Die Besetene in die Sinagoge

18 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Besetene in die Sinagoge

Markus 1:21-28

VIDEO | OUDIO

Opgewondenheid tintel deur Simon se are wanneer hy en sy drie vissersmaats saam met Jesus stap op pad na Kapernaum. Hulle hang letterlik aan Sy lippe, want Hy praat so boeiend. Baie gou vergeet Simon totaal van sy aanvanklike skeptiese gedagtes oor hierdie dissipelskap. Vir die eerste keer in sy lewe begin dinge vir hom sin maak. Hulle kom nie eers agter dat die son besig is om te sak en dat dit so byna tyd is vir die Sabbat nie. Hulle kom dan ook nét betyds in Kapernaum aan voor sononder.

Uit gewoonte sit Simon sy Sabbatgesig op en gedra hom stemmig, soos dit elke goeie Jood betaam. Hy voel half kriewelrig dat hulle nuwe Leermeester hom blykbaar nie steur aan die ongeskrewe reël dat jy op die Sabbat so min as moontlik sê of doen nie. Hy gaan aan asof dit 'n doodgewone aand is. “Watter soort Rabbi is Hy dan?”

By die huis aangekom, vertel Simon opgewonde vir Vroulief van sy ontmoeting en dat hy besluit het om hierdie Profeet Jesus se leerling te word.

“Maar wat van jou werk?” wil sy weet, “Wanneer gaan jy visvang as jy heeldag agter 'n Profeet aanloop? Waarvan gaan ons lewe?”

“Die Here sal voorsien!” verduidelik hy vol selfvertroue.

“En daar is 'n ander ding,” deel sy hom mee, “ek is bekommerd oor my ma, sy is nie lekker nie – daar is groot fout met haar.”

Daardie nag maak Simon feitlik nie 'n oog toe nie. Aan die een kant sy bekommernis oor sy skoonma se siekte en aan die ander kant die opgewondenheid oor sy nuwe dissipelskap. Dan is daar boonop die onsekerheid wat aan hom knaag. Hy lê heelnag en rondrol.

Die dag breek skaars, of Simon is uit die huis uit op pad na Jesus. Dié is al lankal op en hy groet met 'n vrolike “Shalom!” Een-vir-een kom die ander manne ook aangedrentel. “Wat gaan ons vandag doen?” wonder hulle. Jesus lees hulle gedagtes - “Kom saam met my na die Sinagoge toe,” nooi Hy hulle uit.

Wanneer hulle by die Sinagoge aankom, begin Jesus dadelik met die manne gesels. Hy leer hulle uit die Skrifte en almal hang aan Sy lippe. Simon verluister hom oopmond aan alles wat Jesus sê. Die Skrifgeleerdes wat gewoonlik preek maak sy eenvoudige vissers-kop hééltemal deurmekaar. Hulle praat gans te hoog vir hom. Vir die eerste keer in sy lewe hoor Simon nou dieselfde dinge só eenvoudig dat hy elke woord daarvan verstaan. Skielik maak die Skrifte vir hom sin – kry hulle lewe!

Maar dan word Simon skielik wreed uit sy euforia geruk wanneer iemand die Sinagoge binnestorm en verskriklik aan die skreeu gaan. Hy wys sy voorvinger reguit na Jesus en dan skreeu hy manies: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret?”

“Vat die man uit, hy's mal!” skree een van die manne.

Hulle gryp hom vas maar hy is so sterk soos 'n os. “Het U gekom om ons te verdelg?” Hy gil waansinnig sodat dit weergalm deur die sinagoge. Simon is sommer dadelik op sy perdjie – hoe durf hierdie vent só met sy Rabbi praat?

“Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” skree die kêrel terwyl skuim by sy mondhoeke uitborrel. Simon skrik as hy die man se oë sien – hulle is vlammend, wild, dierlik.

Dan hoor Simon sy Meester se stem, skerp maar heeltemal bedaard: “Bly stil en gaan uit hom uit!”

Die volgende oomblik begin die besete man stuiptrekkings kry en dan skreeu hy een laaste maal baie hard. Dan skielik is alles verby. Totaal verdwaas kom die man tot sy sinne. Hy is hééltemal normaal en sy oë is rustig.

Simon kan nie glo wat hy so pas aanskou het nie. Almal ken hierdie besetene en almal is vrek bang vir hom. Vir die héél eerste keer is hy nou rustig en so normaal soos enige ander man. “Wat gaan hier aan?” wonder Simon hardop, “Selfs die bose geeste is gehoorsaam as Hy praat!” Simon se gesag vir sy nuwe Leermeester kry sommer baie meer waarde. En dáár en dan besluit hy dat hy beslis die regte keuse gemaak het om Jesus se dissipel te word. “By Hóm sal ek staan deur dik en dun!” sê Simon vir homself.

Die woord versprei soos 'n veldbrand oor hierdie berugte besetene wat skielik gesond is. Regoor die hele Galilea is Jesus, die Wonderprofeet eensklaps op almal se lippe en Simon se hart swel sommer van trots oor SY Leermeester. Maar in sy hart raak die kommer al groter oor sy skoonma. Haar toestand vererger by die dag. Wat gaan hy doen?

Die vraag is: moet ons eers 'n wonderwerk sien gebeur voordat ons besluit om Jesus waarlik te volg? Vir die eerste dissipels was dit waarskynlik nodig want hulle het gladnie geweet wie Jesus waarlik is nie. Ek en jy het alreeds van kleins af in die Bybel geleer wie Hy is en van die wonderlike dinge wat Hy gedoen het. Gister het ek die vraag gevra of jy bereid is om Jesus te volg? Vandag wil ek jou dus uitnooi om die stap daadwerklik te neem. Hy het ons boonop die Heilige Gees gegee om ons elke tree van die pad by te staan en krag te gee. Kom ons doen dit!

Gebed:

Here, ek wil U van vandag af onvoorwaardelik volg met my hele hart en siel en met my hele lewe. Wys my asseblief die pad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026