Openbaring 15:1-4
Waar presies daardie baaitjie was, kan ek nie onthou nie, want dit was baie jare gelede toe ek nog maar ‘n jong seun was. Maar dit was iewers in die Kaap tydens ‘n vakansie. Die manne wou gaan visvang, en daarvoor het ek nou nie juis lus gehad nie, maar vir die avontuur wou ek opsluit saampiekel.
Een van die plaaslike manne het saamgegaan om ons hierdie eksklusiewe visvangplek te gaan wys. Pa parkeer sy Landrover op ‘n hoogte waar die nou grondpaadjie ophou. Ver onder ons lê die pragtigste baaitjie, halfpad omring deur rotse en hoë kranse, met ‘n klein strokie spierwit sandstrand, en ‘n steil voetpaadjie wat aflei na onder.
My hart klop woes van opgewondenheid, en ek skarrel die paadjie af see toe soos ‘n wafferse ribbok, terwyl die manne nog spook met al hulle visgerei. Ek verwonder my aan die seelewe in die rotspoeletjies, meeste waarvan ek nog nooit in my lewe gesien het nie. In ‘n groterige poeletjie sien ek ‘n beweging. Dan loer ‘n kat-agtige oog vir my. Ek wink ons gids nader. Dis ‘n verkleurmannetjie-seekat! Hy vertel my in kleurryke taal dat hy met sy eie twee oë gesien het hoedat so ‘n seekat se kind oor die droë rotse hardloop. Ek kyk hom ongelowig aan, ‘n seekat kan mos nie hardloop nie?
“Nei, dis troe sê ek djou! Dit was nét toe die sonnetjie so oenner‘ie sie insak, toe spring daai siekat op en hy hol op die puntjies van sy armpies, soe op sy toontjies, ál oor‘ie klipperse!”
Ek was in ekstase, en ek kon nie wag vir sononder sodat ek ook ‘n seekat só kon sien hardloop nie!
Die manne het ‘n paar blinklywe gevang, en sononder het óók gekom. Maar wat ek daardie dag met sononder beleef het, was selfs baie meer werd as ‘n seekat wat op sy “toontjies” hardloop.
Die son het so skuins na regs oor die baai in die see afgesak. Die detail is diep in my geheue ingebrand, en ek sien dit vandag nog, na al die jare helder en duidelik voor my. Die lug getooi in fyn skakerings van geel en oranje, en soos die son laer sak raak dit al rooier en rooier. Die baaitjie lê daar so glad soos ‘n spieël, met slegs enkele klein golfies wat bloedrooi dartelend glinster in die sakkende son.
Twee dolfyne kom speel in die baai. Die oranje-rooi weerkaatsing van die son op die water omskep die baai in ‘n poel van vuur wanneer die dolfyne uitbundig uit die water spring en speel in die laatmiddag son. Alles lewe in ‘n kaleidoskoop van kleure wat vir géén oomblik dieselfde is nie. Die manne het al lankal opgehou om te hengel, en almal staan in verwondering oor die Goddelike vertoning, want dit is die enigste beskrywing wat jy daarvoor kon gee.
Dan moet ons baie haastig die steil bult opsukkel voordat die donker ons vang. Die seekat het toe nooit op sy toontjies oor die klipperse gehol nie!
Openbaring 6 het vertel van die sewe seëls wat oopgemaak is, waarin God se oordeelsvoltrekking openbaar gemaak is. Dit was as’t ware die inleiding om te vertel dat dit op pad is. Hoofstuk 8 vertel van die sewe trompette wat die dringendheid van hierdie oordeelsvoltrekking beklemtoon. Nou breek die finale voltrekking van God se oordeel aan oor die goddeloses. Die sewe bakke word uitgegiet. Die spanning bou op!
Hierdie laaste oordeel begin met ‘n groot en wonderbaarlike teken uit die Hemel, ‘n tipiese inleiding tot ‘n nuwe visioen vir Johannes, en dit beklemtoon dat dit van God af kom. Nie alleen sien Johannes die sewe engele wat die finale plae bring nie, maar hy sien ook ‘n asemrowende mooi toneel van ‘n spieëlgladde see met vuurvlamme wat daarin dans. En by die see staan die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld. Hulle speel op siters wat hulle by God gekry het, en hulle sing ‘n lied, die lied van Moses. Dit is ook die lied van die Lam.
Dit herinner my aan wat ek daardie dag by die baai beleef het. Johannes se visioen het dalk ook so gelyk. Die see simboliseer die Rietsee waardeur Israel getrek het om die wraak van die Farao te ontkom, en die vuur daarin, God se oordeel wat voltrek moet word. Net soos Moses en die volk ná hulle verlossing gesing het, sing die oorwinnaars ook nou ‘n lied, die lied van die Lam. Hulle sing hierdie oorwinningslied jubelend en borrelend, terwyl hulle God loof en prys vir sy groot en regverdige verlossingswerk en al Sy dade en optrede. Hulle eer God se heiligheid.
“Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.” Só weerklink die lied.
Gebed:
Here, saam met die oorwinnaars by die see wil ek U loof en prys, want U is inderdaad groot en wonderbaarlik! U is heilig en regverdig en genadig, en daarom val ek voor U voete neer in aanbidding.