Die Einde Is Naby!

1 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Einde Is Naby!

1 Petrus 4:7-11

VIDEO * OUDIO

Die Einde Is Naby! Petrus waarsku sy lesers om voorbereid te wees. Dit was 2000 jaar gelede geskryf, en die einde het steeds nie gekom nie. Was Petrus op ‘n dwaalspoor toe hy dit gesê het? Johannes het óók gesê dat die einde in sig was, toe Hy Openbaring geskryf het. Selfs Jesus het sy dissipels laat verstaan dat Sy wederkoms nie ver was nie. Hoe moet ons dit verstaan?

Inderdaad het Jesus vir Sy dissipels dit baie duidelik gestel dat niemand weet wanneer die einde gaan kom nie, maar dat jy elke oomblik gereed moet wees. Die einde kom soos ‘n dief in die nag! Elkeen van ons was al totaal onverhoeds gevang deur ‘n vriend of familielid se skielike, onverwagse dood, ‘n motorongeluk, ‘n hartaanval, ‘n beroerte…...

Hoe verander jy jou lewe as jy weet dat jou einde naby is? Natuurlik gaan jy probeer opmaak vir alles wat jy in jou lewe verbrou het. ‘n Ongelowige gaan in sak en as sit en met groot angs nog ‘n bietjie tyd probeer uitkoop. In sy agterkop gaan die gedagtes maal: “Was die Christene nie dalk reg oor die hel nie?” Naarstigtelik gaan hy probeer om tog maar daardie verskrikking te ontkom. Die gelowige gaan die saak totaal anders benader.

As Petrus sê dat die einde naby is, praat hy met profetiese perspektief. Ja, inderdaad is die einde naby, en dit kan enige oomblik gebeur, maar dit kan net sowel ook met die dood kom. Hy wil sy lesers aanspoor tot ‘n aksieplan om voorbereidings te tref vir die einde. Dit moet hulle nie paniekerig onverantwoordelike dinge laat doen nie, maar hulle moet die saak selfbeheersd en nugter benader “met die oog op gebed” (vers 7). Iemand wat paniekerig in sirkels hardloop kan nie rustig met God praat nie. Sy gebed is slegs noodkrete, en van ‘n rustige, intieme gesprek met God is daar géén sprake nie. As Petrus sê dat die einde in sig is, wil hy nie mense op loop jaag nie, maar hy wil vir hulle troos gee in hulle lyding, dat al daardie swaarkry se einde in sig is. Uiteindelik gaan daar die Ewige Lewe wees!

Hoe lyk Petrus se aksieplan?

Die eerste stap is om selfbeheersd en nugter te wees. Beheer jouself voordat jy enigiets doen of sê. Vra eers vir die Here hoe Hy wil hê dat jy moet reageer. Nugterheid het vele betekenisse, een daarvan is om nie alkohol te misbruik nie. Dit beteken ook om ‘n goeie balans in die lewe te handhaaf en jou nie te laat oorheers deur enigiets nie. Daar is talle dinge, wat nie noodwendig sleg is nie, maar ons lewens totaal kan oorheers: TV, werk, sport, stokperdjies ens. Daar moet balans wees in alles wat jy doen.

Die tweede stap is liefde. Dit het natuurlik vele fasette en Petrus noem slegs ‘n paar as voorbeeld. “Bo alles moet julle mekaar innig liefhê” (vers 8). Die woordjie “innig” beteken dat dit met volgehoue inspanning moet gebeur. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n daadwerklike aksie wat jy moet toepas. Innige liefde beteken dus dat jy jou hele hart daarin sal sit en jou inspan om die liefde prakties en onophoudelik toe te pas, al gaan dit totaal teen jou hele natuur in. Dit is dus nie slegs om vir iemand te sê dat jy hom liefhet nie, maar dit moet ‘n praktiese liefde wees wat dinge vir mense doen. ‘n Goeie voorbeeld is Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Die derde aksiestap is om gasvryheid uit te leef (vers 9). Gasvryheid beteken nie alleen dat jy kos of slaapplek vir vreemdelinge moet aanbied nie, maar dit kring baie wyer uit. Hoe gasvry is jy in die kerk? Het jy jou paar Christenvriende, en vorm jy met hulle ‘n geslote groepie? Of probeer jy aktief ander mense betrek, selfs diegene wat gladnie gewild is nie? Het jou kerk en gemeente vir jou eksklusief geword of kring jou Christenvriendskap baie wyer uit, ook na ander kerkgroepe wat heeltemal anders as jy aanbid? En wat van ander geloofsgroepe?

Die vierde aksiestap is om diensbaar te wees. Party mense het baie talente of gawes en ander min. Een so ‘n persoon wat toegegooi is met talente, is dr. Albu van Eeden van Dokters vir Lewe. Hy is nie alleen ‘n mediese dokter nie, maar ook ‘n predikant en sendeling wat dikwels uitreike doen na lande soos Angola om mense geestelik en liggaamlik aan te raak met die Evangelie.

Etlike mense het al vir my gesê dat hulle gladnie talente het nie. Die feit is dat elke mens talente het, selfs al is dit net om vloere te vee! Die voorbeelde wat Petrus noem is preek en diens (vers 11). Die groot geheim is dat jy dít wat jy kan doen moet aanwend in diens van God - nie halfhartig nie maar met alles wat binne-in jou is. Sannie kan vetkoek bak, en elke Saterdag bak sy die beste vetkoeke in haar vermoë om fondse te genereer vir Bybelverspreiding. Piet is ‘n man wat opleiding het in die wêreld van finansies. Nou gebruik hy al die kennis wat hy deur die jare opgedoen het om die gemeente se finansies te bestuur.

Deur jou gawes van harte uit te leef vir God, raak jou lewe deursigtig sodat mense God deur jou kan sien en Hóm daardeur verheerlik. Dan leef jy Jesus se opdrag in Mat. 5:16 uit wat sê: “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Gebed:

Here, laat my asseblief elke dag leef asof dit vandag my laaste dag is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026