Handelinge 8:26-40
‘n Baie interessante man ry op ‘n wa in Judea, sowat 100km suidwes van Jerusalem. Hy kom uit Afrika, waar hy ‘n hoë posisie beklee as die finansiële raadgewer van "die Kandake, die koningin van die Ethiopiërs" (v27). Eintlik was sy nie werklik die koningin nie. Daardie jare het die Etiopiese Koninkryk gestrek van die bo-Nylgebied tot by Kartoem. Die koning was as ‘n soort godheid beskou en hy was verhewe bo sulke nietige dinge soos regeringsake. Daarom het sy moeder die regeringsfunksie verrig en sy het die titel van “Kandake” gedra.
Hierdie belangrike amptenaar was 'n eunug, iemand wat ontman is. Dit was algemene praktyk dat soldate wat die koning se vroue moes oppas asook hooggeplaaste paleisamptenare ontman moes word. Hierdie amptenaar was dus 'n eunug maar hy was ook ‘n proseliet, dis nou 'n nie-Jood wat hom tot die Joodse geloof bekeer het. Normaalweg was dit nie aanvaarbaar vir 'n eunug om deel te kon kry aan die Joodse geloof nie. Ons verhaal begin waar hierdie merkwaardige man sit en lees uit die profeteboek van Jesaja terwyl hy op sy wa ry op pad terug na Etiopië.
Intussen speel daar elders ‘n ander drama af. Filippus kry besoek van niks minder nie as ‘n hemelse wese, ‘n engel van die Here wat aan hom ‘n boodskap bring: “Maak klaar, vanmiddag moet jy na die pad gaan tussen Jerusalem en Gasa.”
“Wat moet ek daar gaan doen?” maal dit deur Filippus se gedagtes. “En wie sal ek daar kry?” Filippus is egter dadelik gehoorsaam en weldra tref hy die wa met die lesende Etiopiër op die pad aan. ‘n Stem hier diep binne in hom sê vir hom dat hy langs die wa moet gaan loop en so maak Filippus. ‘n Swart man met ‘n Jesaja-rol, dié het Filippus nog nooit in sy lewe gesien nie. Hy is nuuskierig! “Verstaan jy ooit wat jy lees?” Gou blyk dit dat die arme man nie ‘n woord verstaan van wat daar geskrywe is nie, want die gedeelte in Jesaja 53 is ‘n profesie oor Jesus.
Filippus word genooi om op te klim en so al ryende lê hy die Skrifgedeelte vir die man uit. Hy vertel hom opgewonde van die wonderlike goeie nuus van Jesus. Die amptenaar gryp die Evangelie met albei hande aan en as hulle by ‘n watertjie verbyry, vra hy vir Filippus om hom te doop, die sigbare bewys dat hy die Evangelie aangeneem het. Nou het hy ‘n lid geword van die nuwe gesin van God, die kerk!
Na die doop word Filippus elders benodig. Wonderbaarlik word hy deur die Gees van die toneel weggevoer. Wat presies daar gebeur het weet ons nie, dis 'n misterie waaroor ons maar net kan raai! Al wat ons weet is dat hy na Asdod weggevoer is, omtrent veertig kilometer noord van Gasa. Daar moes hy gaan sendingwerk doen, al langs die kus af tot in Sesarea. En dis presies net dáár waar die Romeinse goewerneurs gewoon het!
En die Etiopiër? Wel, hy is terug na sy land, borrelend van vreugde oor sy nuutgevonde geloof!
Daar is ‘n paar vrae wat onmiddellik by jou opkom as jy hierdie verhaal lees. God het ‘n engel na Filippus gestuur om die boodskap oor te dra dat hy vir die amptenaar moes gaan preek. Sou dit nie makliker gewees het vir die engel om maar sélf die ou takie te gaan afhandel nie? Ek meen, hier moet die arme ou Filippus nou uit sy pad gaan om iets te doen wat die engel dalk soveel makliker kon doen?!
Nee, dis nie deel van ‘n engel se “pligtestaat” om te gaan preek nie, dit is die taak van mense! Engele is slegs “boodskappers van God”. Op daardie oomblik was die Etiopiër baie ontvanklik vir die Evangelie. Hy was alleen op sy wa en hy was honger om uit daardie boek te lees wat hy waarskynlik so pas in Jerusalem gekoop het. En hy verstáán nie! Die Heilige Gees het reeds in hom gewerk en by hom die begeerte gegee om uit te vind waaroor dit alles gaan. En hier daag Filippus “toevallig” op, nét op die regte oomblik. Toeval? Nee, baie beslis nie!
Dikwels word mense oor ons pad gestuur, of dalk word óns eerder oor mense se pad gestuur. Ons moet altyd mooi luister na die influistering van die Heilige Gees want ek kan dalk ‘n baie groot verskil maak in iemand se lewe. Dit mag dalk slegs ‘n eenvoudige ding wees wat die Here wil hê ek vir iemand moet sê. Jy hoef nie ‘n predikant te wees om die Evangelie met iemand te deel nie. Ek is self nie ‘n predikant nie maar die Here gebruik my net soos ek is om die Evangelie daagliks by duisende mense uit te kry. Maar dit kos van my om mooi te luister na wat die Heilige Gees sê, want uit my eie krag en wysheid kan ek nie hierdie dagstukkies skryf nie.
Die Here wil jou ook vandag gebruik op die een of ander manier en plek. Jy moet jouself egter bereid verklaar om in Sy diens te staan. Dit beteken ook dat jy jouself totaal in God se hande plaas en jou totale afhanklikheid van Hom besef. Die volgende stap is om te luister na die influistering van die Heilige Gees in jou lewe. Dit kan op een van baie verskillende maniere gebeur. As jy God se stem hoor, is die laaste stap om in afhanklikheid en gehoorsaamheid te doen wat Hy vra, al voel dit soms of dit nutteloos is. Hy sal die res doen! Moenie jou bekommer oor die resultate nie, daardie is God se afdeling!
Gebed:
Here, gebruik my asseblief vandag net soos ek is. Maak my gewillig om te doen wat U van my vra. Ek vertrou ten volle dat U Heilige Gees my daarin sal lei en die regte woorde op my lippe sal plaas!