan?

In die eerste plek het die verhaal gegaan vir die mense wat saam met Jesus aan tafel gesit het. Hulle was almal mense wat hulleself as “vriende van God” beskou het, want hulle was immers die kerkleiers en mense wat Bybelkennis gehad het. Hulle was egter die mense wat baie skepties was teenoor Jesus, en wat Hom uiteindelik sou verwerp en vervolg. Daarom rig Hy sy uitnodiging eerder aan die gewone mense en selfs nie-Jode, want hulle sou Hom aanvaar.

Maar hierdie verhaal spreek ook baie hard tot ons vandag. Hoeveel tyd het ons werklik nog vir die Here? Hoeveel tyd spandeer ons elke dag in die teenwoordigheid van ons Vader? Ongelukkig het “tyd saam met God” vir die meeste gelowiges geword, ‘n vinnige skietgebedjie, twee versies uit ‘n Psalm lees en as daar nog tyd is, gou ‘n bladsytjie uit Oom Solly se dagstukkieboek te lees. Om erns te maak van stiltetyd, en waarlik die Here se teenwoordigheid te soek, is daar net eenvoudig nie tyd nie. Ons werk is belangrik, en ons sloof ons af vir die baas, maar die Een wat werklik belangrik is, kry net ‘n ou lekseltjie van ons tyd.

Waar moet ek die tyd kry?” sal jy dalk vir my vra. Deur net ‘n halfuur of ‘n uur vroeër op te staan, maak jy vir jouself oorgenoeg tyd. Vroeg-oggend is heerlik, want dan is alles doodstil en daar is niemand wat jou pla nie. Dit is asof jy God se stem klokhelder en duidelik kan hoor in die oggendstilte. Persoonlik beleef ek Hom nog meer intens as ek neerskryf wat ek uit die Woord ervaar. Hierdie dagstukkies is elke oggend vir my persoonlik ‘n wonderlike avontuur wat ek beleef saam met my Vader. Daarom kan ek ook nie anders nie as om dit met die ganse wêreld te deel. Ek wil dit uitroep - uitbasuin dat die Here wonderlik is.

Die tydjie soggens saam met die Here maak dat ek net eenvoudig nie kan wág dat dit Sondag moet word nie, want die erediens is vir my die hoogtepunt van die week. Ek wil dit vir niks op aarde misloop nie! Ek is opgewonde oor my belewenis met die Here, en dit is heerlik om dit te kan uitleef. Is jy ook opgewonde?

Gebed:

Here, elke dag saam met U is ‘n wonderlike fees. Dankie, dankie, dankie Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026