Die Bitter-Soet Boek

29 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Bitter-Soet Boek

Openbaring 10:1-11

Johannes se visioene raak al hoe meer intens. Eers is dit die asemrowende troonsaal van God. Daar sien hy hoedat ‘n boekrol wat met sewe seëls verseël is, aan die Lam oorhandig word om oop te maak.

Wanneer Hy die eerste vier seëls oopmaak, is daar telken ‘n perd met ‘n ruiter, eers ‘n spierwit perd, toe ‘n vuurrooie, toe weer ‘n swarte en die laaste perd was vaal, en sy ruiter se naam, Die Dood!

Die vyfde seël het die siele onthul van diegene wat gedood is omdat hulle aan God getrou gebly het. Toe kom die sesde trompet, en die aarde word in chaos gedompel deur ‘n magtige aardbewing, sonsverduistering en sterre wat neerstort. Wanneer die sewende seël egter oopgemaak word, sak daar ‘n doodse stilte neer.

Die volgende visioen wat Johannes sien, behels sewe engele met sewe trompette. Elke keer as een van die engele op sy trompet blaas, volg daar grootskaalse verwoesting, hael en vuur wat ‘n derde van die aarde verbrand, vuurspuwende berge, ‘n ster wat van en ‘n deel van die aarde verswelg. Dan volg die son en maan wat gedeeltelik verwoes word. Die vyfde trompet laat sprinkane vry met angels soos skerpioene wat ongelowiges pynig. Die sesde trompet is egter die ergste, want dit bring ‘n magtige leër van ruiters op perde wat vuur spoeg en doodmaak wat voorkom.

Na die sesde trompet is daar vir Johannes ‘n dubbele tussenspel - ‘n klein boekie wat Johannes moet eet en die twee getuies. Alles begin by ‘n engel wat Johannes uit die hemel sien neerdaal. Hierdie engel is in diens van God, en sy hele beeld straal dit uit. Hy is deur God gestuur om ‘n boodskap van hoop te kom bring vir die verdrukte kerk. Johannes sien hoedat hy wydsbeen gaan staan oor die land en see. Dit is natuurlik simbolies van sy omvattende posisie. Dit is voorwaar ‘n asemrowende figuur wat getuig van groot krag en gesag. Sy sending dra dus Goddelike sanksie.

En dan is daar die oop boekie: hierdie is eintlik ‘n onverseëlde boekrol wat hy in sy hand hou, soortgelyk aan die groot boekrol wat Johannes in ‘n vorige visioen gesien het. Hierdie Boekie is eintlik ’n kleiner weergawe van die groot Boekrol, en is die testament van die toekomsgebeure.

Wanneer die engel praat, dan is dit met groot gesag, en sy stem is baie hard, soos die magtige stem van ‘n leeu wat brul.

As hierdie engel praat, dan antwoord die hemele in sewe donderslae wat sy Goddelike gesag bevestig. Johannes wil alles neerskryf wat hy hoor, maar ‘n stem uit die hemel belet hom - dit is nog ‘n geheim. Dan kondig die engel aan dat daar nie meer tyd oor is nie. Die sewende trompet gaan weergalm, en dit sal die finale einde inlui. Hy bevestig dit met ‘n eed, sy regterhand na die hemel uitgestrek, soos die voorskrif is om ‘n eed af te lê. Die verborge bedoeling (die volle raad van God) sal dan in vervulling gaan. Die einde is naby! Alles en almal het nou hulle Godgegewe betekenis bereik.

Maar dan kom daardie moeilike opdrag aan Johannes: ‘n Stem uit die hemel sê vir hom dat hy die oop boekie by die engel moet neem en dit opeet. Deur hierdie simboliese daad, neem Johannes nou aktief deel aan die eindgebeure. Hierdie boek smaak soet soos heuning, en nadat hy dit geëet het moet hy die Woord van God aan Israel gaan verkondig. Die profeet moet dus eers die boodskap verteer - hy moet dit met ander woorde sy eie maak voordat hy dit kan vertel.

Johannes se boek is soet soos heuning, maar as dit in die maag kom is dit bitter. Dit wil vandag vir ons sê dat dit heerlik aangenaam is om die Woord van God te lees en dit te bestudeer, maar wanneer dit by die verkondiging kom van dit wat jy jou eie gemaak het, dan is dit nie so maklik nie. Om die Woord te verkondig is veeleisend, en dit gaan dikwels gepaard met bitter moeilike teenstand.

Johannes se opdrag is dan ook om God se boodskap te gaan verkondig. Sy boodskap raak die hele wêreld - volke, nasies, tale en konings. Weereens is dit God se onmeetlike genade wat na vore kom, wanneer Hy die wêreld steeds geleentheid gee om hulle tot God te bekeer voordat die finale oordeel kom.

Dit is asof God vandag ook Sy hand op my en jou skouer plaas, en ons aanspoor om Sy Woord aan elkeen waarmee ons in aanraking kom te gaan vertel. Wat ‘n wonderlike voorreg! Ons is gevul met die heerlike soet smaak van die Woord, maar ons moet ons regmaak om ook die bitter van verwerping te kan ervaar, wanneer mense God se Woord in ons gesigte teruggooi.

Gebed:

Dankie vir die heerlike voorreg, Here, dat ek ook u Woord kan versprei oor die hele aarde. Ek wil vra dat U asseblief vir my deure sal oopmaak sodat die Woord wyd en syd sal weerklink, en dat almal sal weet van U groot genade en liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026