Romeine 15:14-21
Die dominee staan opgewonde en rondtrippel voor die gemeente wat vanoggend maar al te stadig na sy sin by die byeenkoms aangedrentel kom. “Wat makeer hom vanmôre?” stamp een kêrel aan sy maat.
“Nee jong, ek het hom nog nooit so opgewonde gesien nie - lyk amper of hy ‘n brief by hom het.”
“Toe, toe, maak ‘n bietjie vinniger!” por die dominee die laatkommers aan.
Gewigtig maak hy keelskoon: “Ek het vanoggend hier in my hande ‘n baie belangrike brief van ‘n baie belangrike persoon,” probeer hy so statig as moontlik sê, maar plek-plek breek sy stem van pure opwinding, want hierdie brief brand behóórlik sy vingers. “Dis ’n brief van niemand anders nie as Paulus!” Die gemeente snak hoorbaar na hulle asems, en daar gaan ‘n dreuning van stemme deur die vertrek.
“Paulus wie?” wil een kêrel weet. “Ken ons hom?”
“Ja man, hy is mos die groot sendeling!” praat ‘n man hom aan agter uit die vertrek uit.
Dit was ‘n baie, baie lang kerkdiens daardie dag, en met monde wat oophang van verwondering luister die gemeente, en drink elke woord in van die groot sendeling, Paulus. ‘n Paar keer moet die dominee orde probeer skep as Paulus se opmerkings op baie seer liddorings trap, en iemand protesteer. Maar diep binne-in hulle weet almal dat hy reg is. Paulus se boodskap sny diep in die gemeente in, en as die slot van die brief uiteindelik aanbreek, weet elke lidmaat dat hy vandag kos gekry het vir sy siel.
Is dít dalk hoe Paulus se brief aan die Romeine die héél eerste keer ervaar is, daardie dag toe die seël vir die eerste keer gebreek is? Dit is ‘n besonderse lang brief, en wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat dit ‘n uitermate lang briefslot het met ‘n ellelange groetelys. Meeste van die mense wat daardie oggend by was toe die brief voorgelees is, het Paulus nog nooit ontmoet nie, en sommige het waarskynlik nog nooit eers van hom gehoor nie. En hier kom praat hierdie man die oggend sommer bitter reguit met hulle. Party mense moes seker maar gevoel het dat hierdie vreemde man darem baie arrogant is om so met hulle te praat! Dis seker een van die redes hoekom Paulus so ‘n lang slot in sy brief skryf, en so ‘n ietsie oor homself vertel.
Hy begin deur terug te keer na die tema waarmee hy die brief begin het, die genade van God, die genade dat hy as apostel geroep is. Dieselfde genade gee hom ook die vrymoedigheid om hierdie baie reguit brief te skryf aan ‘n klomp mense wat hom nie eers persoonlik ken nie. Hiermee sê Paulus vandag ook vir ons dat as ons deur God geroep is om ‘n bepaalde taak te verrig, moet ons dit met volle vrymoedigheid aanpak. Ek het sélf al ‘n paar baie arrogante dinge vir jóú gesê, al ken ons mekaar van g’n kant af nie! Inderdaad is daar mense wat my kwalik neem hiervoor. Soms sê hulle dit reguit vir my, maar meeste lesers kyk by my verby en sien die ware Skrywer, die Heilige Gees raak.
Alhoewel Paulus baie reguit was in sy brief, was hy ook baie taktvol en versigtig om niemand in die gesig te vat nie. Let mooi op hoe Paulus se sielkunde werk: “Ag, ek weet mos dat julle ‘n omvattende kennis besit." Hy smeer hulle eintlik 'n bietjie heuning om die mond, sodat hulle goed voel, en die dinge wat hy sê as ‘n paar aanvullende ou puntjies kan beleef. As ‘n man beterweterig sy ideologie op my kom afdwing, slaan ek toe soos ‘n mossel. Maar as hy my laat voel asof ek die dinge wat hy sê alreeds weet, dan is ek ontvanklik daarvoor. Met hierdie soort beskeidenheid oortuig Paulus sy lesers om die dinge wat hy skryf te aanvaar en uit te leef.
Beskeidenheid beteken egter nie dat jy totaal in die agtergrond skuif nie. Paulus vertel met ‘n breë bors hoe trots hy is op die diens wat hy verrig. Daar is egter ‘n baie groot voorwaarde: hy is trots IN JESUS CHRISTUS op sy diens. Hy besef maar al te goed dat hy sonder Jesus niks kan doen nie. Op dieselfde wyse is ek baie trots op hierdie oordenkinge wat die afgelope agtien jaar die wye wêreld ingestuur word. Ek vertel vir almal wat wil hoor daarvan, in die hoop dat hulle ook sal inskryf en dit nóg wyer versprei. Terselfdertyd is ek maar al te bewus van die feit dat ek nie ‘n enkele een van hulle sou kon skryf uit my eie krag en kennis nie, en dat die Heilige Gees die éintlike Outeur is.
Kan jy ook met reg sê dat jy trots is op die koninkrykswerk wat jy doen? Om dit te kan sê moet daar twee elemente by betrokke wees: jy moet weet dat jy pligsgetrou jou álles gee vir die saak, en behóórlik skouer aan die wiel sit. Die ander baie belangrike element is dat jy deeglik bewus moet wees dat dit nie om jóú gaan nie, maar om Jesus Christus, en dat jy dit alleen kan doen deur die krag van die Heilige Gees.
Gebed:
O Here, hou my asseblief nederig en op my knieë, maar pligsgetrou en trots op my koninkrykswerk.