Die Brullende Leeu

5 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Brullende Leeu

1 Petrus 5:1-14

VIDEO * OUDIO

In Marloth Park kom daar vandag net af en toe van die gevaarlike groot katte kuier. Dit was egter nie altyd so nie, want voor die wildtuinowerhede kort na die groot vloed van 2000 ‘n woeste wildheining staangemaak het op die Krokodilrivier se walle, het die leeus baie makliker daar ingekom as wat vlugtelinge uit Zimbabwe oor die grens kom. Baie stories het die rondte gedoen, stories wat dikwels ‘n man se nekhare laat regop staan. En meeste van hulle was waar!

Op ‘n keer ry een van die dorp se sekuriteitswagte laatmiddag op sy trapfiets op pad êrens heen om te gaan kuier. Dis al sterk skemer, en hy trap hard om voor donker by sy bestemming te kom. Die manne is gewaarsku om nie na skemer rond te loop nie, want die groot katte loop snags rond! Hy oorweeg sy opsies, en die partytjie weeg die swaarste! Sy wiele laat die klippertjies spat om ‘n skerp draai op een van Marloth Park se kronkel-grondstraatjies, toe daar skielik vlakvoor hom in die pad ‘n hele trop leeus lê! Die arme man skrik hom skoon in ‘n ander geloof in, en in een enkele beweging gooi hy sy ryding in die teenoorgestelde rigting en trap dat die speke sing. Die leeus is só totaal onkant gevang dat hulle nie eers probeer om hom agterna te sit nie!

Nadat hy ‘n entjie gery het, kom hy agter dat hy nie agtervolg word nie, en hy heroorweeg sy opsies. Hoekom sal hy hom dan nou deur ‘n paar ou simpele leeutjies laat afskrik? Hy sal bloot ‘n ompad kies! En so klim hy weer op sy fiets, dié slag bra bewerig en met ‘n halwe ongemaklikheid agter sy ruggraat af. Hy ry met ‘n wye draai om die vuilbaarde. En toe gebeur dit wat niemand ooit sou verwag nie: vir die tweede keer dieselfde aand ry hy hom vas in dieselfde trop leeus! Ná hulle groot skrik, het hulle opgespring en in ‘n ander straat gaan lê. Hierdie slag is die kêrel minder gelukkig, en hy ry reg in die trop vuilbaarde in.

“Meals on wheels,” besluit een van die leeus en gryp die man aan die been. ‘n Sagte happie wat in jou bek val, is mos nie te versmaaie nie! Terwyl die arme man se angskrete weerklink, ry ‘n vrou in haar motor om die draai en sy sien dadelik wat gebeur. Sy jaag tussen die leeus in en verwilder hulle. Baie versigtig help sy die verinneweerde man op. Aaklige bytplekke aan sy been laat hom krul van die pyn. Hy word hospitaal toe gejaag, en is uiters gelukkig om te bly lewe!

Ja, inderdaad was daar slegs ‘n paar weke later iemand anders wat minder gelukkig was…….

Petrus skryf in vers 8,9: “Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die duiwel, loop rond “soos 'n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof.”

Menige mense het al in Marloth Park die leeus as fabels, stories en valse gerugte afgemaak. Hulle was ‘n werklikheid! Ek het sélf met hulle te doene gekry! Selfs vandag nog gebeur dit soms dat ‘n leeu deur die heining breek. Eweneens maak mense die duiwel af as ‘n versinning van mense se gedagtes. Daar is inderwaarheid selfs prominente teoloë wat die duiwel wegpraat as ‘n fabel. Hy is ‘n werklikheid en hy is bitter gevaarlik, net soos daardie leeus. Boonop is hy briesend kwaad, want talle van sy prooi is van hom “gesteel” deur Jesus Christus. Ek is een van hulle! So is daar talle ander sondaars wat uit sy kloue geruk is, net soos daardie sekuriteitswag in Marloth Park.

Dit gebeur dikwels dat onverskillige mense in die wildtuin by leeus uit hulle motors klim. Sodoende tart hulle die dood, en sommige het al aan die kortste end getrek. Die duiwel laat ook nie met hom speel nie, en as jy met die duiwel se dinge heul, gaan jy ook tweede-beste daarvan afkom! Op ‘n radiopraatjie hoor ek eenmaal hoe ‘n vrou vertel dat sy ‘n heks is, en dat hulle eintlik baie goeie mense is, wat mense genees en goeie dinge doen. Dis duiwelswerk! Dis bitter gevaarlik!

Rig eerder jou gedagtes op God en volg die riglyne wat Petrus hier neerlê. As jy ‘n leier in die gemeente is, wees dan toegewy aan jou taak om die kudde te versorg. As jy jonk is, wees aan ouer mense onderdanig. Wees nederig; help mekaar; onderwerp jou aan God; vertrou al jou bekommernisse aan Hom toe. In kort: leef jou liefde uit teenoor jou naaste sowel as teenoor God.

Drie dinge moet ons onthou:

1. Die duiwel en sy weermag sal alles in sy vermoë doen om jou as kind van God te probeer verlei, en inderdaad is hy nie ‘n swakkeling nie maar ‘n sterk brullende leeu wat ongelowiges verslind.

2. Jesus het die oorwinning oor die duiwel behaal met Sy kruisdood. Alhoewel die duiwel gevaarlik is, kan hy jou nie uit Jesus se arms ruk as jy ‘n gelowige is nie.

3. Deur naby aan God te leef vergroot jy die afstand tussen jou en die duiwel, want in God se teenwoordigheid kan hy net eenvoudig nie bestaan nie.

Gebed:

Here Jesus, hou my digby U en hou my waaksaam teen die duiwel se slinkse verleiding!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026