Maleagi 4:1-3
In Maleagi 4:1 lees ons die ontstellende woorde: “Want kyk, die dag gaan kom, dit gaan brand soos 'n oond!”
“Die hel is 'n mite!” Hierdie stelling het ek al dikwels gehoor. Of hulle maak ligsinnige grappies oor “ou Niek se plekkie.” Maleagi beskryf die “Dag van die Here” soos wat dit dikwels in die Ou Testament genoem word. Hy vertel van God se oordeel maar terselfdertyd ook van Sy verlossing. Met ander woorde, goeie nuus vir die gelowige maar slegte nuus vir die ongelowige.
Ons het in die vorige gedeelte genoem dat die Israeliete geglo het dat die Here vir Israel op hierdie dag sou kom verlos van al hulle vyande. Al die swaarkry sou verander wanneer God sou kom ingryp en al die ander nasies veroordeel.
Maar nou kom die skokkende nuus vir hierdie volk: “Dan sal al die verwaande mense en elke booswig kaf wees, en die dag wat kom, sal hulle verbrand,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “daar sal nie wortel of tak van hulle oorbly nie!”
Sjoe! Wat 'n skok! En hulle het gedink dat hulle veilig was net omdat hulle Israeliete was!
Maar wat sê dit vir ons vandag? Hierdie uitspraak het nie net op Israel betrekking nie, maar op elke mens. En die dag van die Here is 'n werklikheid. Die straf vir iemand wat in opstand is teen God, is verskriklik! Dit is iets wat niemand óóit wil beleef nie.
Nou hoor ek al: “Maar ek is darem nie in opstand teen God nie. En ek probeer hard om reg te lewe......”
Almal ken Joh. 3:16, wat sê dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy Seun gegee het sodat mense die ewige lewe kan hê. In Joh 3:18 staan daar egter die skokkende woorde: “Wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”
Hierdie oordeel waarvan Johannes praat is die einste “Dag van die Here.”
Baie mense sal dalk sê: “Maar ek glo mos aan Jesus! Ek is van kleins af al geleer van Hom, en ek glo nog al die jare.”
Die Israeliete het feitlik almal aan God geglo, maar min van hulle sal die Dag van die Here oorleef. Waarom? Oor presies dieselfde rede as wat Satan nie daardie dag sal oorleef nie, al glo hy aan God. Hy wéét dat God 'n werklikheid is, maar daar is géén sprake daarvan dat hy óóit 'n lewende verhouding met God sou hê nie. Presies dieselfde het gegeld vir baie van die Israeliete. Alhoewel hulle geglo het dat God 'n werklikheid is, het hulle nóóit sovêr gekom om werklik in 'n verhouding met Hom te staan nie.
Abraham was 'n voorbeeld van iemand wat waarlik in 'n verhouding met God was. Ja, hy was ook maar 'n feilbare mens met sondes, maar Hy het God geken, en Hy het in 'n verhouding met God geleef.
Dieselfde geld vandag vir ons wat in die “Nuwe Bedeling” staan. Om slegs te glo dat God die Skepper is wat alles gemaak het en dat Jesus aan die kruis gesterf het, beteken absoluut niks. Daar is vandag baie mense wat al die regte geluide maak. Hulle is elke Sondag in die kerk en hulle gee hulle tiendes en lees Bybel en bid. Maar hulle is steeds verlore!
Om in Jesus te glo gaan egter daaroor dat daar 'n lewende verhouding met Hom moet wees. Daar moet 'n ontmoeting met Hom wees waar Hy in jou lewe kom. Wanneer dit gebeur, tree daar 'n totale verandering in jou lewe in.
Maleagi beskryf dit so mooi in vers 2, waar hy sê dat vir so 'n persoon sal “die son van geregtigheid deurbreek met genesing in sy strale.” En die reaksie hierop? “Dan sal julle uitgaan en bokspring soos kalwers wat op stal was!”
Het jy al die uitbundigheid van so 'n kalf gesien, vroegoggend wanneer die stal se hek oopgaan? Daar is géén einde aan sy lawwigheid nie. Lewensvreugde borrel in hom. Hy bokspring en gaan uitbundig tekere!
Presies dieselfde geld vir iemand wat God se vryspraak ervaar het. Sy blydskap is borrelend. Hy kan net eenvoudig nie stilbly oor dít wat met hom gebeur het nie. 'n Ontmoeting met Jesus is sékerlik die héél grootste ding wat óóit met énige mens kan gebeur.
Daardie ontmoeting is egter maar net die begin, want nou begin jy 'n verhouding met Jesus opbou. Jy het nou Sy vryspraak gekry, maar jy wil meer en meer weet van Hom (Bybel lees) en jy wil graag dinge vir Hom doen (liefde uitleef) en met Hom gesels (gebed). Dit is presies soos in 'n huweliksverhouding. Julle trou en jou hart wil bokspring en net tjoklits pomp. Maar dit eindig mos nie daar nie? Nou begin die ware verhouding mos, en julle kan nie genoeg kry van mekaar nie, en julle soek geleentheid om te kan gesels. En die liefdesverhouding word al sterker soos die jare aanloop. Presies dieselfde moet gebeur in jou verhouding met Jesus.
Wanneer daardie verhouding met Jesus in plek is, sal die “Dag van die Here” nie vir jou 'n dag van verskrikking wees nie, maar een waarna jy met groot verlange uitsien.
Gebed:
Here, ek verlang na U Groot Dag. My gebed is dat elkeen wat hierdie dagstukkie lees, en wat U nog nie ontmoet het nie, vandag met U versoen sal raak.