Eksodus 34-40
Versigtig draai Moses die doek van sy gesig af. Nou is hy alleen hier in die tent van ontmoeting, weg van al die nuuskierige gesigte af. Nee, hééltemal alleen is hy beslis nie - hy is baie deeglik bewus van God se teenwoordigheid hier saam met hom. “Here, ek is so opgewonde!” begin Moses met God gesels terwyl hy sy gesig ontbloot. Moses se gesig is skitterblink - amper onmenslik. Dit is waarom hy deesdae met hierdie doek oor sy gesig moet loop sodat net sy twee oë uitsteek. Mense word bang vir hom as hy kaalgesig rondloop!
Moses dink terug aan al die gebeure van die afgelope tyd. Hy moet homself knyp om séker te maak dat alles nie nog maar net ‘n droom is nie, maar dan kom hy net weereens tot die besef van hoe werklik God is. God se Stem is nie maar net ‘n stem wat hy in sy verbeelding hoor nie - dit is so werklik as hy, Moses sélf!
Moses kyk na die plek waar die ark gaan staan wanneer dit klaar is. Hy kan nie meer wág dat Besaleël klaarkry met hierdie meesterstuk nie. “Here, dit gaan so mooi lyk!” jubel Moses terwyl die ou grysaard ‘n paar wilde bokspringe gee. Hy kyk vinnig om net om dóódseker te maak dat daar nie dalk iemand in die tent se opening staan wat hom kan sien nie. Dan gee hy weer so ‘n plesierige bokspring en klap sy hakke teenmekaar. “Waarom is U so goed vir my, Here? Wat het ek óóit gedoen om dit te verdien?” Moses is séker dat hy die Here saggies kon hoor lag, maar dit is seker maar sy verbeelding.
Daar het so baie dinge gebeur die afgelope ruk. Ja, hy was nogal ‘n baie besige man met al die reëlings. Alles het begin by daardie verskriklike laagtepunt na die teleurstelling van die goue kalf. Daar het die Here vir hom gesê dat Hy nie verder saam met die volk gaan trek nie. Hoe het hy nie gepleit by die Here om tog asseblief van plan te verander nie. En toe gebeur dit: Die Here luister na sy pleidooi. En toe was daar weer die onbeskryflike hoogtepunt, toe die Almagtige God in al Sy glorie en majesteit aan hom, armsalige Moses verskyn het! Ja, elke keer was die Here nog verberg in ‘n wolk of iets, maar hierdie slag...... Eers het Hy vir Moses opdrag gegee om weer ‘n slag die berg op te klim met twee gekapte plat klippe. Die voriges was toe mos stukkend gegooi daar by die kalf.
Daardie dag moes hy stoksiel alleen die magtige berg opklim met sy swaar klippe. En toe daal God na hom toe neer. Hoe wonderlik! Hoe asemrowend! Watter almag het hy nie daar ervaar nie! Nee, hy het God nie met sy twee oë gesien nie - dit sou sy dood beteken. Maar hy het die almag van God beleef.
“Ek is die Here,” het God se stem duidelik hoorbaar na hom gekom. “Ek is die barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe…..” Moses kry hoendervleis as hy terugdink aan daardie wonderlike dag. “Dankie Here,” prewel hy, “dankie vir U groot genade!”
Met ‘n glimlag op sy gesig dink hy aan die lang gesprek met God daar op die berg. Tyd het verbygegaan, en Moses het dit nie eers agtergekom nie. Ure het dae geword, en dae weke. Moses het nie geëet of water gedrink nie - dit was nie nodig nie. Hy het net geluister na wat God alles vir hom sê. In sy kop het hy prentjies geteken van wat God aan hom voorgeskryf het. Hy het gepraat oor verskillende offerandes en wetsbepalinge en hoe die Sabbat onderhou moet word. God het aan Moses verduidelik van ‘n heiligdom wat gebou moes word - ‘n tent van ontmoeting. Maar hierdie een sal anders wees as die enetjie wat Moses nou gebruik - hierdie tent sal ‘n sierraad wees vir die hele volk!
Dan verduidelik die Here van ‘n tabernakel, kandelare, ‘n altaar en waskomme. En natuurlik die ark! Die hoogtepunt van dit alles is die verbondsark wat die volk altyd moet herinner aan die verbond wat God met die volk gesluit het. Noukeurig het God aan Moses beskryf hoe hierdie ark moes lyk. Dit moes van doringhout gemaak word en dan oorgetrek word met suiwer goud. Daar moes goue ringe wees om dit mee te dra en ‘n deksel van suiwer goud, versier met twee goue gerubs. Daar was net een vakman onder die volk waaraan hy hierdie meesterstuk kon toevertrou - die meester-vakman Besaleël. Maar Besaleël moet darem nou wikkel - Moses kan nie meer wag vir daardie ark om klaar te kom nie!
“Waar was jy so lank?” onthou Moses nog sy broer Aäron se bekommerde vraag toe hy die dag daar van die berg afkom met twee splinternuwe tablette waarop die Here die verbondsbepalinge geskryf het. “En jou gesig? Wat makeer jou gesig?” Veertig dae lank was hy daar bo saam met God. En toe hy afkom het sy gesig geskitter. Dit wou net nie weggaan nie! Uiteindelik was Moses maar verplig om ‘n doek om sy gesig te draai, anders wou niemand naby hom kom nie!
Moses kyk op na die hemel. “Here God, dankie!” prewel hy. Vandag is die laaste keer dat Hy hier in sy ou tent van ontmoeting met sy Vriend kan gesels. More is die eerste dag van die eerste maand - dan gaan die splinternuwe Tent van Ontmoeting ingewy word. Alles is uiteindelik gereed - die nuwe tabernakel met sy goue rame en silwer voetstukke.
En die asemrowende ark. As Besaleël nou net wil klaarkry!
“Besaleël!!!!!!!”
Gebed:
Here, Ek moet elke dag besef dat U die Almagtige God is, maar U is ook my Vriend net soos vir Moses van ouds. Dankie dat U vir my so ‘n wonderlike, genadige, liefdevolle Vriend is!