Lukas 22:1-13
Die week sleep traag verby vir Petrus. Daar is 'n spanning wat opbou en Petrus merk 'n soort dringendheid by sy Meester. Hy het opgemerk dat die Meester sedert die verskriklike dag toe Hy die tempel gereinig het, nog nie 'n enkele genesing gedoen het nie. Hy is net die hele tyd besig om te preek en gelykenisse te vertel. En 'n ontstellende ding wat Petrus ook opmerk is dat Jesus allerhande profesieë maak. Hy het dit byvoorbeeld weer baie pertinent genoem dat die pragtige tempel afgebreek gaan word tot in sy fondamente! En Hy het weer 'n slag gepraat van die verwoesting van die stad Jerusalem. Hoe is hierdie dinge moontlik?
Maar die Meester het ook gepraat van die wederkoms van “Die Seun van die Mens.” Hy het al vir die manne verduidelik dat hierdie persoon eintlik Hy, hulle Meester is waarvan Hy praat. Petrus probeer sin maak van hierdie uitspraak van Jesus. Hy het verduidelik dat Hy doodgemaak sal word en na drie dae sal opstaan. Maar waarheen gaan Hy dan dat Hy weer moet kom? Petrus verstaan gladnie!
Jesus vertel egter vir die skare dat hierdie dag van Sy wederkoms 'n dag van groot verskrikking sal wees met reuse vloedgolwe en die hemelruim wat ontwrig gaan word. Mense sal beswyk van vrees. Maar Jesus se dissipels moet eintlik uitsien na hierdie dag, want dit is die groot dag van verlossing vir hulle.
Skielik tref iets vir Petrus - dis Judas, Iskariot se seun - hy het hom vandag nog nie met 'n oog gesien nie. Hy soek vergeefs na Judas maar hy skitter in sy afwesigheid! Hy wonder wat van die kêrel geword het. Die man was die afgelope paar dae so afsydig, hy wonder of Judas nie dalk iets onheiligs beplan nie.....
Eers die middag sien Petrus vir Judas ingesluip kom. Hy lyk skuldig.
Jesus roep die twaalf nader: “Julle het seker nie vergeet dat dit vandag die dag van die ongesuurde brood is nie. Ek wil hê dat julle vir ons die Paasmaaltyd gaan voorberei.”
“Meester, maar daar is 'n probleem.” Petrus is soos gewoonlik die segsman. “Ons manne het gewonder waar ons die maaltyd gaan hou, ons kan dit tog sékerlik nie in die Tuin van Getsemane doen nie?”
“Petrus, gaan in die stad in, daar sal julle 'n man kry wat 'n kruik water dra. Stap agter hom aan en wanneer hy by sy huis kom, sê julle vir hom dat julle vanaand die Paasmaaltyd in sy huis wil hou. Sê vir hom dat julle Leermeester vra waar die vertrek is waar julle die maaltyd kan hou. Hy sal julle na 'n groot bovertrek neem en daar moet julle die maaltyd voorberei.”
Petrus loop brom-brom saam met 'n paar van die ander na die stad toe: “Sê nou net ons kry nie die man nie. Sê nou net hy weier. Sê nou net.....”
Maar hulle kry alles presies soos die Meester vir hulle gesê het: die man met die kruik, die bovertrek, alles! En Petrus voel skaam dat hy alwéér so kleingelowig was.
Hulle gaan koop 'n lam en Judas lyk sommer baie suur wanneer hy daarvoor moet betaal. “Wat is fout met die man?” wonder Petrus. Die lam word geslag en die manne bak ongesuurde brood – nou nie die lekkerste ding op aarde nie! Maar dit is wat die voorskrifte sê en so word dit al die afgelope duisend jaar gedoen.
Daar word vandag maar min gesels, en almal werk in stilte. Petrus voel die spanning opbou tot 'n hoogtepunt. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar hy voel aan sy bas dat daar vannag iets verskrikliks gaan gebeur.
Uiteindelik, nadat die son alreeds laag gesak het, is alles gereed vir die Paasmaaltyd. Die lam is geslag en voorberei volgens die voorskrifte. Die brood is gebak en die warm brood lê op die tafel. Daar is bitter kruie en 'n beker wyn. Rondom die tafel is daar kussings gerangskik waarop die manne kan sit wanneer hulle eet. En daar is 'n skottel met water om hulle voete mee te was. Alles is gereed, en nou wag hulle net dat die Meester moet kom.
Wanneer ons oor twee weke op Goeie Vrydag die oggend in die kerkgebou instap, dan sal die nagmaaltafel óók gereed staan. Is daar ook alreeds by jou 'n spanning wat opbou vir Goeie Vrydag? Daar is 'n amper-vrees wat alreeds op die krop van my maag sit, 'n soort ongemaklikheid, want die herdenking van Jesus se marteling en Sy kruisiging is byna op hande. Dit is iets wat opbou totdat dit op Goeie Vrydag 'n hoogtepunt bereik. Net soos wat die opbou na Kersfees vir 'n kind 'n opgewondenheid gee van groot afwagting, so is daar hierdie groot afwagting wat in my opbou.
Die Paasgebeure is nie maar net 'n storie nie, dit is 'n werklikheid. Nie alleen glo ek dit omdat dit in die Bybel so opgeteken is nie, maar dit is ook 'n historiese feit. Verskeie geskiedskrywers van daardie tyd het daaroor berig. Seker die belangrikste van hulle was Josefus, 'n Joodse geskiedkundige wat in Rome gewoon het. Ander groot geskiedkundiges wat daaroor berig het was Thelbus en Tacitus. Maar vir my is dit nie van belang nie, want ek glo met my hele hart want die Heilige Gees het my daarvan oortuig. En dit is 'n integrale deel van my lewe, want daar is 'n verhouding tussen my en Jesus!
Gebed:
Here, wanneer ek weereens oor die Paasgebeure dink, bring dit 'n beklemming om my hart. Ek kry seer as ek dink hoe U vir my moes ly. Dankie dat ek met groot opgewondenheid kan uitsien na U wederkoms!