Lukas 8:26-39
Genade is om verlos te kan word van die kettings waarmee die duiwel jou bind. Wanneer jy só 'n genade ondervind, verander dit jou lewe totaal, sowel as die mense met wie jy in aanraking kom!
Jesus en die twaalf het van Kapernaum, aan die noordelike oewer van die See van Galilea met ‘n vissersboot gevaar na die suidelike punt van die meer waar die landstreek van Gadara geleë was. Skaars het hulle voet aan wal gesit, of ‘n groot “storm” tref hulle in die gestalte van ‘n besete man wat kaal op hulle afstorm.
Jesus en sy dissipels het hulle hier in 'n heidense gebied bevind in die land van die Geraseners, deel van die sogenaamde Dekapolis, oftewel “Tien Stede”. Die Joodse wette het dus gladnie hier gegeld nie, en die mense het selfs met varke geboer, iets wat elke goeie Jood met afsku sou vervul!
Grootoog sien die dissipels hierdie uitgeworpene van die samelewing op hulle afstorm. Omdat niemand hom naby hulle wou hê nie, moes hy maar sy lêplekkie tussen die grafte kry. Sy onbeheerste optrede het daarvoor gesorg dat die inwoners hom met kettings probeer boei het om hom in bedwang te hou, maar hy het bloot die kettings gebreek!
Die twaalftal deins verskrik terug van die angswekkende man met sy wilde oë en gekoekte hare en baard. In skrille kontras hiermee sien ons vir Jesus wat doodkalm teenoor hom optree en bloot vir hom vra wat sy naam is. Vir die dissipels is dit ‘n traumatiese ervaring. Boonop moet hulle hoor dat die man Jesus aanspreek as “Seun van God, die Allerhoogste”. Hulle sluk sélf nog maar swaar aan hierdie gedagte, en nou kom ‘n besete heiden en blaker dit uit! Wat hulle egter nie besef nie, is dat dit die duiwelse demone in die man was wat met Jesus praat deur die man se liggaam te gebruik. Natuurlik ken die duiwel en ál sy demoniese aanhangers vir Jesus baie goed. Hulle weet presies wie Hy is! Hulle sal Hom egter nooit dien nie, want die duiwel wil sélf op die troon sit!
Die vraag is, of iemand Jesus kan ken maar steeds verdoem kan wees tot die ewige verderf? Inderdaad ja! Voordat jy jou lewe aan Jesus toevertrou het en in Hom as jou persoonlike Verlosser glo, het jy nie die saligheid nie! Selfs al weet jy álles van Hom af!
Die man, oftewel die demoon wat besit van hom geneem het antwoord dat sy naam “Legio” is, dit beteken “Baie”. Die Latynse woord “legio” verwys na ‘n afdeling of legioen van tussen 3’000 en 6’000 soldate in die Romeinse leër. Die man se lewe word dus oorheers deur ‘n groot aantal demone.
Die demone wil niks met Jesus te doen hê nie. Hulle wil net alleen gelaat word en Jesus se teenwoordigheid is vir hulle ‘n groot bedreiging. Wanneer hulle egter in ‘n hoek gedryf word, smeek hulle om eerder na die varke verban te word. Die varktrop sit skielik op loop wanneer die demone in hulle invaar, en die mense van die omgewing moet vreesvervul toekyk hoedat hulle hele trop oor ‘n afgrond stort en in die see versuip.
Weereens sien ons God se groot genade wanneer Hy hierdie heiden uit die kloue van Satan ruk en hom bevry van die bande van die Bose! Sy eerste reaksie is om te vra of hy by hulle groep kan aansluit om Jesus te volg. Jesus staan egter nie sy versoek toe nie, want Hy het 'n belangrike taak vir hom. Hy moet terug na sy eie mense om hulle van Jesus te vertel!
Die inwoners van die streek smeek Jesus egter om liewer hulle land te verlaat! Hulle is meer besorg oor hulle finansiële verlies as oor die besetene wat hier voor hulle oë genees word en ‘n splinternuwe lewe kry!
Hierdie verhaal laat ons met baie vrae. Daar is egter baie vraagstukke in die Bybel waaroor ons maar net kan raai, want ons ken nie God se volle raadsplan nie. Waarom het Hy nie die demone direk die verdoemenis ingestuur nie? Die see is destyds gesien as die woonplek van die bose. Met die varke wat die see ingestort het, is die duiwels dus teruggestuur na hulle woonplek!
Wat ons dus kan sê, is dat dit beslis ‘n oorwinning oor die duiwel was, maar dat die finale slag nog gelewer sal word, en dan sal dit ‘n baie groot slagting vir die duiwel en sy demone wees!
Hierdie man het ‘n baie groot taak op hande gehad om die evangelie aan die mense van sy omgewing uit te dra. En wát ‘n taak was dit nie! Hy moes die mense wat voorheen in vrees van hom af weggevlug het, nou gaan oortuig dat Jesus die Verlosser is! ‘n Paar jaar later, toe die vervolging van Christene in Jerusalem op die ergste was, het die gelowiges gevlug. Baie van hulle het skuiling gevind in hierdie einste streek en hulle was daar met ope arms ontvang. Waarom? Ek glo dat die mal man wat eens kaal in die begraafplaas gebly het, sulke goeie sendingwerk gedoen het, dat almal daar ryp was vir die Evangelie toe die groot stroom Christene daar aankom.
God se raadsplan is oneindig groter as ons gedagtes! God se genade is baie groter as wat ons óóit sal kan begryp!
Gebed:
Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou! Maar meer nog, dat ons net weereens kan besef hoe groot en onbegryplik U genade is!