Die Doringbos wat Brand

1 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Doringbos wat Brand

Eksodus 3:1-7

VIDEO * OUDIO

Die prins uit Egipte, Moses pas skape op! Vernederend! Jare later is die grootste koning in die geskiedenis van Israel, Dawid, óók aanvanklik ‘n skaapwagter. Inderdaad ‘n nederige werk! Maar hier eindig dit óók nie, want wanneer Jesus, die Seun van God na die aarde neerdaal, beskryf Hy Homself as ‘n Herder, ‘n Skaapwagter, en Hy gee dan ook aan die groot apostel Petrus die opdrag om te gaan “skape oppas”.

Wat is dit aan hierdie nederige beroep dat dit verbind word aan die héél grootste name in die geskiedenis? Is dit dalk die feit dat dit daar in die eensaamheid van die veld, waar jy hope tyd het om te dink, jou baie naby aan God bring? Dink maar aan die mooiste van die Psalms wat deur Dawid geskryf is, “Die Here is my Herder......”

Moses was “ontdek” deur die Farao se dogter, waar hy as baba weggesteek was in ‘n mandjie tussen die riete. Hy was deur haar “aangeneem” en grootgemaak as ‘n Egiptiese prins. Hy moes egter vlug vir sy lewe nadat hy ‘n Egiptenaar vermoor het, en dis hoe hy in die woestyn beland het waar hy die vernederende werk moes doen van skaap-oppas.

Inderdaad het hierdie werk hom baie naby aan God gebring, baie nader as wat hy óóit sou kon droom! Dit het gebeur terwyl hy met sy skoonpa se kleinvee getrek het tot by die berg Horeb om vir hulle genoeg weiding te kry, dieselfde berg wat later Sinai genoem word.

Intussen lees ons in Eksodus 2:23: “Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. God het hulle gekreun gehoor.”

Inderdaad het God beplan om ‘n groot leier te stuur om hierdie volk te red, ‘n man wat baie goed bekend was met die koningshuis in Egipte. Hierdie groot leier wat die volk Israel moes red, was egter rustig besig om in die woestyn rond te swerf, agter ‘n trop skape aan! Later sien ons dit telkemale dat groot leiers eers in die eensaamheid van die woestyn afgesonder word voor hulle groot taak. Selfs Jesus moes hierdeur gaan!

En dan gebeur dit: Terwyl Moses by sy skape sit aan die voet van die berg Horeb, merk hy ‘n eienaardige verskynsel op - ‘n doringbos wat brand. Die bos wat brand was nie soseer snaaks nie, maar toe dit na ‘n lang ruk nog steeds brand, en nie uitgebrand raak nie, begin Moses snuf in die neus kry. Nuuskierig om te sien wat hier aan die gang is, bestyg hy die berg. En dan, as hy naby die bos kom, skrik Moses hom yskoud as ‘n stem uit die bos hom aanspreek!

In Gen 3:2 word gemeld dat die Engel van die Here in die vlamme aan Moses verskyn het. “Engel” beteken letterlik “Boodskapper”. Daar is teoloë wat reken dat die “Engel van die Here” verwys na die Tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid, die Seun, oftewel Jesus soos Hy in die Nuwe Testament openbaar word.

God verskyn hoorbaar en sigbaar aan Moses, nie in ‘n heilige tempel nie, maar iewers in die veld. En ook nie aan ‘n gewyde priester of “heilige” nie, maar aan ‘n voortvlugtende moordenaar. God se optrede word baie beslis nie deur mense of omstandighede bepaal nie!

God se oorweldigende teenwoordigheid verander die stof en klippe van die Midean woestyn in ‘n heiligdom, en Moses kry die bevel om sy skoene uit te trek. So oorweldigend is die teenwoordigheid van God, dat Moses sy gesig toemaak. Hy is te bang om die heiligheid van God te aanskou!

“Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Só stel die Here Homself aan Moses voor. “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding.” Dan sê die Here dat Hy afgekom het om hulle te red. Maar Hy wil vir Moses gebruik om die reddingsdaad uit te voer.

In die eerste twee hoofstukke van Eksodus word die Naam van God nie eers gemeld nie. En dan wonder jy: Waar is God dan te midde van al die swaarkry. Uit wat ons later in die verhaal lees, kan ons aanneem dat die volk van God vergeet het en dat baie van hulle die Egiptiese gode aanbid het. En skielik, op ‘n oomblik wanneer jy dit gladnie verwag nie, verskyn God oorweldigend, asemrowend.

Het jy dit nie al in jou eie lewe ervaar nie? Ek het! Wanneer jy die dag begin dink dat God van jou en jou ellende vergeet het, dan verskyn Hy op ‘n verrassende, en dikwels oorweldigende wyse wanneer jy dit die minste verwag. Nee, Hy is nooit weg nie, en Hy vergeet nie van jou nie. Maar God se tyd is anders as ons s’n. Dit moet ons besef. Ons kan nie aan Hom voorskryf nie.

Ons sien egter ook Sy groot genade in hierdie verhaal, want al het die volk van Hom vergeet, sien Hy hulle nood raak en Hy gebruik die beste leier wat bestaan om hulle te red.

Gebed:

Here, dankie dat ons uit die verhaal van Moses kan leer dat U nooit van ons vergeet nie - dat U altyd daar is, en dat U ‘n plan het vir ons lewens!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026