Romeine 3:9-20
Ek was bitter jonk - pas my militêre diensplig voltooi, en baie onverantwoordelik. My liefde vir musiek trek my egter om by die plaaslike gemeente se kerkkoor aan te sluit, en voor ek weet waar ek is, word ek ingesleep by die kerk se jeugvereniging. Dit was vet pret, totdat hulle my die dag vra om die aand se Bybelstudie te lei. Ek skrik myself skoon in ‘n ander geloof in (nie dat ek op daardie stadium juis enige geloof gehad het nie). Toe die groot aand aanbreek, gaan staan ek voor die groep. Dít wat ek op die papiertjie geskryf het, swem voor my oë, en maak net mooi géén sin nie. My keel trek toe, en ek begin stotter. Dit was ‘n totale ramp!
Nie lank daarna nie gaan loop ek ‘n Dale Carnegie kursus - dis nou die “How to win friends and influence people” kursus, wat jou ’n reuse selfvertroue gee. Wonderlike kursus, en skielik loop ek oor van selfvertroue. Die skaam, teruggetrokke vaalseun het ontpop in ‘n totale ekstrovert, wat selfs nie eers meer bang was om ‘n Bybelstudie te lei nie. Ek word die grapjas-ster in elke konsert, en kort voor lank is ek welbekend in kerkkringe regdeur die Durban omgewing.
Die tragiese was egter dat ek nooit die Hoof van die kerk, Jesus, ontmoet het nie. Dit was eers sewe jaar later wat ek vir Jesus gevind het - sewe jaar waarin ek op die kerkraad gedien het, Die Kerkjeugvereniging voorsitter was, betrokke was by elke kerkgeleentheid en selfs my deel gedoen het in die sendingveld. Maar sewe jaar van totale verlorendheid. Ek was vasgevang in ‘n egosentriese geloof in myself!
Die Romeine van Paulus se tyd het net soos baie van vandag se mense, ‘n baie positiewe mensbeeld gehad. Hulle het in hulleself geglo, en natuurlik het hulle geglo dat daar genoeg goed in elke mens is om self die kwaad te oorwin. Die regte stappe moes net gevolg word, dan sou dit klopdisselboom met jou gaan! Vandag is dit nie juis anders nie, en met die regte houding en positiewe uitkyk op die lewe, kom jy héél bo uit. En as jy nie die selfvertroue het nie, gaan woon jy bloot ‘n selfverbeterings- of motiveringskursus by, waar jy geleer word om jou doelwitte te formuleer en al die regte stappe te doen om die gewenste resultate te verkry.
Maar alles is nie so eenvoudig nie. Talle mense wat dit al ver in die sakewêreld en die sosiale lewe gebring het, sit steeds met ‘n reuse skuldgevoel of ‘n leegheid. Stres en depressie is aan die orde van die dag, bloot omdat die lewe se eise vir baie mense net eenvoudig te veel word. Hulle kan nie meer byhou met die verskriklike pas wat die lewe aan hulle stel nie.
Maar die probleem is eintlik veel dieper as dit. Mense hou nie rekening met die mens se sondige gebrokenheid. Die feit is: die mens is stukkend! En dit is juis Paulus se doel, om die arrogante selfbeeld wat mense van hulleself het in perspektief te probeer stel. Hy beskryf die totale verlore, hopelose en gebroke toestand van die nie-bekeerde mens. Hy plaas die klem daarop dat hierdie toestand nie uit eie krag, selfs nie eers ‘n Dale Carnegie kursus oorkom kan word nie, maar slegs deur die genade van Jesus Christus. Hy haal nie minder nie as elf Skrifgedeeltes uit die Ou Testament aan om te wys hoe verlore ‘n ongeredde mens is.
Dit is van kardinale belang dat jy deeglik bewus is van hierdie negatiewe Bybelse blik op die onbekeerde, want daarsonder sal ‘n ware oorgawe aan Jesus nie plaasvind nie. In my eie geval het ek, nadat ek daardie kursus geloop het, so goed oor myself gevoel, dat ek Jesus nie in my lewe nodig gehad het nie. Eers etlike jare later het ek tot ‘n besef gekom dat ek in werklikheid verlore is, en Jesus nodig het. ‘n Selfreddingskema kan baie gevaarlik wees, want dit kan jou valse selfvertroue gee. En dit is juis een van die groot leemtes in ons wêreld vandag. Mense lewe só goed dat hulle nie hulle afhanklikheid van God besef nie. Geld, besittings, status, fiksheid - al hierdie dinge is verslawend, maar uiteindelik besef ‘n mens die sinloosheid van alles, en dit is dán wanneer depressie en ander dodelike siektes insluip.
Hierdie Skrifgedeelte laat die vraag ontstaan, of die mens dan so verskriklik sleg is, en of alles dan ooit die moeite werd is? Inderdaad is alles leeg en betekenloos! MAAR! ‘n Persoonlike verhouding met Jesus keer absoluut alles handom! Deur hierdie negatiewe mensbeeld van Paulus te aanvaar, bely jy dat die vergewing van sondes deur Jesus Christus en ‘n toegewyde verhouding met God die enigste manier is om die volle, ongelooflike potensiaal van jou as mens tot sy reg te laat kom.
Ek moet myself egter ook afvra, of ek met my verskriklike vuil, sondige lewe dit durf waag om voor die Heilige God te verskyn? Inderdaad! Dit is ‘n reuse geloofsprong, maar die genade van God is so oneindig groot dat Hy die grootste van sondaars nie sal wegwys nie.
Gebed:
Here, ek bely vanoggend dat ek totaal verlore is sonder U. Dankie dat U my uit genade uit die doderyk gepluk, en lewe in volheid gegee het.