Psalm 98
Ons sluit vanjaar se dagstukkies af met ‘n pragtige storietjie wat PJ Cillié geskryf het oor twee dogtertjies wat gaan vakansie hou het op Willie se Baai. Terwyl die tweetjies op die strand speel, kom daar ‘n seuntjie aangeloop: “Kan ek saamspeel?”
“Ja seker, maar wie is jy?”
“Ek is ‘n engeltjie.”
“Ja, ons twee is ook engeltjies, maar ons ma dink nie juis so nie!”
“Nee rêrag”, sê die outjie, en daarmee draai hy sy rug na hulle en lig sy hemp op. Wat hulle daar sien slaan skoon hulle asempies weg van verbasing - onder sy hemp steek sy twee goue vlerkies uit!
En toe verduidelik hy: tweeduisend jaar gelede was hy deel van die engelekoor wat vir die herders kom sing het naby Betlehem. Dit was so lekker hier op aarde, dat hy besluit het om agter te bly. “Maar moenie bekommerd wees nie”, stel hy hulle gerus, “Dis gladnie so ver na die hemel toe as wat mense dink nie! Dis eintlik sommer baie naby.”
“Dan kan jy seker baie mooi sing?”
Ja, hy kan nog mooi sing, maar hy mag nie eintlik nie, want sodra hy sing, moet hy dadelik weer terug hemel toe. En dis nogal swaar, want hy hou so baie daarvan om te sing. Hy moet nou al vir tweeduisend jaar lank sy asem ophou.
Daardie aand is daar ‘n kerssang-by-kerslig, en die kinders van Willie se Baai gaan optree. “Wil jy nie asseblief kom saamsing nie?” soebat hulle. As hy tussen die kinders staan en net saggies sing, sal niemand mos weet hy sing nie.
Die engel-seuntjie besluit dat dit dalk kan werk, en daardie aand staan hy tussen die ander kinders. Maar toe hulle begin sing, sweef sy klokhelder stem bo al die kinderstemme uit, en die mooiste sang wat die mense ooit gehoor het vul die saaltjie. Naderhand bly almal stil en luister net na sy hemelse sang. “Nou sal hy moet terug hemel toe!” fluister die meisies geskok vir mekaar, maar die engelseuntjie sing voort.
Skielik word oor Willie se Baai die geruis gehoor van 'n magtige koor wat niemand kan sien nie. Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing 'n lofsang asof die hemel oopgegaan het. Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!
Die stemme sterf uiteindelik weg en stilte kom oor die strand. Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie.
Later gesels die twee meisies met hul ouers. Die engeltjie moes natuurlik weg omdat hy gesing het. Maar hoekom het die koor ook ingeval? Het die dissipline daarbo in duie gestort toe hulle die seuntjie se pragtige sang hoor?
Seker so iets. Maar onthou wat die seuntjie gesê het: dis nie so ver hemel toe soos dit vir mense lyk nie. As die mense maar net kon weet hoe naby dit alles is. En soms - baie selde - val die dun skerms weg en alles gaan oop. Net vir 'n kort rukkie.
Het jy al ‘n dag beleef waar dit voel asof die ganse skepping om jou dit net uitjubel tot eer van God? Hier buite my venster is die verkeer baie kwaai. Maar dis ‘n lekker soort van verkeer, voëltjies van alle kleure en soorte. ‘n Tortelduif, ‘n ringduif, papegaaiduiwe en ‘n witborsvlekduifie; twee visvangertjies, twee houtkappertjies en ‘n hele bondel wewers, blouvinkies, koningrooibekkies en mossies, bloukuifloeries, vleiloeries, glansspreeus en rooivlerkspreeus. Oral waar ek kyk en luister, is dit net een groot lofsang tot eer van God.
Het jy dalk al Namakwaland se blomme beleef? Derduisende blommetjies wat vrolik handeklap! Die asemrowende ewigheid van kleur en geur so ver as die oog kan sien. En onbeskryflike mooi wat jou omvou met hemelse prag en praal. Die veld en klippe, die hele landskap jubel en juig om God se lof te besing.
En die dag waarvan Psalm 98 sing is óók so ‘n dag. Dit moes sékerlik ‘n asemrowende groot geleentheid gewees het, waar God Homself op ‘n wonderbaarlike wyse openbaar het.
Israel móés net eenvoudig opnuut besef hoe gróót en getrou God werklik is.
Psalm 98 werk op tot ‘n crescendo. Vers 1 begin rustig met: “Sing vir die Here 'n nuwe lied” Vers 4 bou op: “Juig tot eer van die Here” dan “wees vrolik, jubel en besing Hom” In vers 5 word daar musiekinstrumente bygegooi: “besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang,” In vers 6 kom die groot kanonne, die blaasinstrumente by: “Op trompette saam met die klank van ramshorings. Juig voor die Koning, die Here.”
Vers 7 is die grand finalé wanneer die volle orkes van die natuur inval by die loflied: “Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel voor die Here;”
As gelowige behoort die hele lewe vir jou en my een groot loflied te wees ter ere van God. Paasfees en Kersfees behoort vir ons maar slegs mylpale te wees waar ons loflied op ‘n crescendo uitloop. Maar die grand finalé kom nog! Op daardie dag sal ons loflied triomfantlik weerklink deur die heelal!
Die dag waarop die engeltjie die eerste keer in tweeduisend jaar gesing het, was só 'n regte Psalm 98 dag. Mag Kersfees vanjaar vir jou en jou gesin ook so 'n regte Psalm-98-dag wees. Mag ons lof en blydskap die nasies en die skepping meesleur in eerbetoon aan God!